Die pous is dood en waar daar 'n rokie is, is daar 'n vuurtjie

PIET CROUCAMP sê hy het 'n morbiede fiksasie met die pous se afsterwe en begrafnis, maar sy eie ervaring van en bemoeienis met die Woord van God het maar sy ups en downs.

Die pous is dood en waar daar 'n rokie is, is daar 'n vuurtjie

Goeiemôre

Sedert die afsterwe van pous Franciskus het sosiale media 'n paar lewensmoeë waarhede gebaar: Die pous is dood. Godsdiens is waarskynlik sterwend. Die relevansie van die Vatikaanstad is twyfelagtig. Die rituele van die Katolieke pous se begrafnis is Middeleeus, dalk selfs primitief. Die Rooms-Katolieke Kerk se institusionele geheue is dragtig met immoraliteit. 

Moontlik is al hierdie dinge op 'n bepaalde wyse waar en 'n werklikheid, maar daar is 'n tyd en plek vir elke ding. My lewenservaring van en bemoeienis met die Woord van God het maar sy ups en downs.

Kort ná ons troue in die laat 1990's het my Liewe Eksie haar Boeddhistiese versugtinge uitgeleef deur die Nan Hua-tempel in Bronkhorstspruit te besoek. Dit is die grootste Boeddhistiese tempel en seminarium in Afrika en dien as die Afrikahoofkwartier van die Fo Guang Shan-orde, 'n Mahayana- Boeddhistiese orde wat in Taiwan ontstaan het. Ek moes meestal my tyd in die pragtige tuin van die tempel met my dogter verwyl, iets wat eintlik 'n gerusstellende ervaring, vol vrede, vir ons twee was.

In November 2004 besoek die Dalai Lama Suid-Afrika. Hy kuier by Nelson Mandela in Johannesburg en drink tee by Desmond Tutu in die Kaap. Daarna is hy Durban toe waar hy by Mangosuthu Buthelezi kuier. Ek en my klein kerngesin is in die kar Durban toe, met kaartjies vir 'n klein, relatief intieme geleentheid saam met die Dalai Lama. Ek dink daar was 100 mense. 

Die Dalai Lama praat toe op sy joviale, vrypostige manier, raak 'n paar wyshede kwyt en opper enkele vermanings. Teen die einde van sy relaas is daar vraetyd, en 'n ouer vrou vra: "Ek is 'n Christen, maar Boeddhisme spreek tot my. Hoe breek ek los uit dit waarin my hele wese nog altyd bestaan het, hoe word ek 'n Boeddhis?"

Tot my verstomming sê hy vir haar: "Hoekom wil jy jou Christenskap opgee? Jy hoef nie, jy kan 'n goeie Boeddhis en steeds 'n Christen wees." Boeddhisme het sterk byval by my Liewe Eksie gevind en uit deernis met haar het ek destyds geargumenteer Christene sou soveel minder verdoemend gewees het as hulle net meer soos die Boeddhiste was.

Die sekuriteit rondom die Dalai Lama is strenger as pres. Donald Trump s'n deesdae, en dit is baie moeilik om enigsins naby hom te kom. Destyds, teen die einde van sy gesprek, sit almal toe en wag sodat hy die vertrek kan verlaat. In 'n stadium, voordat hy klaar gepraat het, neem ek my ongedurige sesjarige dogter uit die saal. Ons staan-staan niksvermoedend in die voorportaal toe die Dalai Lama minder as 2 meter van ons verbystap. Hy groet met 'n wuif en 'n kopknik. Ek wou hom nog vra om gou my dogter vas te hou vir 'n foto, maar toe is hy reeds weg. 

Jare lank het daar 'n portret van hom in my huis gehang, totdat ek op 'n dag 'n voorval op televisie sien waar hy 'n seuntjie vra om sy tong in sy (die Dalai Lama se) mond te steek. Daarna het ek die portret verwyder. Die Rooms-Katolieke Kerk se geskiedenis is ook morsig, maar, soos ek gesê het, daar is 'n tyd en plek vir elke werklikheid.

Terug na die hede en my fiksasie met die pous se afsterwe en begrafnis. Pous Franciskus is op 21 April 2025 in die ouderdom van 88 oorlede, ná 'n beroerte en daaropvolgende hartstilstand by sy woning in die Vatikaanstad. Hy is gebore as Jorge Mario Bergoglio in Buenos Aires, Argentinië, en is op 13 Maart 2013 tot die 266ste pous verkies. By sy verkiesing het hy die naam "Franciskus" gekies ter ere van sint Franciskus van Assisi, wat sy toewyding aan nederigheid, armoede en sosiale geregtigheid weerspieël het. 

