Dagsê!
Soek die dobbelaar, jy sal hom of haar kry. Kyk maar as daar telkens 'n nuwe piramideskema in die voorstede opskiet. Spoedig nadat jy begin krap en vrae vra, gaan jy op 'n dobbelaar in 'n prominente posisie by die skema afkom. Ek sal selfs beweer die meeste piramideskemas is maar net 'n melkery vir iemand se dobbelprobleem.
Dit lyk vir seker so met daai kleuterskoolmagnaat wat in Thailand skuil, die een wat lyk asof iemand 'n posduif met 'n industriële krambinder aan sy kop vasgestaple het. Anthonie Bougas. Dit lyk beslis ook so met die koning van bliengklippies en kleinhuisie-tantrums, liewe Louis'tjie Liebenberg.
In al twee gevalle het van die kontant na bewering sommer direk uit die belegger se sak tot in die slot machine gestroom, sonder om in die ware beleggingswêreld 'n draai te maak. Erm, dis nou as jy casino's nie as deel van die beleggingswêreld ag nie.
Dis moeilik om te bepaal of oorle' Johann Steynberg van Mirror Trading 'n true blue eenarmbandiet-slaaf was, maar as hy was, was dit die minste van sy sondes. Die internasionale kriptosfeer is in elk geval so na aan ’n casino soos wat fokkit aan vloek is.
Geld in die troon af
Daar is 'n paar dinge in die lewe wat my dronkslaan; een daarvan is dobbel. Moenie 'n fout maak nie, I like having a good time. Trouens, ek is gewoonlik heel voor in die good-time-ry. My vrou sal beweer ek is die sameroeper van die ry.
As dit by dobbel kom, oordeel ek nie sommer nie. Ons het almal maar ons sondetjies, meneer weet? Ek verstáán dit net nie. Ek probeer myself in die skoene van die kompulsiewe dobbelaar sit en die kick daarvan voel, die causa essendi.
Ek probeer die produk verstaan wat mense kry uit die geld wat hulle sê nou maar in die slot machine stort. Ek meen, tennis of golf is 'n produk waaruit mense baie voordele kan kry – fiksheid, gemeenskap, hand-oog-koördinasie, dalk 'n warm affair by die klub. Om te wen is nie die produk nie. Dis 'n byproduk, 'n bonus.
By dobbel lyk dit vir my wen of verloor is die enigste produk. Of eerder: Die oomblik as die uitslag onthul word, en die stresverligting van 'n wen (oftewel 'n nie-verloor) veroorsaak 'n bruising van adrenalien en ander goedvoel-hormone of -chemikalieë. Dit het net soveel te doen met geldkry en ryker word as wat dit daarmee te doen het dat jy die groot calamity vryspring. 'n Calamity wat jy self skep. Ten minste, dis hoe ek bespiegel en dit slaan my dronk.
Die meeste ander verslawings is ook iewers tussen sleg en besonder sleg vir 'n mens, maar die produk is duidelik – dit wat 'n mens daaruit kry. Wanneer jy 'n dubbelwhiskey in jou keel afgooi, kry jy 'n warm, genoeglike gevoel, jy ontspan, jou tong raak losser en jy is 'n bietjie geiler met die komplimente. Wanneer jy 'n lyn kokaïen snuif, trek 'n golf van genoegdoening deur jou lyf; alle negatiewe denke (selfs in die onbewuste) is vir 20 minute of wat opgeskort en dus alle stres en spanning ook. Jy's wakker en bewus, jy't selfvertroue, en so gaan dit aan.
