Die siel van Trump se Amerika

Ná sy kritiek hierdie week op Cyril Ramaphosa omdat hy 'n biljoenêr geword het sonder om risiko's te loop, probeer PIET CROUCAMP Donald Trump se psige ontleed. Verteenwoordig Trump regtig die siel van Amerika? Hy het ook 'n paar woorde oor die 'bleddie left', Biden en 'onverdraagsame liberals'.

Die siel van Trump se Amerika

Dagsê

Ek het verlede Sondag 'n artikel in Rapport geskryf waarin ek die psigologie van Cyril Ramaphosa se politieke gedrag probeer ontleed het. My argument was kortliks dat Ramaphosa 'n biljoenêr geword het sonder om enige risiko's te loop met kapitaal, en sonder om ooit die ervaring te hê van mededingend wees in 'n waarde- of verskaffingsketting. Met 'n bietjie moedswillige logika het ek beweer dat dit ook die rede is hoekom besluitneming vir hom so 'n geboorteproses is. Kapitaaleienaars wat risiko's aanvaar en mededingend is, weet presies hoe belangrik vinnige en verantwoordelike besluitneming is. My slotsom was dat bemagtiging moreel geregverdig is, maar die newe-effek het dat dit 'n hele klas trustfonds-entrepreneurs met weinig begrip vir die noodsaaklikheid van ekonomiese groei geskep het.

Ek gaan in hierdie nuusbrief 'n soortgelyke poging aanwend met Donald Trump, maar wil ook bespiegel oor die psige van Amerika. Die vraag wat by my spook, is: Is Donald J. Trump verteenwoordigend van wie en wat Amerika is, of geword het? Soos baie ontleders het ek aanvanklik geglo Trump – en die mense om hom – het, soos verwag kan word van die "leader of the free world", 'n deurdagte agenda. Vir Amerikaners is demokratiese rituele en liberale waardes té histories en in hulle psige verwortel om toe te sien dat hulle politieke leiers lukraak van krisis tot krisis strompel. Só dog ek, maar nou weet ek wragtig nie meer nie.

Drama en goedkeuring

Ten spyte van al die drama rondom tariewe, asook Trump en sy adjudante se soms bisarre uitsprake, gee 44% van Amerikaners, aldus die mees onlangse CBS-meningsopname, hom steeds hulle onkritiese goedkeuring. Sy steun onder Republikeine is 91%! Onthou, hy het in November 2024 net 49,81% van die populêre stem gekry.

Hoe gebeur dit dat hy die hele wêreldekonomie op sy kop keer, Amerika vervreem van sy beste vriende, die oorlogsugtige aartsvyand Vladimir Putin se balle blinkvryf, skoorsoek met 'n onemosionele diktator in China, en sy steun daal steeds met net 'n onbeduidende paar persentasiepunte?

Trump het daarin geslaag om waarskynlik 90% van die mensdom van hom te vervreem. Wat moet hy nóg doen om die stemvee van Amerika finaal van hom te vervreem? Of is Trump die psige van Amerika? Is hy die kragman waarvoor Amerika in die 160 jaar sedert die formele oorgawe van die konfederale leër onder genl. Robert E. Lee aan unie-generaal Ulysses S. Grant op 9 April 1865 by die Appomattox Court House in Virginia gewag het?

As die chaos in die Withuis nie sulke drastiese gevolge vir die wêreld gehad het nie, sou 'n mens dit as 'n komedie kon opdis. Die toespraak wat Trump op Liberation Day gemaak het, was 'n gekkespul van statistiese en data-absurditeite. En sy opmerking dae later dat die leiers van baie lande toustaan om sy gat te lek ("kiss my ass") is so bisar dat dit moeilik is om te glo die president van Amerika kan so laag daal. Trump het dié opmerking gemaak tydens die National Republican Congressional Committee (NRCC) se "black tie"-fondsinsamelingsdinee in Washington, D.C. Hoe banaal kan 'n man in tux wees? 

Lewensgevaar vir die mensdom

Dat hy die Europese Unie oor die skouer aankyk, gaan blykbaar oor meer as net die feit dat dié lande nie hulle deel doen om Navo te finansier nie. Dit gaan ook oor die kenmerkende verdraagsaamheid van die Europeërs wat die kompleksiteit van diversiteit betref. Trump neem met kommer kennis van Europa se sosiologiese spanning met die immigrasie-vraagstuk. Aan 't huis is sy vervloeking van diversiteit, gelykheid en inklusiwiteit lynreg teen die empatie, deernis en klem op menswaardigheid in die gevestigde demokrasieë van Wes-Europa. Trump verwys na ongedokumenteerde immigrante as "diere", "nie mense nie" en 'n "vergiftiging van die bloed van ons land", 'n soort taalgebruik wat dui op 'n hunkering na die dae van Ronald Reagan toe 80% van Amerikaners wit was.

