Die helder stemme in die rumoer

ALI VAN WYK sê wat hom van Bernie Sanders tref, is hoe naby sy boodskap aan ene Jesus Christus van Nasaret s'n is. Alhoewel hy nie gelowig is nie, ken hy Christus se boodskap goed. Die essensie is dat jy jou vyande moet liefhê en jou naaste soos jouself. En vergifnis.

Die helder stemme in die rumoer

Beste afvalliges, aanvalliges, winkeldiewe, neurote, kombuisfilosowe en libtards

Kom na my toe, almal wat vermoeid en belas is. Ten minste kan ons saam murmureer.

Welkom by my eerste nuusbrief op Binne+Land. Ek hoop jy is so opgewonde soos ek!

Tussen 1984 en 1997 was die goue jare vir ondersoekende en politieke joernalistiek in Suid-Afrika, toe PW Botha en Magnus Malan hulle greep op mag verloor het; toe FW de Klerk die Rubicon oorsteek en saam met Nelson Mandela stotterend by 'n demokrasie uitgekom het.

Ons het als beleef, van die diepste wanhoop van die grusame Boipatong-slagting tot van die grootste politieke prestasies van die 20ste eeu toe ons 'n vreedsame demokratiese verkiesing hou én die gepaardgaande ekstase beleef. Vir 'n oomblik was ons Die Shit! in die hele wêreld!

[As jy hierdie op jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na heel onderaan aan hierdie brief en klik op die klein "speech bubble" wat sê "Comment".]

As dit nie bloei nie …

Ek het dit als beleef, maar eers in 1998 in 'n nuuskantoor beland. Net betyds vir die aanbreek van die vanilla-jare van die Suid-Afrikaanse politiek. Die Mbeki-jare. Maak geen fout nie, dit was nie slegte jare vir Suid-Afrika nie, dit was goed! Veral in nabetragting met Zuma wat op die agtergrond gewerskaf het op pad na sy verwoestende dekade.

But if it bleeds, it leads, en in daai jare was daar min bloed. Dis soms 'n verleentheid om die energie deur 'n nuuskantoor te sien spoel as daar byvoorbeeld 'n natuurramp is. Daar’s 'n storie! Ek het egter gedweë en getrou die opening van internetkafees in geborgde skeepsvraghouers in townships gedek.

Ek het met kinderlike bewondering gestaar as die WVK-joernalis Darren Taylor met hare tot op sy rug, cowboyhoed en leerjas by 'n kroeg in Melville ingestap het. Of ander lede van dié legendariese span wat in 1998 ontbind is omdat die Waarheid-en-versoeningskommissie se aktiwiteite aan die afneem was: Anneliese Burgess, Jann Turner, Antjie Samuel, Angie Kapelianis en die groot kokkedoor Max du Preez.

 'n Vergete droom

My loopbaan het in 'n ander rigting gespin – landboujoernalistiek, reisjoernalistiek, die vintage-meubelhandel … Toe, uit die bloute, kry ek in 2022 'n uitnodiging om vryskut vir Vrye Weekblad te skryf en 'n vergete droom word waar. Ná 'n jaar se vryskutwerk word ek permanent aangestel. En ek werk toe saam met die hardegatte wat in die eerste plek die saadjie by my geplant het om joernalis te word – Max, Anneliese en Jacques Pauw, wat toe net weg is.

Wat 'n mens tref van dié mense, veral van Max, is hoe helder hulle stemme in tye van wanorde, verandering en politieke onstuimigheid opklink. Al was Max altyd aktief het ek nie sy stem gaan soek toe dit goed gegaan het nie, maar in die later jare van Zuma het ek weer bewus geword van sy vermoë om deur die nonsens te sny en by die essensie uit te kom. Ek is bang vir die woorde "die waarheid", maar Max het die vermoë om die kaf van die koring te skei en 'n mens te help om jou eie opinie te vorm. Ek is dankbaar vir my kort tyd by Vrye Weekblad, en eindeloos trots dat ek deel van die avontuur en legende kon wees.

Welkom terug, Berns

Van die os op die jas. Wel, nie heeltemal nie. Daar is ook politici wie se stemme helder in tye van wanhoop opklink. Waar was Bernie Sanders in die Biden-jare? Kan nie onthou dat ek een keer na hom geluister het nie. En skielik, noudat Trump en sy bende die Amerikaanse regeringstelsel uit die kosyne ruk, is die helderste protesstem dié van 'n 83-jarige senator van Vermont, Bernard Sanders.

Gaan luister na sy toespraak in die Amerikaanse senaat verlede week. Nog ’n bewys van hoe ver die Westerse politiek se middelpunt oor 30 jaar na regs beweeg het, is die feit dat heel gematigde mense Sanders as ver-links beskryf.

