Dagsê, mede-Suid-Afrikaners, en dank die Vader dat ons min of meer uit die pad is van die swernote met die groot missiele.
Dit was só verfrissend om 'n pas verkose leier, Mark Carney, Kanada se nuwe eerste minister, in sy oorwinningstoespraak te hoor praat van die ware betekenis van demokrasie en die waardes van sy Liberale Party: nederigheid, ambisie en eenheid.
In 'n mate was dit net nog 'n voorspelbare politieke toespraak, en Carney bly net 'n gewone politikus (hy't die gehoor seker agt keer verseker van sy nederigheid …), maar in die konteks van die kolossale en absurde ontwikkelings in die wêreldmoondheid net anderkant sy grens, was dit 'n dapper en duidelike opsomming van wat die meeste redelike mense van volwasse leiers verwag. Dis soos wanneer jou ouboet of ousus se varkies skielik uit die hok ontsnap, en die persoon begin opstoppers in jou rigting gooi. Wat doen jy?
Trump is ernstig
Carney het geen twyfel daaroor gelaat dat Kanada vir die ergste voorberei en nie bloot hoop vir die beste nie. Hy't geen twyfel gelaat dat hy glo Donald Trump is agter Kanada se grond, hulpbronne en water aan nie, en dat Kanada dit nie sal duld nie: "President Trump probeer ons breek, sodat Amerika ons kan besit." Dis ongelooflike uitsprake in 2025. Dit herinner ons inderdaad aan 1939, en Mark Carney is volgens alle aanduidings nie 'n losprater nie.

Die groot vraag wat soos 'n aambeeld in die lug sweef, bly natuurlik: "Hoe gaan hy Trump keer wanneer Amerika se verwoestende oorlogmasjien oor die grens rol?" Toe ek klein was en my pa my die eerste keer Loftus toe gevat het, het die blou voorspelers en Naas Botha die WP afgeslag. Toe ons terugstap motor toe, het een oom lakonies opgemerk: "Soos poep teen donderweer."
Wie gaan help?
Daar is werklik nie veel wat hulle kan doen nie, behalwe om baie vinnig sterk alliansies met nuwe moondhede te smee, maar met wie? Die Verenigde Koninkryk en Europa is reeds daar, maar erken openlik hulle het hulle verdedigingsvermoëns verwaarloos en dit sal jare kos om dit weer op peil te kry.
Waarheen kyk die Kanadese? Sekerlik suidwaarts na Mexiko, onder soortgelyke bedreiging. Brasilië het sy eie worstelings met demokrasie, en Argentinië is ver en relatief swak. Wat van weswaarts? Nieu-Seeland en Australië is logiese lande vir alliansies, maar wat van die groot eilande van Suidoos-Asië, wat ook 'n mengelmoes verhoudings met demokrasie het?
Die grootste vraag is tans sekerlik waar Japan en Indië hulle uiteindelik gaan skaar, indien enigsins. As enigeen van die twee lande na China of Rusland neig, is die wêreld van voor af deurmekaar, en ek sal maar nie té windgat raak as ek Carney is nie.
Dit is egter belangrik dat hy sterk standpunt inneem. Vra enigiemand wat voor die krakende ou radio's in Engeland gesit en luister het na Winston Churchill tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Mag jou naweek besonder plesierig wees
Ali
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
[En, as jy hierdie in jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na heel onderaan hierdie brief en klik op die klein speech bubble wat sê "Comment".]
Warboel Beeldradio
Chef’s Table: Legends
Netflix | Skepper: David Gelb | Vier episodes
Daar's mense wat al der dagen sat is vir al die pragtige prentjies van kos wat soos kunswerke lyk op televisie. Pretensieuse kospornografie, reken hulle.
Hoewel ek ook nou nie juis 'n "fine diner" is nie, kan ek nie genoeg kry van sien hoe topsjefs kos maak nie. Ek was nog altyd mal oor Chef’s Table. Alles daarvan. Die ongelooflike produksie en redigering, die musiek en bowenal die onderwerpe wat gekies word.
Die nuwe reeks, Chef’s Table: Legends, bring hulde aan mense in die bedryf wat die manier waarop mense oor kos dink verander het. Dis weer eens uit die spens se boonste rakke. Die viertal is José Andrés, Thomas Keller, Alice Waters en Jamie Oliver.
Iets persoonliks oor Jamie Oliver. Ek het nie aan die begin geweet of ek so baie van hom hou nie. Maar sy ongelooflike verbondenheid tot sy werk, projekte soos onder meer die een vir skoolmiddagetes, sy toewyding aan die Italiaanse styl van kosbenadering en sy baie goeie en eenvoudige resepte het my ook uiteindelik 'n fan gemaak. Sy aangrypende storie hier bevestig alles.