Laat ek nou nie oneerlik wees nie. Ek dink aan Trump as 'n politieke misbaksel met die emosionele intelligensie van 'n amebe. Hy is 'n lewensgevaar vir die mensdom. Maar dit is nie asof sy voorgangers hulself in glorie en eer gedrapeer het nie. Thomas Jefferson het slawe aangehou terwyl hy plegtig in formele ink geskryf het: "All men are created equal." Terwyl sy fokus skynbaar net op mans was, het dit hom ook nie verhoed om kinders te verwek by een van sy slawe, Sally Hemings, nie.

John F. Kennedy het talle buite-egtelike verhoudings gehad terwyl hy president was en Richard Nixon het sy uitvoerende gesag probeer gebruik om politieke spioenasie toe te smeer. Bill Clinton en Barack Obama sal altyd my gunsteling Amerikaanse presidente wees, al was Slick Willy skuldig aan 'n seksuele verhouding met 'n intern, Monica Lewinsky, in die Withuis, en het hy onder eed daaroor gelieg. George W. Bush het duisende Amerikaanse en Navo-soldate, en miljoene Irakkese, hulle lewens gekos met 'n oorlog wat op gebrekkige intelligensie gegrond was. As dit nie rede is vir 'n klag in Den Haag nie, dan weet ek nie.

Net meer as drie dekades gelede ryloop en reis ek vir 18 maande deur Amerika. Dit was 'n ongelooflike ervaring in 'n land met verstommend gasvrye mense. In dié tyd het ek op baie bouterreine in Chicago, Omaha en San Francisco gewerk. Ek het 'n Bob Dylan-konsert in die Greek Theatre in Los Angeles bygewoon en was iewers in San Francisco in 'n rookgevulde vertrek van oorlede Lawrence Ferlinghetti se City Lights Booksellers terwyl Allen Ginsberg sy dekadente "Howl" voorgelees het op die mees onmusikale ritme van 'n handorreltjie. Toe ek hom vertel ek kom van Namibië, het hy geen idee gehad waar dit is nie.

Yanks se werksetiek

Dit was reeds destyds my indruk dat die meeste Amerikaners bitter min weet van wat buite hulle plaaslike nuuskanale se reikwydte gebeur. Asië en Afrika is lande, nie vastelande nie. Tydens my ryloop-reis deur Amerika is ek dikwels deur mense opgelaai wat nog nooit buite die staat was waarin hulle gebore is nie. Hulle patriotisme het 'n militêre aura en teer op ekstreme regverdiging van individualisme. Die besit van militêre wapens is taamlik algemeen, veral buite die megastede. Wit Amerikaners het 'n pioniersgenetika van insiders en outsiders wat nie maklik uitgeteel sal word nie.

Die Yanks het ook 'n werksetiek waaraan my kantoorhandjies gewoond moes raak. Hulle tap bloed uit jou, maar die beloning vir 'n uitmergelende werksdag in 'n volwaardige markekonomie is ook ruim. Met 'n Calvinistiese werksetiek en innoverende gedagtegang kan jy goeie geld maak in Amerika. Dog is dit verstommend hoe lekker die andersins sieldodende taak van dakkappe heg en vensterrame verf word wanneer jy 'n loon kry wat jou al die vryhede gee wat jy begeer.

Die bleddie left

Maar terug na die siel van Trump en Amerika. Wanneer begin ons aanvaar dat Trump genoeg Amerikaners verteenwoordig om hom as 'n manifestasie te aanvaar van wat dit is om 'n Yank te wees? Ek dink dit was Ambrose Bierce, skrywer van The Devil’s Dictionary, wat reeds in 1906 van Trump en sy "Make America Great Again" gesê het: "Combustible rubbish ready to the torch of any one ambitious to illuminate his name."

As net ongeveer 49% van die uitgebragte stemme in 2024 verenig was agter Trump, sou 'n mens wou hoop dat daar meer gesonde verstand onder die ander helfte Amerikaners is.

Wel, die bleddie left het ons ook maar in die steek gelaat met hulle woke nonsens, sê ek nou met die risiko dat Helen Zille gaan sê: "I told you so." Wat de donner sê 'n mens vir hulle, of dink jy van hulle, diegene wat vir Kamala Harris gestem het? Hoe kan hulle kollektiewe naïwiteit en psigotiese vrese vir demokrasie se soms wrede uitkomste beskryf word?