Gaan luister na die logika, die helderheid, die outydse medemenslikheid, ook die woede en fierheid. As hy driftig raak, dink ek hy sal met een slag Trump se fucked up gehaarsproeide comb-over-kuif uit sy oranje kop kan pluk.

Wat my ook van Sanders tref, is hoe naby sy boodskap aan ene Jesus Christus van Nasaret s'n is. Ek is g'n gelowige nie, maar ek ken Christus se boodskap goed. Die essensie is dat jy jou vyande moet liefhê en jou naaste soos jouself. En vergifnis.

Sanders se grootste prioriteit is mense wat ly. Die armes. Die siekes. Die werkers. Hy wys op die simboliese betekenis van die drie rykste mense in die wêreld wat vyf treë agter Trump gesit het tydens sy inhuldigingstoespraak. Hy wys daarop dat werkersklasmense in Amerika se gemiddelde lewensverwagting sewe jaar minder is as die mense aan die bopunt. En al bestee Amerika die meeste per kapita aan gesondheidsorg, $14 000, is die gemiddelde lewensverwagting vier jaar minder as in meeste Europese lande.

Enige Baptis wat ordentlike Sondagskoollesse gehad het en Christus se basiese etiese kode ken, behoort instinktief vir Sanders te stem, maar tog stem meeste van hulle vir Trump. Dis nie net die Republikeine wat in Sanders se visier is nie, maar ook sy eie elitistiese voormalige party, die Demokrate, wat so klaaglik in die verkiesing misluk het en in so 'n groot mate deel van die probleem in Amerika geword het dat niks minder as totale hervorming die party kan red nie. Hopelik raak Sanders se stem sterker oor die volgende vier jaar, ook in die Demokratiese Party.

Die pad met Binne+Land

Binne+Land is 'n algeheel nuwe platform met 'n nuwe aanslag. Ek sal spoedig my stem hier vind – ek wil stories oor mense vertel en jou hopelik ’n paar keer in jou oggendkoffie laat stik.

Onderaan my brief gaan ek elke week lekker dinge deel wat ek ontdek het: kos, musiek, flieks, televisiereekse, vintage-meubels, grappies … ek het nie 'n PhD in énige van dié goed nie, maar ek het 'n nuuskierige kop.

Staan sterk kamerade, lekker naweek!

Ali


ALS WAT MY AANDAG TREK

Op die platskerm

Dope Thief op Apple TV+ is wat ek 'n "Oooo, shit"-reeks noem, want iewers in die derde episode gaan jy dit saam met die arme ouens op die skerm sê. Sulke reekse gaan oor kleingeld-skobbejakke, ouens nes ons gewone javels, maar iewers raak hulle die pad byster en maneuver hulleself per ongeluk by die groot liga in, sonder dat hulle dit agterkom. Die gróót, geváárlike liga, waar die georganiseerde psigopate en militêre-graad-sadiste uithang. Die “Ooooo, shit”-oomblik is wanneer hulle dit agterkom. Dis 'n spanningsmisdaadriller met baie vuurwapens en geweld, en dis baie, baie goed. Ridley Scott is die regisseur van die eerste episode.

Brian Tyree Henry as Ray Driscoll en Wagner Moura as Manny Carvalho in Dope Thief op Apple TV+.

The Studio, ook op Apple TV+. Nie almal is Seth Rogen-fans nie, en as luidrugtige cringe-komedie nié jou kannetjie koffie is nie moet jy in elk geval verbyhou. Na my mening is hy egter nommerpas vir sy rol. Die reeks het uitstekende ensemblespel en die fokus is dus nie heeltyd op Rogen nie. The Studio is 'n komiese satire van Hollywood se studiostelsel. Rogen word skielik en onverwags aangewys as studiohoof, waar die druk uiters groot is om massiewe lokettreffers met vele borge uit te pomp. Maar hy droom van kunserige flieks … en is ook geneig tot verblindende oordeelsfoute. Geniet.

Tyd om te tand

Die oorlede Amerikaanse celebrity-sjef Anthony Bourdain se toptoebroodjie is 'n onder-die-pale-wenner, en maklik om te bou.

My pellie Charles sê hy eet nie sommer enige polonie nie, hy eet net FRANSE polonie. Blerrie hanswors.

Ek lees nou die dag koskameraad Bourdain se gunstelingtoebroodjie was 'n eenvoudige een met mortadella, 'n bietjie kaas, mosterd en mayo. Mortadella is die ryk man se polonie, net beter vleis.