Pous Franciskus is die eerste Jesuïet-pous, die eerste pous uit die Amerikas, en die eerste nie-Europese pous in meer as 'n millennium.

Ná sy dood is hy op 26 April in die Basiliek van Santa Maria Maggiore in Rome begrawe, wat blykbaar sy diepe toewyding aan die Maagd Maria moes eer. Die konklawe om sy opvolger aan te wys is geskeduleer om op 7 Mei te begin. Ek moet eerlik wees, my fiksasie met die gebeure was morbied en ek het gaan nalees oor die ritueel soos dit in die verlede plaasgevind het.

Tegnies gesproke kan enige gedoopte Katolieke man tot pous verkies word, hy hoef nie eers 'n kardinaal of 'n priester te wees nie. Maar as 'n leek verkies sou word, moet hy onmiddellik deur alle heilige ordes georden word. Teoreties gesproke kan 'n onbekende boer of loodgieter tot pous verkies word, maar verstaanbaar het dit nog nooit gebeur nie. Die magstryd binne die hiërargie van kardinale is eenvoudig té fel vir so 'n onwaarskynlikheid.

Soos met elke verkiesing van 'n nuwe pous in die verlede en nou ook met die afsterwe van pous Franciskus, word die kardinale in die Sistynse Kapel van die Vatikaan toegesluit en die deure word letterlik verseël ("con clave" beteken "met 'n sleutel" in Latyn). Hulle word van alle kommunikasie afgesluit; geen telefone, nuus of besoekers word toegelaat nie. In 2005 was daar 'n poging om die verrigtinge af te luister en elektroniese seinblokkeerders is gebruik om dit te verhoed. Ondanks die eed van geheimhouding en die isolasie, smeul samesweringsteorieë oor verborge politieke intriges soos veldbrande binne die konklawe. Soms wonder 'n mens of die menslike swakhede van die gebeure dan nie God en die Heilige Gees se wrewel ontlok nie.

Wit rook, grys rook ...

Wanneer 'n pous uiteindelik verkies is, styg daar wit rook (fumata bianca) op uit die skoorsteen van die Sistynse Kapel. Swart rook (fumata nera) beteken daarenteen geen besluit kon geneem word nie. Die rook is die resultaat van die stembriewe wat met spesiale chemikalieë verbrand word, 'n proses wat al skeefgeloop en tot grootskaalse verwarring gelei het. Dis presies wat gebeur het tydens die pouslike konklawe in 1958, ná die dood van pous Pius XII. 

Van die Los Angeles Times.

Die konklawe het op 25 Oktober 1958 in die Sistynse Kapel begin. Op 26 Oktober 1958, omstreeks 17:55, het wit rook (of ten minste wat soos wit rook gelyk het) uit die skoorsteen opgestyg. Die skare wag normaalweg op Sint Pietersplein en 'n gejuig wat nog nooit eens op Loftus gehoor is nie, het losgebars, terwyl die klokke langdurig gebeier het. Op 'n enkele ongelowige Thomas na het almal aanvaar die nuwe pous is verkies. Maar toe raak die klokke stil, onverwags. Dit het later geblyk dat die rook nie duidelik wit was nie, maar waarskynlik as gevolg van die onvolledige verbranding van die stembriewe en ander materiaal eerder 'n grysagtige kleur gehad het. Daar was dus nog nie 'n pous verkies nie.

Die verwarring is opgeklaar toe bekend gemaak is dat geen kandidaat die vereiste tweederde-meerderheid ontvang het nie. Die konklawe het voortgeduur. Uiteindelik, op 28 Oktober 1958, is 'n kardinaal met die lieflike naam Angelo Giuseppe Roncalli verkies; hy het die ordinêre naam pous Johannes XXIII aangeneem. As jy in die 21ste eeu nog op rookseine vertrou, is fopnuus jou voorland.

So terloops, pous Celestine V (1294) het vreemd genoeg voorsiening gemaak vir sy eie abdikasie. Hy het die lewe van 'n eenvoudige kluisenaar gelei en ná net vyf maande as pous geabdikeer deur 'n pouslike dekreet uit te vaardig wat abdikasie toelaat, iets wat voorheen nooit amptelik bestaan het nie. Dit het die deur oopgemaak vir die teoretiese moontlikheid van toekomstige abdikasies, wat eers weer eeue later in 2013 met Benediktus XVI gebeur het.

En tydens die konklawe wat uiteindelik pous Pius X (1903) opgelewer het, was daar aanvanklik verwarring toe 'n ander kardinaal se naam per ongeluk verkeerdelik op die stembrief verskyn het.