Joe Biden het Harris in die steek gelaat deur te lank aan die stang te byt, maar sy kon haar nooit werklik onderskei van dit wat Amerikaners vervreem het van die Biden-administrasie nie. As sy minder Biden en meer Obama was, het sy dalk iets vir haar eie saak gedoen, ironies genoeg.

Ek het iewers iets oor die left of dan nou die tipiese Harris-ondersteuner gelees. Die trant van die innuendo en stereotipe klink so: Dié wat nié vir Trump gestem het nie, verwyl hulle dae deur memes te fact-check en CNN te kyk terwyl hulle koffie slurp uit NPR-bekers. Dit alles terwyl die selfoon die FiveThirtyEight-webwerf herlaai soos 'n bloeddrukmonitor.

Karikature met 'n sweempie realiteit

Dit word erger: Hulle eet boerenkool uit plig en dra "I voted"-plakkers soos medaljes. Hulle pink 'n weemoedige traan weg as Jon Stewart 'n geldige punt maak. Dit is 'n "subspesie-mens" wat onwrikbaar glo aan klimaatsverandering en sosiale geregtigheid met geveinsde woede bewapen. Hulle predik religieus oor die krag van 'n goed georganiseerde Google-kalender en tweet guilt trips op X wat hulle eindig met "asseblief" en "dankie". 'n Subdenkskool onder hulle is verwyfde aktiviste wat aanlyn petisies in weerwraak onderteken. Hulle dink stil-stil The West Wing is 'n dokumentêr en dat American Carnage verwys na die dag toe Trader Joe's hulle gunstelinghummus van die rakke verwyder het. Dit klink na 'n karikatuur, maar persepsies is meer dikwels karikature met 'n sweempie realiteit.

Die NPR-koffiebekers waarna verwys word, is dié van 'n radiostasie, National Public Radio. NPR is Amerika se BBC se Radio 4; die nuus word gelees deur 'n omroeper met 'n kalmeermiddelstem en sommige dae speel hulle onverpoosd banjo-musiek. Hulle kritici beweer dat hulle meestal nuus fabriseer, maar hulle bied ook gesels- en kulturele programme aan en neem podsendings op wat via openbare radiostasies deur Amerika versprei word. NPR-luisteraars is stereotipies liberaal; hulle dra lapskouersakke aan lang slings, ry hibriedmotors, het 'n onversadigbare drang na podsendings deur "progressiewe" openbare intellektuele, en besit té veel boeke en té veel herwinbare waterbottels.

FiveThirtyEight is 'n Amerikaanse datawebwerf vir joernaliste, gestig deur Nate Silver, statistikus en legendariese voormalige pokerspeler (ja, jy kry so iets soos 'n afgetrede pokerspeler in Amerika). Die webwerf verwerk statistieke, doen meningspeilings en formuleer modelle wat verkiesingsuitslae voorspel, veral dié van Amerikaanse presidensiële en kongresverkiesings.

Heel voorspelbaar verwys die FiveThirtyEight na die 538 verteenwoordigers in die Amerikaanse "electoral college". Silver het 49 van die 50 state reg voorspel tydens die 2008-verkiesing en 50 uit 50 in 2012. In 2016 het hy voorspel dat Trump 'n 35%-kans sou hê om te wen, wat beter is as die res van die wêreld wat gedink het die Orange Man het nie a snowball's hope in hell nie. Ek vermoed jy begin nou verstaan hoekom ek dink die gemiddelde Kamala Harris-liberaal het dieselfde fiksasie met FiveThirtyEight as 'n kat met 'n bol wol.

Onverdraagsame liberals

Soos die komediant Bill Maher glo ek dat liberals onverdraagsaam geword het teenoor die idee van kompleksiteit, veral die kompleksiteit van idees. Dit is asof 'n wederstrewige standpunt opgeweeg word teen 'n gefabriseerde moralisme en dan uitgespoeg word omdat dit lou eerder as warm of koud is. Deur te fikseer op identiteitspolitiek en kultuurdebatte, meen Maher, loop liberals die gevaar om die gematigde middelklas en werkersklas te vervreem. Ek vind die gebruik van die woord "werkersklas" vreemd in die Amerikaanse konteks. Die werkersklas is 'n soort Marxistiese verwysingsraamwerk wat nie lekker pas by 'n ekonomie wat grootliks goedkoop arbeid aan die Chinese ekonomie uitkontrakteer nie. Maar alle aanduidings is dat dié kohort die hartklop van Donald Trump se steun is.