The Golden Boy: Oscar de la Hoya
HBO Original | Showmax | Twee episodes | Regisseur: Fernando Villena
Die Meksikaans-Amerikaanse bokser Oscar de la Hoya het 'n suksesvolle professionele boksloopbaan gehad – om die minste te sê. Hy het 11 wêreldtitels in drie verskillende gewigsklasse gewen, wat hom 'n GOAT maak, soos die laaities sê. Wat die dokumentêr so aangrypend maak, is dat dit eintlik Oscar is wat sy eie storie vertel. Boksers fassineer my. Dit is mense wat bereid is om die ergste denkbare straf en risiko’s te vat, gewoonlik om uit hulle omstandighede te ontsnap. Dis wreedaardig.
De la Hoya is deesdae 'n suksesvolle promotor, en hy vertel die storie agter die storie. Die pyn, die hartseer, die verwerping, die mishandeling, sy eie sondes en demone. Hy vertel van die arm Meksikaans-Amerikaanse seuntjie sonder 'n ma wat skielik 'n multimiljoenêr word. Hy vertel van die spanning tussen die Golden Boy en die regte mens.

James May: The Reassembler
Prime Video | Dan Lewis | Eerste en tweede seisoen: sewe episodes
Hierdie is die soort televisie wat jy kyk as jy vir jou 'n Woensdag-vlak-enkelmout-sopie geskink het en net wil afskakel ná 'n harde dag. Hier is nie sprake van komplekse intrige of uitdagende breinspeletjies nie. Dis net James May, die hippierige, nerderige ou van die Top Gear-drietal – die een wat lyk of hy in die regte lewe die lekkerste ou sal wees.
Al wat hy doen, is om uit te pluis hoe om meganiese goed aanmekaar te sit, soos 'n ou Suffolk Colt-grassnyer in die eerste episode en 'n bakeliet-skakeltelefoon uit 1957 in die tweede, of ’n elektriese kitaar in die derde. Dis dit. Dis die hele idee. Selfs May erken dat dit nogal 'n flouerige idee vir 'n televisieprogram is, en hy wonder of 'n mens sal kan sê die program bestaan as geen enkele mens dit kyk nie, wat hy glo moontlik is.
Maar vir mense wat gereeld sukkel met meganiese goedjies, is dit eienaardig bevredigend om met 'n whiskey in die hand te sit en lag vir iemand anders wat sukkel, veral as dit so 'n pittige kalant is.
Net vir interessantheid het ek nagegaan of May enige ingenieurskwalifikasies het, maar nee. Hy het 'n graad in musiek aan die Universiteit van Lancaster verwerf. May het natuurlik 'n hele gros suksesvolle programme aangebied. 'n Ander een wat ek kyk, is sy kookprogram, James May: Oh Cook!, waar hy as 'n ou met basiese kookkennis die klassieke resepte aandurf. Seisoen twee gaan oor Franse kookkuns. Ou James is lekker vol grappies, en dis boonop nogal leersaam.
Warboel Huiswerk
Nee, dis nie regtig huiswerk nie, ek sal nóóit huiswerk gee nie. Dis net lekker aanbevelings soos prikkelende artikels, video's of podsendings wat ek deur die week teëgekom het en wil deel.
Hoe Trump dit gedoen het. Ons het almal Trump-fatigue, maar jy sal merkwaardig onoplettend moet wees om nie agter te kom nie dat dit 'n prestasie kort duskant 'n wonderwerk is as 'n politikus herstel ná die fiasko van 6 Januarie 2021 en dan weer president word van die magtigste land in die wêreld. Gee die duiwel wat hom toekom. The Atlantic het hulle topverslaggewers opdrag gegee om uit te vind hoe hy dit gedoen het. 'n Mens moet inteken op The Atlantic en dis nie goedkoop nie, maar dis op die oomblik die beste politieke en dieptenuuspublikasie in Amerika, dalk die wêreld. Dis die skille werd. Die uitgawe het ook 'n onderhoud met Trump.
Gewone mense se buitengewone stories. The Moth is 'n podsending waar gewone mense persoonlike stories vertel. Dis op 'n verhoog met 'n mikrofoon en gehoor, maar dis nié stand-up comedy nie. Dis egter in baie gevalle net so of selfs méér vermaaklik of aandoenlik as komedie. Die groep op Facebook is maklik om op te spoor.
Ryan Reynolds is 'n slim blikskottel. Gaan lees Ken Berenger se gesprekslyn op X oor Reynolds se entrepreneurstorie. Baie mense ken die Wrexham AFC-storie – die een oor die Walliese sokkerklub in die vyfde liga wat Reynolds en sy akteurstjommie Rob McElhenney in 2021 as 'n realiteitstelevisieprojek (Welcome to Wrexham op Disney+) gekoop het. Ek het destyds gedink dit is geniaal. Bekende filmsterre koop 'n sukkelende voetbalklub, belê behoorlike geld in die klub en raak persoonlik betrokke by die ontwikkeling en die gemeenskap. Wie gaan dit nie wil kyk nie? Watter borge sal dink dis 'n simpel idee? As jy dit reg doen, is dit amper 'n selfprojekterende idee as besigheid en as televisiefenomeen. Wel, Wrexham is so pas tot die Kampioenskapliga gepromoveer, die een net onder die Premierliga, waar Liverpool en Arsenal speel. Dit is verstommend. Hierdie storie kan nog soveel groter word …

