Binne+Land is 'n onafhanklike nuusbriefplatform wat deur lesers ondersteun word.
Ons start-up-span is Anneliese Burgess op 'n Sondag (Rolbos), Piet Croucamp (Sondebok) op 'n Woensdag en Ali van Wyk (Warboel) op 'n Vrydag. Laureen Rossouw (Tiptol), en ander, kom later by.
Ons begin klein, maar ons het groot planne.
Jou belangstelling en jou e-pos registrasie maak dit moontlik vir Binne+Land om te bestaan. Ons is so bly jy is hier. Dankie!
Binne+Land is 'n plek van ontmoeting. En gemeenskap. En saam sin maak van die lewe en ons land en ons wêreld. Ons gaan lag en huil (en beslis soms baklei ook).
Ons lesers is sophisticated, belese mense wat kan hou van kos en reis en ’n mooi tafeldoek of die perfekte wit hemp en terselfdertyd belangstel in die RNE of die battlefield strategy van oorlog, of geskiedenis, of gek raak oor Putin of Ramaphosa, of meer wil verstaan oor wat by Transnet of Eskom aangaan, of in Britse of Duitse of Indiese politiek, of omgee vir die omgewing. Ons lesers is geïnteresseerd in landskap en taal en wyn. En boeke. Sommige van ons hou meer van nie-fiksie as fiksie. Of andersom. Ons harte is Afrikaans, maar ons lees wyd in Engels. Ons leef in die hede, en kyk na die toekoms. Ons kyk uit, maar ook in. En ons kan lag vir onsself. Ons doen Trump en tofu. Poësie, parfuum én politiek.
Siel en Suid-Afrika
Dít is die binne en die buite van Binne+Land. Ons binnewêreld + die buitewêreld waarin ons leef, en die draad wat die twee met mekaar verbind. In beautiful maar los, moderne Afrikaans wat sê ons is wêreldburgers. Daar sal soms Engels inglip of deurglip of doelbewus daar staan, maar ons is onbeskaamd Afrikaans en ons taal is ons vuur.
Piet Croucamp mag die "Jack Reacher van politieke ontleding" wees, maar die kwas waarmee hy in Afrikaans verf, kan hy jou onder die tafel, en in trane, inskryf. En so ook Ali van Wyk en Laureen Rossouw – albei het 'n ongelooflik unieke leksikon en manier van met woorde weef. Anneliese Burgess het Engelssprekende groot geword, maar Afrikaans aangeneem as die taal van haar hart. Sy sê:
"Afrikaans is vir my die gesuis van 'n boom in die donker. Die glimmende groen van 'n woudpapegaai se vere. Die swart en wit van 'n tarentaaltjievlinder. Afrikaans is vir my berge en veld. Afrikaans is my venster op vreugde en verlies. 'n Heilige algoritme waarmee ek sin maak van die derde hoofstuk van my lewe. Afrikaans is vir my poësie en betekenis en weerstand. Hamer en kwas en skalpel."
Dit is alles deel van die DNS van Binne+Land.
Ons mantra:
Geluk is ’n rigting.
Vryheid is ’n plek.
Curiosity is 'n taal.
En dié keer is dit persoonlik.