Ek vertrou nogal dié oorle lieplapper se voorkeur vir onpretensieuse, hartlike kroegkos eerder as kunskos wat met tweezers op 'n bord gerangskik word. Die ou kon per slot van rekening liries raak oor 'n T-been en chips met 'n koue bier in die regte Franse kroegie.

Ek dog toe ek toets dié toebroodjie op my avontuurlike sussie uit, wat uit die Moot in die Kaap kom kuier, maar dink jy jy kan jou hande op mortadella kry? In die Kaap, wat veronderstel is om deesdae 'n kosmekka te wees?

Mortadella is van die bekendste Italiaanse salumi of beleë vleise – fyngemaalde varkvleis in 'n baie dik wors met duidelike stukkies vet in (lardelli), gewoonlik met stukkies gekraakte peper en soms pistachio-stukkies. Die groot wors word gekook en dan lig gerook.

Sommige meen die naam verwys na die vysel (mortar) waarin die vleis destyds fyn gestamp is en ander reken dis aanvanklik van mirtebessies (farcimen murtatum) gemaak.

Ek bel al die deli’s naby my wat ek ken, wat vark verkoop – Joostenbergvlakte, The Vineyard, selfs Woolworths, geen geluk. Maar die slagters sê vir my die groothandelaar is Gastro Foods in Parow Industria.

Gastro se verkoopsbestuurder, Veronique, is onthutsend vriendelik op die foon en sê sy sal vir my 'n uitsondering maak en "net enetjie aan my verkoop", ek moet dit kom afhaal. En so sit ek en my sussie af Parow Industria toe na die Gastro Foods-fabriek, deur drie veiligheidshekke en oor twee grysbaksteenvlaktes, tot voor die verbysterend vriendelike Veronique, net 3 voet hoog, in die foyer. 'n Man in ’n hazmat suit en met 'n haarnetjie plak 'n doos met my naam daarop op die toonbank neer. Dis groot genoeg vir 'n weed eater.

Hulle verdwyn soos mes en dis net ek, die ontvangsdame en die opstopper van 'n faktuur wat om die beurt na mekaar staar. Ek betaal skaapagtig en lig die doos op my skouer. By die bakkie loer ek na die faktuur. Ek is die trotse eienaar van VIER VERDOMDE KILOGRAM rykgat-polonie. My sussie lê soos sy lag.

Vir Bourdain se broodjie het jy 'n stewige broodrolletjie nodig, soos ’n Portugese een. As jy nie provolone kan kry nie, kry sagterige kaas met karakter wat kan smelt, soos beleë wit cheddar, en nie iets matigs soos mozzarella nie. Jou mortadella moet vliesdun gesny wees; vra die slagter.

Kyk 'n video hier van hoe om dit te doen.

Bourdain se wentoebroodjie

Bestanddele

'n broodrolletjie
mortadella
provolone
Dijon-mosterd (enige ander soort sal ook werk)
mayonnaise

Maak dan só

Sny en smeer jou rolletjie met botter en rooster dit plat kant onder oor medium hitte in 'n pan. Smeer genoeg mosterd op die een kant en geil mayonnaise op die ander kant.
Gooi 'n eetlepel neutrale olie, soos canola, in die pan en pak drie gefrommelde hopies mortadella daarin wanneer dit medium warm is. Probeer keer dat die snye vleis in plat lae op mekaar lê. Braai sowat drie minute totdat die randjies krakerig raak.
Dop die hopies om, sit 'n vrygewige snytjie provolone-kaas bo-op en laat dit smelt. Jy kan 'n deksel opsit om die kaas vinniger te laat smelt.
Pak ná sowat drie minute die drie-hopies bo-op mekaar op die rolletjie en tand hom!

Nagedagte: As enigiemand wil kom kuier vir 'n mortadella-gebaseerde maaltyd, gee net so 'n uur waarskuwing dat ek betaamlik kan aantrek. Ons het 3,9 kg om mee te speel.

Stuur, stuur. As jy 'n bedonnerde toebroodjie uitgedink het, al is dit hoe eenvoudig, stuur die resep na hallobinneland@gmail.com dat ek hom kan toets in Binne+Land se toetskombuis (😊). Dan sit ek dit in die nuusbrief, met jou naam en foto by.

Die simpel naam "klassieke musiek"

Ek het 'n broertjie dood aan die term "klassieke musiek". Dit laat my dink aan jubelende, huppelende koorlede en die woord soirée. Ek wil op enige ander plek wees as by 'n soirée. Vir my is Beethoven beter as die beste rock and roll; Bach is die wêreld se grootste trip; klink vir my altoos Mozart het met sy note gelag vir die adellike koekvreters vir wie hy soms musiek geskryf het en Prokofiev is pure fantasie.