Vivino – 'n lekker app vir gewone wynkopers. Ek is seker alle wynkenners ken Vivino, maar dis juis vir die gewone wynkoper, soos ek, wat tussen mielielande grootgeword het, wat dit so lekker werk. Ek staan gereeld voor die wynrakke en wonder wat om te koop. Al aanduiding wat ek het van wat goed is, is die prys, en die hoeveelheid medaljeplakkers op die bottel. Al twee daardie elemente is 'n algemene aanduiding, maar glad nie betroubaar nie.
Laai die gratis Vivino af. Al die beoordelings op die app word deur gebruikers gedoen, en daar is 70 miljoen gebruikers wêreldwyd. Kom ons kyk byvoorbeeld na Nederburg Lyric. Dis deur 2 123 mense beoordeel (as jy die proenotas lees, sal jy sien dis ingeligte wyners) en die gemiddelde puntetoekenning is 3,4 uit 5. Die aanbevole prys is R52 en jy kan ook die punte vir elke oesjaar sien. Die lekkerste kenmerk is dat jy net die bottel se etiket in die winkel kan afneem en dan spoeg hy dadelik vir jou die inligting uit.

Warboel Wysies
Joseph Haydn | Tjellokonsert in C majeur | Mstislav Rostropovich
Voordat ons by Joseph Haydn kom, die 20ste-eeuse Russiese tjellis maestro Mstislav Rostropovich (1927–2007) was dekades lank as die voorste interpreteerder van Haydn se twee beroemde tjellokonserte, en 'n groot deel van die res van die tjellorepertoire beskou. Luister net na die plofbare energie in die derde beweging (Allegro Molto) van die C majeur-konsert.
In 'n direkte uitvoering sal jy aan jou stoel moet vashou om nie weggeblaas te word nie. Ek het die Litauer David Geringas, een van Rostropovich se beroemde leerlinge, hierdie concerto sien uitvoer en nie veel verwag nie, want ons was op die goedkoopste galery-sitplekke doer agter in die Kaapstad-stadsaal. Hy’t egter die klank soos 'n laserstraal deur die saal geprojekteer. Dit was soos 'n bonatuurlike ervaring.
Slava, soos Rostropovich alom bekend gestaan het (dit beteken viering of glorie), was 'n hartlike en sosiale mens wat vrugbare verhoudings gehad het met Prokofiev, Shostakovich, Leonard Bernstein, veral die Britse Benjamin Britten, en nog baie ander komponiste.
Slava was openlik in weerstand teen die kommunistiese Sowjetregering en het sy lewe lank vir menseregte en demokrasie geveg. Hy het byvoorbeeld die anti-Sowjetskrywer Alexander Solzhenitsyn in die laat 1960’s vier jaar lank in sy dacha buite Moskou laat skuil.
Met die val van die Berlynse Muur het hy sy tjello gevat en 'n impromptu uitvoering gaan doen by Checkpoint Charlie om die Oos-Duitsers moreel te ondersteun.