Wat gebeur met jou as jy R100 000 op die Blackjack-tafel wen? Dit het nog nie met my gebeur nie. Ek kan my indink dat 'n mens bly is, want jy is nou marginaal ryker in die groot prentjie (of vlakker in die skuldgat). 'n Paar dronkerige pensioenarisse het jou wenoomblik waargeneem en hande geklap – as jy die moeite gedoen het om casino toe te ry en nie net aanlyn te dobbel nie.
Maar is daar ook 'n ander fisieke sensasie? Is dit net 'n adrenaliengolf? Is daar énige positiewe sensasie as jy in jou moer in verloor? Voel jy vreemderig lewendig wanneer jy babalaas en in jou moer in 04:00 op 'n Maandagoggend by Sun City se foyer uitkruip, bleeding out of your ass? Of voel jy net vrees en bewing?
Die eienaardigste deel is dat jy baie goed weet die casino se wedkanse is teen jou opgestel, of soos hulle in Vegas sê: The house is stacked against you. Jy wen dalk hier en daar, maar jy sal nie jaar ná jaar as 'n wenner uittree nie, finish en klaar. Tog ry mense steeds daagliks na 'n casino, of teken aanlyn aan, en gee willens en wetens dat hulle uiteindelik sal verloor, hulle geldjie vir die wolwe.
'n Nugtere huismoeder
Eintlik is ek net dankbaar ek en my gesin hierdie vloek gespaar is. Ek is baie verlig dat ek weet my vrou gaan nie eendag by die huis aankom en vir my die volgende sê nie: "Ali, erm, ek moet vir jou iets vertel. Kom sit hier. Kan ek vir jou soet tee gee? Jy weet daai twee woonstelle van jou ma in Hatfield wat ons s'n geword het so vyf jaar gelede, nè? Ja, dis ongelukkig nou nie meer ons s'n nie. Dis, wel, ja, dit gaan baie moeilik wees om hulle terug te kry. Dis, kinda, ja, weg. Wel, jy kan met hierdie ou daaroor praat." (Oorhandig papiertjie. ) "Ja, ek dink dis 'n Nigeriese van, ja, maar hy's baie nice.
“En jy weet ons bond op ons huis wat ons volgende maand sou klaar betaal het, nè? Wel, ja, daar is nou 'n tweede een, so dit gaan nog so 30 jaartjies vat. O, en die bank kom vat anyway volgende week die huis, maar ons sal orraait wees, ons sal sterk staan. Ek ken goeie huur-opsies."
Nee wat, vir kicks stick ek maar by 'n paar biere en 'n Currie Cup-game op 'n Saterdagmiddag en so nou en dan 'n All Black-toets. Nou dáár sal ek 'n geldjie waag op die Bokke se kanse ...
Tot volgende keer
Ali
Warboel Beeldradio
'n Klompie voorstelle vir hoe jy jou voor die kassie besig kan hou in die komende langnaweke.
Oklahoma City Bombing: American Terror
Netflix | Dokumentêr | Regisseur: Greg Tillman
Daar is nie veel nuwe nuus wat in die laaste jare bekend geraak het oor die verwoestende bom wat die Alfred P. Murrah Federal Building in Oklahoma City op 19 April 1995 byna uitmekaar geblaas, 168 mense doodgemaak en 684 beseer het nie. Dit was 'n relatief eenvoudige kunsmis-motorbom wat die regse anti-regeringsterroris Timothy McVeigh saam met sy army-tjommie Terry Nichols gebou het.
Om 30 jaar later ’n dokumentêr hieroor te maak beteken die meeste van die amptenare wat destyds in beheer van die nooddienste was, is nou afgetree en kan vrylik praat. Dieselfde wat familielede van oorledenes betref – dit is nou vir hulle makliker om te praat, want die trauma lê dekades agter hulle. Dieselfde met gewone polisielede, traumadokters, brandweerlede. Die joernalis het ook makliker toegang tot die argiefmateriaal van verskeie nuusdienste, en 'n mens kry net 'n meer volledige prentjie.