Amptelik is verkiesingsveldtogte verbode. Dié oortreding staan bekend as "ambitio". Maar die vlees is swak en in werklikheid word heelwat onderlinge ooreenkomste en komplotte gesmee in aanloop tot die verkiesing van 'n nuwe pous. Onthou, die Heilige Gees lei die stemgeregtigdes in hulle wel en wee, maar dit is ook so dat nie almal dit eens is oor die Gees se boodskap nie. Tog organiseer die kardinale dikwels in ideologiese blokke. Die faksies se verwysings is komies voorspelbaar; die hervormers vis-à-vis die konserwatiewes. Die sogenaamde St. Gallen Mafia, 'n groep liberale kardinale, is al daarvan beskuldig dat hulle wederregtelik die 2005- en 2013-konklawes probeer kaap het. 

Vervalste dokumente is ook al in die verlede gebruik om die uitslag van 'n verkiesing te regverdig. Daar was al bewyse van omkopery en deur die eeue heen het sekulêre monarge druk op pouse uitgeoefen om die Woord van God polities te verstaan. Daar was tye toe die pousdom letterlik aan die hoogste bieër verkoop is.

Hier is 'n goeie voorbeeld. Die Donation of Constantine was 'n dokument waarin beweer is dat keiser Konstantyn die Grote (306–337 n.C.) politieke en godsdienstige mag oor Rome, Italië en die hele Westerse wêreld aan die biskop van Rome (die pous) oorgedra het. Die dokument het beweer dat Konstantyn, nadat hy deur pous Silvester I van melaatsheid genees is, uit dankbaarheid sy mag aan die pousdom geskenk en na Konstantinopel, die nuwe hoofstad, verhuis het.

Ná moeisame navorsing is daar egter met die sak patats vorendag gekom. Die dokument is waarskynlik reeds iewers in die agtste eeu in Rome vervals. In die 15de eeu het die humanistiese geleerde Lorenzo Valla (c. 1407–1457) in sy werk De falso credita et ementita Constantini donatione aangedui dat die dokument 'n smorgasbord van elementêre foute bevat. Die Latyn van die dokument was Middeleeus en nie van die vierde eeu nie. Dit het verwys na politieke en kerklike instellings wat nog nie in Konstantyn se tyd bestaan het nie. Italië en die Westerse wêreld kon voortleef in sonde, dank Vader.

Van Sky News.

'n Nuwe naam word gekies

Ná 'n verkiesing word op die nuwe pous se naam besluit, as 'n soort simboliese vertrekpunt vir sy nuut opgelegde sending. Daar is geen vasgestelde reëls nie en die gekose naam kan politieke óf teologiese boodskappe dra. Sekere name word vermy; niemand het byvoorbeeld al die naam pous Judas voorgestel nie. Ek wonder hoekom. Die pous se naam kan 'n vroeë aanduiding gee van sy bedoelings óf bybedoelings, lank voordat hy sy eerste toespraak maak.

Sommige kardinale, veral in die verre verlede, het "tekens" of drome oorweeg voordat hulle tydens afsondering in die konklawe gestem het. Die Prophecy of the Popes, 'n 12de-eeuse vervalsing wat aan St. Malachy toegeskryf word, beweer dat die dokument elke pous se opvolger tot met die einde van die wêreld kan voorspel. Uiteraard word die profesie amptelik verwerp, maar gerugte dat sommige kardinale daarby sweer, leef voort met elke konklawe.

Die Vatikaan klink ook soms so korrup en skandalig soos die Italiaanse regering. Vatileaks verwys na twee groot skandale (in 2012 en 2015) waarin vertroulike dokumente by die Vatikaan uitgelek het. In 2012 het pous Benediktus XVI se Butler-dokumente bewyse van korrupsie en nepotisme binne die Vatikaan openbaar gemaak.

Hierdie onthullings het waarskynlik bygedra tot Benediktus se abdikasie. In 2015, tydens pous Franciskus se hervormingspogings, is nuwe dokumente uitgelek wat finansiële wanbestuur en weerstand teen hervorming getoon het. Die skandale het ernstige vrae oor openheid, eerlikheid en magstrukture in die Rooms-Katolieke Kerk laat ontstaan en internasionale druk vir hervormings in Vatikaanse bestuur verhoog. When in Rome, do like the Romans. 

Toetrede van die Heilige Gees

Na 'n twee jaar lange dooiepunt tydens die konklawe in Viterbo (1271) het kardinale 'n kompromiskandidaat voorgestel. Teobaldo Visconti was op 'n pelgrimstog in die Heilige Land, maar hy was nie ’n kardinaal nie! Hy is per boodskapper gekontak en hoewel hy eers huiwerig was, het die Heilige Gees ingetree en Teobaldo het tot die besef gekom dat hy geïnspireerd genoeg voel om tog maar die roeping te aanvaar. Hy is gekroon as pous Gregorius X. Tot sy eer moet vermeld word dat hy daarna streng reëls ingestel het om konklawes vinniger af te handel, juis omdat sy eie verkiesing só lank geduur het.

