Goeiemôre!
Ek is so bly jy is hier. Welkom. Soos altyd, op Sondae, my woorde en gedagtes en goed wat ek sien en lees. Nou net in 'n ander gedaante – as 'n rolbos, want dit is wat ek geword het.
Die see lê soos 'n gekreukelde blou laken agter die groen duine van die Kwelera Nasionale Botaniese Tuin in Oos-Londen. Daar is vanoggend weer 'n rooi skip op die horison. My somertuin begin oorgee aan die koeler dae van herfs, maar van my dahlias en kosmos blom steeds. Die grenadellaprieel dra swaar (maar die blouapies is vinniger as ek met die geplukkery). As hierdie brief vanoggend veilig in jou inboks kom lê, sing ek 'n halleluja vir die laaste paar weke se skerp leerkurwe.
Voordat ek by my Sondagmymering kom, iets oor die idee agter Binne+Land.
'n Nuusbriefplatform in Afrikaans prut al baie lank by my.
In die "ou dae", tot voor Covid, was ek 'n tydskrifjunkie. Ek was mal oor papier. Oor mooi uitleg en foto's. Voordat die Suid-Afrikaanse Poskantoor uitmekaar geval het, het ek elke maand uitgesien na Bon Appétit, Saveur, Food & Wine, en The New Yorker uit Amerika. Ek het steeds 'n lêer met Nigel Slater se revolusionêr eenvoudige kos uit die Britse Marie Claire van 1988 – die begin van sy loopbaan as kosskrywer en die begin van my liefdesverhouding met kook. Wat verder gevoer is deur die pretensielose diepte van Nettie Pikeur se kosrubrieke op die laaste bladsy van die destydse Vrye Weekblad. Toe Woolworths onlangs sy TASTE-tydskrif staak, het ek 'n diep verlies ervaar.
En toe, 'n paar weke gelede, koop ek een van die nuwe leefstyltydskrifte op die rak, en ek is nie meer verlief nie. Die oustyl-, nostalgiese kosstilering, die oppervlakkige, gesindikeerde sê-niks-celebrity-interviews, die stories sonder regte diepte of siel, die effens desperate kan-dit-nie-wegsteek-nie-probeer-geld-maak-aanbevelings. Ek is óór dit – behalwe dat ek nog hou van my boetie se Landbouweekblad, Tuis se onpretensieuse eerlikheid my steeds geval en my vriendin Arina du Plessis se Landbou Boerekos fantasties bly – ek het hoeka vir die nuutste uitgawe iets oor my ma se kombuis geskryf. (En as ek 'n pienk FT Weekend op die lughawe kry, wil ek huil oor die saligheid van die inhoud en skryfwerk). Come to think of it, ek is nie heeltemal klaar met tydskrifte nie 😆, maar die punt is daar het 'n skuif gekom in wat my interesseer en hoe ek dit wil lees.
Ek kry dit toenemend op Substack, 'n Amerikaanse nuusbriefplatform wat oor die laaste paar jare ontplof het. Min of meer elke ernstige en interessante joernalis en skrywer van wie ek oor die jare gehou of wat ek gevolg het, het daar 'n tuiste gevind waar hulle direk en persoonlik met lesers kommunikeer. Oor geskiedenis, boeke, politiek, die omgewing, leefstyl, mode, reis. You name it, daar is iemand van wêreldgehalte en met 'n briljante skryfvermoë.
Ek hou van die briefformaat. Ek hou van die persoonlike aanslag. En die eerlikheid van nie probeer voorgee dat pure objektiwiteit bestaan nie – ons kyk en sien almal die wêreld deur die lens van ons eie ervaring. Ek hou van die gees van gesprek tussen skrywer en lesers, en die gevoel van gemeenskap.
En dit is wat ons hier op Binne+Land wil doen, maar anders as die Substack-formaat waar jy individueel vir elke brief betaal, wil ons vir ons lesers 'n oorkoepelende pakket aanbied (jy sal mettertyd kan "unsubscribe" van enige van die briewe as jy oorweldig voel deur té veel, of net nie lus is vir iemand nie).