Die ding is, juis rondom Mozart, Haydn en die jong Beethoven was daar 'n periode met die naam klassiek. Dit was net ná die baroktydperk (1600-1750) en voor die romantiese periode (1820-1900). Mozart en Haydn se musiek is dus eintlik klassieke musiek, maar Bach s'n is barok en Brahms s'n romanties.

As ons klassiek wil gebruik soos in die volksmond, iets ouds wat nie vergete moet raak nie, is Scott Joplin, Louis Armstrong en The Beatles se werk ook klassiek. Een voorstel is om dit kunsmusiek te noem, maar ek is seker David Bowie sal in sy graf omdraai.

'n Ander voorstel is dat dit konsertmusiek genoem word, maar alle musiekuitvoerings is konserte. Ander voorstelle is Westerse kunsmusiek, kanoniese musiek, gekultiveerde musiek en ernstige musiek, wat omtrent als elitisties, hiërargies, onakkuraat en diskriminerernd is.

Het jy dalk 'n voorstel?


Papa Bach se nagmusiek

Bach se Goldberg Variasies, (BWV 988), oorspronklik gekomponeer vir klawesimbel, maar deesdae meestal uitgevoer op klavier, is een van daai werke wat 'n goeie aansluitingspunt kan wees vir mense wat onseker is oor waar om te begin met sogenaamde klassieke musiek. Kry 'n goeie opname op jou stroomdiens en speel dit 'n paar dae lank herhalend (dit kan enigiets tussen 38 en 80 minute neem). As jy op die derde dag by dele begin saamneurie, is daar 'n wonderwêreld van ontdekking wat op jou wag.

'n Tema met variasies is 'n eienaardige formaat vir musiek. Die komponis neem 'n eenvoudige wysie en maak letterlik variasies daarvan deur die ritme, harmonie of selfs melodie aan te pas, solank een deel min of meer dieselfde bly om die verwantskap met die hooftema of die essensie te behou. Dis in baie gevalle 'n afshow-speletjie, ’n manier vir komponiste om hulle vaardighede te vertoon.

Bach het die werk geskryf vir 'n belowende leerling van hom, Johann Gottlieb Goldberg. Maar volgens 'n vroeë Bach-biograaf was dit eintlik bedoel om die slapelose Russiese ambassadeur in Saxonië, graaf Von Keyserling, in die nag te vermaak of selfs te help om hom aan die slaap te sus. Die arme Goldberg moes snags op standby wees om opgekommandeer te word as die outop nie kon doeks nie.

Die beste opnames die afgelope 20 jaar is van die wonderlike Amerikaanse pianis en dirigent Murray Perahia, wat eintlik as die wêreld se beste Mozart-pianis bekend staan, en 'n Russies-Duitse pianis wat almal aan die gons het, Igor Levit.

Tjek vir Igor Levit hier uit.

Jy kan ook teruggaan na die twee seminale opnames wat die groot Kanadese Bach-pianis Glenn Gould gemaak het – een in 1955 en die ander in 1980. Hy het die manier hoe mense Bach sien vir altyd verander. Maar daai is 'n storie vir 'n ander dag.


Die einde. 🐶


Deel hierdie artikel
Die skakel is gekopieer!

Lid kommentare

Jy mag ook hiervan hou
Lugpos op 'n Saterdag Anneliese Burgess

Dobbel is net 'n jammerlike vermorsing van drinktyd

Dobbel is seker die mees verbeeldinglose manier om 'n bietjie pret te hê, reken ALI VAN WYK. Hy gee vyf lekker televisiekyk-opsies vir die vakansiedae, bak 'n Franse appeltert, maar met kwepers, en maak 'n denkbeeldige draai by 'n wonderlike Armeense komponis.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Woensdag. Piet Croucamp

Ons ambassadeur in Amerika en die Orde van die Skaapkop

'n Wit, Afrikaanse man as ambassadeur in Washington sal dalk net Donald Trump se primitiewe instinkte kalmeer, reken PIET CROUCAMP. En dan deel hy 'n tradisionele resep uit die Orde van die Skaapkop – met iets gepas om na te luister daarby.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Sondag. Anneliese Burgess

In 'n papierboot op 'n stormsee, Nick Cave + Songezo Zibi oor SA

ANNELIESE BURGESS drink tee onder ’n doringboom, vertel oor die rocker Nick Cave se ‘spiritual renovation’ ná sy seun se dood, en deel insigte van 'n gesprek met Songezo Zibi oor die DA, ANC en die siel van Suid-Afrika.
Lees Meer →