In 1991, toe die nuut verkose president van die Russiese Federasie, Boris Yeltsin, in die parlementsgebou onder beleg was deur weerstandige kommuniste met tenks en soldate, het Rostropovich hom na Yeltsin gehaas om die beleg te help afweer. Hy het glo ook sy tjello gespeel op die parlementstrappe om die mense rondom Yeltsin op te beur, letterlik reg voor linies soldate en tenks. Sy teenwoordigheid was glo deurslaggewend om die gevaar af te weer.

Die Oostenrykse komponis Joseph Haydn was nogal verbasend baie soos Rostropovich, spitsvondig en lief vir mense, hoewel nederiger. Die feit dat almal hom liefhebbend Papa Haydn genoem het, gee 'n mens 'n idee van sy ruimhartigheid.
Papa se musiek is 'n mengsel van unieke humor, optimisme en saligheid, 'n versnit wat niemand hom kon nadoen nie. As jy dus neerslagtig voel …
Hy was 'n welbelese man wat gereis het en is op die toppunt van sy loopbaan as die beste komponis in Europa beskou. Hy't die groot barokkomponiste, J.S. Bach en G.F. Handel, se werk baie goed geken, aangesien hy ver met hulle oorvleuel het. Maar hy met Bach se seuns Carl Philipp Emanuel en Johann Christian geïdentifiseer, wat wegbeweeg het van die drama, ornamentasie en komplekse polifonie van barokmusiek na die elegante, gestroopte simmetrie van die klassieke periode.
Alles het meer spelerig geraak. Rococo, 'n ligte, elegante styl, het die mode geword. In plaas van verskeie melodieë wat kompleks saamgeweef is, het een melodie uitgestaan en die res van die harmonie was bloot 'n soort bed waarop dit gedryf het.
Haydn (1732–1809) was die eerste groot meester in hierdie styl, gevolg deur sy mede-Oostenryker Mozart, en die Duitse Beethoven, wat hy al twee geken het. Haydn was 'n vriend en mentor van Mozart en heimlik 'n groot bewonderaar van die veel jonger man, want hy kon natuurlik goddelike talent herken. Hy was ook 'n leermeester vir Beethoven, maar getrou aan sy kwasterige persoonlikheid was Beethoven nie altyd tevrede met Papa Haydn se lesse nie. Hulle het egter wedersydse bewonderaars gebly.
Vir sowat 30 jaar van sy lewe was Haydn die Kapellmeister vir die Hongaars-Oostenrykse Esterházy-familie. Hy het toegang tot 'n orkes en sangers gehad, en gereeld operas vir die Esterházys geskryf. Dis egter sy vaardighede en vindingrykheid met kamermusiek en veral simfonieë wat in hierdie tyd baie sterk ontwikkel het. Musiekmense meen hy's die vader van die simfonie.
'n Verstommende feit van Haydn se eerste tjellokonsert in C majeur (Hob. VIIb:1), een van die belangrikste tjellokonserte in die repertoire, is dat dit eers in 1961 in die Nasionale Museum in Praag ontdek is. Al twee sy tjellokonserte is waarskynlik vir virtuose in die Esterházy-orkes geskryf.
Ná die dood van sy weldoener, die Hongaarse prins Nikolaus II, het Haydn lang, vrugbare tye in Londen deurgebring waar hy reeds beroemd was.
Die Einde.🐕
Lid kommentare