Net 'n laaste gedagte: Wat sou met die Amerikaanse psige gebeur het as Barack Obama gedoen het wat Trump nou doen? Wat sou die reaksie van die media, Amerika en die wêreld gewees het as Obama vriendskapsbande gesmee het met Kim Jong Un en Vladimir Putin, en Europa die middelvinger gewys het? Vrae oor sy Keniaanse vader sou seker aandag gekry het, en sy "gedrag" sou vir die Republikeine met dié van 'n tipiese Afrika-kragman gestrook het.

Daar kom waarskynlik 'n dag wat 'n mens die Amerikaners verantwoordelik sal moet hou vir hulle keuse van leiers. 'n Dag waarop ons moet aanvaar dat die gemiddelde Yank 'n spieëlbeeld is van die elites wat hulle as hul verteenwoordigers verkies het. As jy dink dit is moeilik om 'n Trump-ondersteuner te oortuig om vir hom- of haarself te dink, probeer gerus 'n Harris-ondersteuner. In 160 jaar het niemand sy mind verander in Amerika nie.

Tot volgende week.

Piet


My gedig

Michelangelo Buonarroti het tussen 1508 en 1512, in opdrag van pous Julius II, die plafon van die Sistynse Kapel in die Vatikaanstad geskilder. Ek is nou wel nie so fyn besnaard soos Michelangelo nie, maar ek het persoonlike ervaring van dit waarvan hy hier praat. Ek het groot empatie met die vermoeienis van sy taak, want vir meer as 'n jaar moes ek saans rugby gaan oefen nadat ek heeldag, sieldodend, die vensterrame en deure van luukse huise in Amerika geverf het.

I've already grown a goiter from this torture,
hunched up here like a cat in Lombardy
(or anywhere else where the stagnant water's poison).
My stomach's squashed under my chin, my beard's
pointing at heaven, my brain's crushed in a casket,
my breast twists like a harpy's. My brush,
above me all the time, dribbles paint
so my face makes a fine floor for droppings!

My haunches are grinding into my guts,
my poor ass strains to work as a counterweight,
every gesture I make is blind and aimless.
My skin hangs loose below me, my spine's
all knotted from folding over itself.
I'm bent taut as a Syrian bow.

Because I'm stuck like this, my thoughts
are crazy, perfidious tripe:
anyone shoots badly through a crooked blowpipe.

My painting is dead.
Defend it for me, Giovanni, protect my honor.
I am not in the right place – I am not a painter.

– Michelangelo, 1509


Slow poison om te luister

Die Amerikaanse musikant Tom Waits het op 'n kol, met sy tipies aweregse wysheid, gesê: "Everything I know, I learned from my kids." Op 'n reis in my Landrover Defender deur Namibië kamp ek en my seun, Schalk, by die Duwisib-kasteel. Hy speel vir my een van sy gunstelingliedjies. I loved it!

Sabaton is 'n Sweedse power metal-groep, bekend vir hulle energieke romantisering van geskiedkundige heldedade en oorloë. "Twilight of the Thunder God", oorspronklik opgeneem deur die death metal-groep Amon Amarth, vertel die Noorse mite van Thor se epiese geveg teen die Midgardslang Jörmungandr. Aldus die legende verslaan Thor die slang, maar sterf self later aan sy gif. Trump het nou al twee keer byna aan sy eie gif gesterf, het hy nie?

Die growl-vokale in die bruggedeelte van die lied is Peter Tägtgren wanneer hy briljant is.

 Die Einde.

Deel hierdie artikel
Die skakel is gekopieer!

Lid kommentare

Jy mag ook hiervan hou
Lugpos op 'n Saterdag Anneliese Burgess

Dobbel is net 'n jammerlike vermorsing van drinktyd

Dobbel is seker die mees verbeeldinglose manier om 'n bietjie pret te hê, reken ALI VAN WYK. Hy gee vyf lekker televisiekyk-opsies vir die vakansiedae, bak 'n Franse appeltert, maar met kwepers, en maak 'n denkbeeldige draai by 'n wonderlike Armeense komponis.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Woensdag. Piet Croucamp

Ons ambassadeur in Amerika en die Orde van die Skaapkop

'n Wit, Afrikaanse man as ambassadeur in Washington sal dalk net Donald Trump se primitiewe instinkte kalmeer, reken PIET CROUCAMP. En dan deel hy 'n tradisionele resep uit die Orde van die Skaapkop – met iets gepas om na te luister daarby.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Sondag. Anneliese Burgess

In 'n papierboot op 'n stormsee, Nick Cave + Songezo Zibi oor SA

ANNELIESE BURGESS drink tee onder ’n doringboom, vertel oor die rocker Nick Cave se ‘spiritual renovation’ ná sy seun se dood, en deel insigte van 'n gesprek met Songezo Zibi oor die DA, ANC en die siel van Suid-Afrika.
Lees Meer →