Gone Girls: The Long Island Serial Killer
Netflix | Dokumentêre reeks | Een seisoen, drie episodes | Regisseur: Liz Garbus
’n Dokumentêre reeks vir ware misdaaddokumentêr-junkies. Dit gaan oor die Gilgo Beach-reeksmoorde tussen 1993 en 2011 op Long Island, New York. Die dokumentêr onthul net nog meer hoe die sosiale status van slagoffers die deeglikheid van ondersoeke beïnvloed, en ook hoe korrupsie in die polisie en politieke strukture die kwaliteit van ondersoeke beïnvloed. Die reeks fokus op die stryd om geregtigheid van Mari Gilbert, ma van een van die slagoffers, die sekswerker Shannan Gilbert. Tien liggame is gevind en 'n verdagte is uiteindelik vir sewe van die moorde aangekla. Die deeglikheid van die verslaggewing in die dokumentêr is indrukwekkend.

The Lighthouse
Prime Video | Rolprent, spanningsriller | Regisseur: Robert Eggers
Jy het dalk al hierdie 2019-film van Eggers gesien. Indien nie, oorweeg dit sterk. Dis 'n genre-ontwykende stuk werk, want dit is nie werklik horror nie, ook nie heeltemal 'n sielkundige riller nie en ook nie 'n misdaadriller nie, al het dit elemente van al die bogenoemde. Dis heeltemal in swart en wit geskiet en gaan oor 'n nuweling-vuurtoringwag, Winslow (Robert Pattinson), wat iewers in die 19de eeu vier weke lank saam met die veteraan-vuurtoringwag Wake (Willem Dafoe) op ’n klein eiland in ’n vuurtoring moet werk. Dis gebaseer op ’n sinistêre onvoltooide kortverhaal van Edgar Allan Poe.

Reacher
Prime Video | Reeks – derde seisoen, agt episodes | Regisseurs: Sam Hill en Gary Fleder
'n Mens kry leesslawe van Lee Child se Jack Reacher-boekreeks wat glo oor die algemeen nie té negatief op dié reeks reageer nie. Hulle vind dit oorwegend meer verteerbaar as die films met Tom Cruise. Ek vermoed dis omdat ironie moeilik aan Cruise kleef. Ek is toevallig nie een van die slawe van die boeke nie en het gesukkel met die eerste seisoen van Reacher. Ek het die humor gesnap, maar dit was net nie vir my snaaks genoeg nie en ek het gedink die reeks het nie momentum gehad nie. Reacher is ’n eks-spesiale-militêre polisieman wat met net 'n tandeborsel rondswerf en een keer per week "nuwe" klere in 'n welsynwinkel koop. Kontroversie vind hom, baie soos destyds met Angela Lansbury, en dan het hy 'n geweer en 'n paar skille nodig. Hierdie keer het ek wel gereeld hardop gelag, veral by stukkies humor soos waar hy die geweer en 'n paar skille by twee gomgat-straatdwelmhandelaars kommandeer deur hulle bloot onderstebo te klap. Whap. Whap.

House of David
Prime Video | Reeks – agt episodes | Regisseurs: Jon Erwin, Jon Gunn, Alexandra La Roche en Michael Nankin
Ek is die laaste ou wat 'n epiese, Bybelse swaard-en-sandaal-film of -reeks sal aandurf, maar as dit by Dawid kom, voel ek tog so 'n bietjie anders, want hy het 'n storie wat 'n seuntjie se kop kan draai. Dawid, later koning Dawid, was 'n cool dude, sonder enige twyfel. Hy was 'n ware man, asook 'n sensitiewe mens en digter. Ek het gedog ek sal net die stuk kyk tot waar hy die Filistynse reus Goliat met 'n ronde rivierklip in 'n slingervel vermorsel, want dit het nog altyd my verbeelding aangegryp, min wetend dat Goliat se einde die laaste ding is wat gebeur in die laaste minute van episode agt!
Daar sit ek toe 'n hele donnerse Sondag en kyk en kyk en kyk. En hey, dit was nie te sleg nie! Die reuse (Goliat se gabbas) is cool (die skrywers het so 'n bietjie Game of Thrones by die storie ingewerk), die Amalekiete is moer scary, die Filistyne is ’n spul jafels, die Israeliete is nog 'n groter spul jafels en Samuel is 'n fantastiese karakter wat baie omgee vir die toestand van sy indrukwekkende hare en baard. En die vroue is baie mooi. Jammer, maar dit is net so.