In die kortste konklawe wat daar was, is pous Pius III (Oktober 1503) ná net 10 dae verkies. Hy was reeds baie siek en het net 26 dae as pous geleef voordat hy gesterf het. En die berugte konklawe in Viterbo (1268–1271) het ongeveer twee jaar en nege maande geduur. Kardinale het dit eenvoudig onmoontlik gevind om 'n konsensus of kompromis te bereik, en die burgers van Viterbo het uit frustrasie besluit om die kardinale in 'n gebou toe te sluit, die heiliges se kosvoorraad streng te rantsoeneer en die dak van die Sistynse Kapel te verwyder sodat hulle aan die mees gure weer blootgestel was. Uiteindelik, in ontbering, was daar 'n kompromis en is Visconti tot die amp verkies. Volgens 'n legende het hy onmiddellik ná sy verkiesing vir twee halwe Rohack-brötchen gevra, maar dit kan seker nie waar wees nie.

Ek het nog altyd gewonder hoe die daaglikse spyskaart van 'n pous lyk, en het hierop afgekom:

Pous Franciskus se gunstelinggeregte het sy Argentynse en Italiaanse wortels weerspieël.​ Soos ons almal maar doen, het hy soms laatnag die yskas geplunder. Daar was altyd empanadas, 'n deegpastei gevul met beesvleis, ham of kaas. Blykbaar het dit hom herinner aan sy kinderdae en die kookkuns van sy ouma.​ Ondanks sy dokter se waarskuwings het hy 'n suikertand gehad en alfajores was 'n groot bederf – 'n soort soet koekie gevul met dulce de leche (karamel), en bedek met sjokolade of klapper.​ Hy het glo sonder uitsondering laataand vir mate gevra, 'n tradisionele Suid-Amerikaanse kruietee. ​

Maar eintlik het hy eenvoudige maaltye verkies. Ontbyt was heel dikwels lemoensap en membrillo (kweperpasta), en middag- en aandete gebakte hoender, slaai en vrugte. Hy het koolhidrate soos pasta op aanbeveling van sy dokters beperk. ​Dit het beteken hy moes dikwels maar tevrede wees met die soveelste bagna càuda uit die Vatikaan se kombuis – 'n warm sous van olyfolie, knoffel en ansjovis uit die Piemonte-streek, wat hy dan saam met vars groente of brood geniet het. Die dokters het hom ook teen die brood gewaarsku, maar die oukêrel kon dit nie weerstaan nie. ​

Pous Franciskus het dikwels sy spyt uitgespreek dat hy nie die vryheid gehad het om by 'n plaaslike pizzeria te eet nie. Met daai suikertand was dulce de leche-roomys sy gunsteling en 'n Argentynse roomyswinkel naby die Vatikaan het dit gereeld afgelewer.

Tot volgende week

Piet


Luister hierna

Liturgiese musiek het 'n baie gewenste tydloosheid.

In memoriam, Jorge Mario Bergoglio.

"The Lord's Prayer" deur Andrea Bocelli en die Tabernakelkoor aan Temple Square in Salt Lake City.

---


Die Einde. Ek gaan nou koffie soek.☕


Deel hierdie artikel
Die skakel is gekopieer!

Lid kommentare

Jy mag ook hiervan hou
Lugpos op 'n Saterdag Anneliese Burgess

Dobbel is net 'n jammerlike vermorsing van drinktyd

Dobbel is seker die mees verbeeldinglose manier om 'n bietjie pret te hê, reken ALI VAN WYK. Hy gee vyf lekker televisiekyk-opsies vir die vakansiedae, bak 'n Franse appeltert, maar met kwepers, en maak 'n denkbeeldige draai by 'n wonderlike Armeense komponis.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Woensdag. Piet Croucamp

Ons ambassadeur in Amerika en die Orde van die Skaapkop

'n Wit, Afrikaanse man as ambassadeur in Washington sal dalk net Donald Trump se primitiewe instinkte kalmeer, reken PIET CROUCAMP. En dan deel hy 'n tradisionele resep uit die Orde van die Skaapkop – met iets gepas om na te luister daarby.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Sondag. Anneliese Burgess

In 'n papierboot op 'n stormsee, Nick Cave + Songezo Zibi oor SA

ANNELIESE BURGESS drink tee onder ’n doringboom, vertel oor die rocker Nick Cave se ‘spiritual renovation’ ná sy seun se dood, en deel insigte van 'n gesprek met Songezo Zibi oor die DA, ANC en die siel van Suid-Afrika.
Lees Meer →