Ons sien dit as 'n plek waar lesers mekaar kan ontmoet. Vir eers hou ons dit klein. Die start-up-span is ek op 'n Sondag (Rolbos), Piet Croucamp (Sondebok) op 'n Woensdag en Ali van Wyk (Warboel) op 'n Vrydag. Laureen Rossouw (Tiptol), en hopelik ander, kom later by. Maar vir eers konsentreer Laureen op die besigheidskant van Binne+Land. Sy kook aan planne vir saamkuier – basaars en gesprekke (en miskien selfs 'n wynklub en produkte). Maar vir die eerste maand is dit nou eers stadig oor die klippertjies.
So, oor geld. Ja, ons moet praat oor geld, want hierdie moet uiteindelik 'n lewensvatbare platform wees waar ons, en ander, betaal kan word vir ons skrywes. Voorlopig skryf ons drie egter gratis, en finansier ons die onkoste uit ons eie sak sodat ons aan die gang kan kom. Maar 'n betaalmuur kom. Maar, en hierdie is belangrik, ons denke is dat ons ook altyd 'n gratis opsie sal wil behou. As jy nie kan bekostig om te betaal nie, wil ons steeds hê jy moet ons kan lees. Want uiteindelik gaan hierdie droom van ons oor meer as net geld. Dit gaan oor 'n Afrikaanse gemeenskap van lekker oopkopmense. Tiptolle en rolbosse en sondebokke in 'n warboel saam. Ek vra sommer uit die staanspoor elkeen se hulp. Vertel jou vriende van Binne+Land!
Oor wat ons beoog vir die inhoud, deel ek iets wat ek in 'n brief vir die wegspringspan gestuur het:
"Ons lesers is sophisticated, belese mense wat kan hou van kos en reis en ’n mooi tafeldoek of die perfekte wit hemp en terselfdertyd belangstel in die RNE of die battlefield strategy van oorlog, of geskiedenis, of gek raak oor Putin of Ramaphosa, of meer wil verstaan oor wat by Transnet of Eskom aangaan, of in Britse of Duitse of Indiese politiek, of omgee vir die omgewing. Ons lesers is geïnteresseerd in landskap en taal en wyn. En boeke. Sommige van ons hou meer van nie-fiksie as fiksie. Of andersom. Ons harte is Afrikaans, maar ons lees wyd in Engels. Ons leef in die hede, en kyk na die toekoms. Ons kyk uit, maar ook in. En ons kan lag vir onsself. Ons doen Trump en tofu. Poësie, parfuum én politiek."
Siel en Suid-Afrika
Dít is die binne en die buite van Binne+Land. Ons binnewêreld + die buitewêreld waarin ons leef, en die draad wat die twee met mekaar verbind. In beautiful maar los, moderne Afrikaans wat sê ons is wêreldburgers. Daar sal soms Engels inglip of deurglip of doelbewus daar staan, maar ons is onbeskaamd Afrikaans en ons taal is ons vuur.
Ali van Wyk noem Piet Croucamp die "Jack Reacher van politieke ontleding". En dit ís hy, maar as dit kom by die kwas waarmee Piet in Afrikaans verf, kan hy my onder die tafel, en in trane, inskryf. En so ook Ali en Laureen – albei het 'n ongelooflik unieke leksikon en manier van met woorde weef. En albei is boonop vrek snaaks ook. Dit is alles deel van wat ek as die DNS van Binne+Land sien. Ook vorentoe, soos ons groei.
My mantra vir Binne+Land is:
Geluk is ’n rigting.
Vryheid is ’n plek.
Curiosity is 'n taal.
En dié keer is dit persoonlik.
Ons skryf lugposbriewe, afgelewer in jou inboks. As jy hierdie op jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na heel onderaan aan hierdie brief en klik op die klein "speech bubble" wat sê "Comment".
Ons persoonlike mitologieë
Die afgelope jaar was op 'n persoonlike front, kom ons sê, uitdagend. Dit het by tye gevoel asof ek moeisaam deur 'n toegegroeide kloof oor takke en klippe opdraand probeer klim. Ander tye was ek in vryval. Op 'n geroeste foefieslaaid wat enige oomblik van sy glybaan kon loskom.