Warboel Chow
Tyd vir kwepertert, bitter of te not

Biegoomblik: Ek het in 'n beginnersfout my karamel te warm gemaak en effens gebrand. Dis te donker, maar eetbaar, hoewel bietjie bitter. Ek het ongelukkig nie tyd gehad om dit oor te doen nie, maar wanneer ek dit doen, sal ek 'n foto plaas.
Ek wou nog altyd 'n tarte tatin bak. Jy weet, die klassieke onderstebo Franse appeltert wat met die deeg bo gebak word en dan dop jy hom uit sodat die deeg onder lê en soort van 'n bakkie vir die karamel-appels vorm.
Ek is egter 'n kweperfanatikus en elke jaar as die kwepers in die winkels opdaag, koop ek 'n spul om in te lê of om 'n poeding van hulle te maak met stroop, of net met heuning en kaneel te bak in die oond en dan met vla te eet. Natuurlik is kwepers nie 'n inheemse ding nie, maar hulle voel vir my so deel van Afrikaans soos karmenaadjie en allegaartjie.
Dis seker omdat al die ou huise op die ou Transvaalse platteland met 'n windpomp en sementdam met leivore en 'n vrugteboord ook altyd 'n sestal of so kweperbome gehad het. Ons boord het hulle ook gehad en my ma het elke jaar kwepers ingemaak dat dit klap, met ’n soet, gekruide stropie – heerlik saam met vanieljeroomys.
Ek was baie aangenaam verras toe ek gaan lees waar kwepers vandaan kom. Hulle kom van dieselfde plek as waar die komponis Khachaturian vandaan kom, wat ek net hierna bespreek – Kaukasië, veral Azerbaidjan, en ook Sentraal-Asië, soos Iran en Turkmenistan. Kwepers het egter in die antieke tyd al na die Mediterreense gebied versprei en toe oor die wêreld heen.
Ek besef toe ek kan ’n kweper-tarte tatin probeer bak, want ek sien op die internet dis ’n ding. Hier is my poging.
Kweper-tarte tatin
Wat jy nodig het
1,8 liter water
1½ koppie suiker
’n halwe groot lemoen of een klein lemoen met 'n paar stukkies lemoenskil
1 eetlepel vanielje-ekstrak of een vanieljepeul
enige poedingspeserye waarvan jy hou: kaneel, naeltjies, wonderpeper, gemmer of neutmuskaat, na smaak
5 mediumgroot kwepers, geskil en in skyfies gesny
genoeg deeg om jou pan te bedek (ek dink gewone broskors (shortcrust pastry) pas die beste hierby en dit is baie maklik om self te maak, maar jy kan ook skilferkors gebruik)
En vir die karamel:
sowat 1½ koppie suiker
sowat 100 ml water
½ teelepel suurlemoensap
’n knippie sout

Nou maak jy só
Bring die water tot kookpunt in 'n kastrol en gooi die suiker, lemoen en skil, vanielje, al die speserye wat jy verkies en al die kweperskyfies daarin.

Bring dit weer tot kookpunt en laat prut stadig totdat die kwepers rooskleurig begin word. Dit kan enigiets tussen ’n uur en 2½ uur neem. Moenie dit te vinnig kook nie, want dan gaan die kweperskyfies uitmekaar val.

Trek nou die karamelbestanddele nader. Maak ’n karamel met 'n ligte kleur in ’n pan (bodem sowat 25 cm), wat in die oond kan gaan. Meng die suiker (genoeg om die bodem behoorlik te bedek), bietjie water, suurlemoensap en ’n knippie sout, en roer aanhoudend totdat jou karamel gereed is. Moet nooit haastig raak en die hitte verhoog nie. Belê in ’n suikertermometer en sodra jy 170ºC bereik, onttrek!
Haal jou kweperskyfies met ’n gaatjieslepel uit die kastrol en pak hulle in die karamel. Jy kan hulle mooi probeer pak soos ’n Franse sjef, of jy kan hulle net indonner.