Ons is van nature storievertellers. Vandat ons selfbewussyn begin ontwikkel, begin ons verhale weef oor wie ons is en skep ons 'n hoofkarakter wie se reis sinvol is. Hierdie persoonlike mitologieë is ons kompas en anker, en gee rigting aan ons keuses en selfbeeld.
"Ek was nog altyd die verantwoordelike een."
"Ek kan nie verhoudings doen nie."
"Ek is die swartskaap van my familie."
"Ek word altyd deur liefde verwerp."
Dié stories word kortpad vir ons identiteit, wat die oneindige kompleksiteit van ons lewe verpak in verteerbare verhale om ons verhoudings, uitdagings en besluite te navigeer.
Tog is hierdie stories wat so noodsaaklik vir ons funksionering is, selektiewe interpretasies. Noukeurig saamgestelde hoogtepunte wat teenstrydige bewyse en ongemaklike uitsonderings weglaat. Die verantwoordelike een ignoreer sy oomblikke van roekeloosheid. Die familie-uitgewekene vee herinneringe van behoort weg. Dié wat dink hulle kan nie 'n standvastige verhouding hê nie, ignoreer die liefde wat hulle aantrek. Dié wat voel daar is 'n patroon van verwerping, ignoreer miskien hulle verlammende vrees vir intimiteit wat hulle eintlik die verwerper maak.
Ons persoonlike verhale beskerm ons ego's, regverdig ons mislukkings en help ons om nie te fragmenteer onder die gewig van die lewe se teenstrydighede nie. Maar wanneer hierdie stories tot rigiede identiteite verhard, word ons blind vir moontlikhede wat buite ons selfopgelegde grense lê. Vra my, ek wéét. Ons vertel vir onsself die stories wat ons wil hoor.
Hier is wat ek ook weet:
Ek weet dat vrae soms nie antwoorde het nie. Ek weet dat blaam nie help met verstaan nie.
Ek weet dat ’n slagoffer ook ’n oortreder kan wees. Ek weet dat omgee nie eens met wilskrag beëindig kan word nie. Ek weet dat dit tyd neem vir ’n aar om uit te bloei, al is dit in warm water. Ek weet dat versmoring ’n geleidelike proses is.
Ek weet daar kan goeie tye kan wees in die ergste van die slegste. Ek weet dat liefde nie soos 'n kraan toegedraai kan word nie. Ek weet dat ’n kind twee mense vir ewig familie maak.
Ek weet dat geelhoutbome soms hulle wortels met mekaar onder die grond deel. Ek weet dat voëlent ’n parasiet is, al skep dit ’n verweefde voorkoms met takke waaraan dit hang.
Ek weet dat ’n veldbrand smeulende kolle laat waar vlamme weer knetter as die wind reg draai. Ek weet dat elke storm uiteindelik gaan lê.
Elkeen is die outeur en hoofkarakter van sy lewensverhaal. En as 'n mens eers dít raaksien, kry jy 'n vryheid om te hersien, om oor te skryf, en soms 'n heeltemal nuwe hoofstuk te begin.
Daarmee groet ek; geseënde Sondag.
Ons gesels volgende week oor onder andere Meghan Markle, Gwyneth Paltrow en die karwrak wat Pete Hegseth is.
Mooi loop
Anneliese
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Gedig
The Past Is Still There
I've forgotten so much.
What it felt like back then,
what we said to each other.
But sometimes when I'm standing
at the kitchen counter after dinner
and I look out the window at the dark
thinking of nothing,
something swims up.
Tonight this:
your laughing into my mouth
as you were trying
to kiss me.
– Deborah Garrison, uit die bundel Second Child, uitgegee deur Random House.
Aanbevelings





Luister
En dan hierdie podsending van The New Yorker. Senator Chris Murphy: This is how Democracy Dies – Everybody Just Gets Scared
En Brian Eno. 'n Golden oldie.
Die einde. 💌
Lid kommentare