Sit nou die deeg oor wat jy mooi moet sny om oor die kwepers te pas en soos ’n kombersie aan die kante moet indruk.

Bak die tert sowat 25-30 minute by 180ºC, haal dit uit die oond en laat 'n paar minute afkoel, maar nie so lank dat die karamel aan die pan begin kleef nie. Sit ’n bord bo-op jou pan, dop die hele besigheid behendig dog versigtig om, en tadaa! Sit dit voor met roomys, geklopte room of volroomjogurt.

Warboel Wysies
Khachaturian, die vriendelike Armeen wat die Russe verbaas het
Dis dalk omdat Aram Khachaturian (1903-1978) so 'n joviale kêrel, lojale vriend en aanvanklik entoesiastiese jong kommunis was, dat hy nie vroeg-vroeg in Siberië beland het nie. Of dalk was dit net die feit dat hy soos Stalin eintlik 'n inkommer uit Tbilisi in Moskou was.
Tbilisi was Georgië se hoofstad en Stalin was 'n Georgiër, maar Tbilisi was in daardie stadium ook Armenië en Azerbaidjan se hoofstad in die Transkaukasiese Sosialistiese Federale Sowjetrepubliek (1921-1936).

Jy kan jou indink hoe dit vir 'n slim jong man met ambisie moes gewees het, toe sy deel van die wêreld, die klein en arm Armenië, in 1921 "ge-Sowjetiviseer" is. Moskou en Leningrad (St. Petersburg), eens veraf wêreldstede, was skielik deel van sy wêreld en hy kon daarheen reis, studeer en werk.
Khachaturian was 'n laat beginner met musiek. Hy was 22 toe hy by die Gnesin Russiese Akademie van Musiek in Moskou begin studeer het as tjellis en reeds 26 toe hy by die beroemde Moskou-konserwatorium komposisie onder Nikolai Mayakovsky gaan studeer het.
Met sy wonderlike talent en vermoë om elemente van die volksmusiek van die Kaukasiese gebiede in sy musiek te gebruik, het hy vinnig die aandag getrek van die twee ander groot Sowjetkomponiste van die tyd, Sergei Prokofiev en Dmitri Shostakovich. En natuurlik, so deur die fluistertelegraaf, Joseph Stalin s'n.
Stalin was aanvanklik beïndruk deur en goedgesind teenoor die jong, entoesiastiese Armeen wat al hoe meer 'n leiersrol in die Sowjetmusiekwêreld gespeel het, totdat die Ystergordyn in die middel van die veertigerjare ontstaan het. Alle kuns en musiek wat gewild was in die Weste, is met agterdog bejeën en Khachaturian, Prokofiev en Shostakovich is op verskillende tye beskuldig van formalisme – eintlik 'n literêre term wat verwys het na 'n inwaartse, abstrakte fokus in musiek, pleks van sosiale realisme waarmee 'n politieke boodskap oorgedra kon word.
Die "probleem" wat staatsamptenare soos Andrei Zhdanov van die Agitprop (departement van agitasie en propaganda) geïdentifiseer het, was glo in sy derde simfonie in 1947. Dit was skynbaar "anti-mens" en te modern vir Stalin.
Sy straf was dat hy teruggestuur is na sy vaderland, Armenië, vir hernude kommunistiese opleiding. Maar al wat eintlik meestal gebeur het, is dat hy sy Armeense wortels herontdek en een van sy grootste werke gekomponeer het: die ballet Spartacus, die storie van 'n generaal wat teen die Romeinse Ryk gerebelleer het. Stalin is in 1953 dood en hierdie soort vervolgings het getaan.
Miskien was Khachaturian se grootste bydrae sy ontwikkeling van die kuns om bykomstige musiek vir rolprente te skryf, want film het gefloreer in die Sowjetunie. Dis dalk in 'n Amerikaanse film waar die meeste mense een van sy bekendste twee werke gehoor het. Eerstens die sabeldans uit sy ballet Gayane, wat letterlik honderde kere gebruik is en uitstekend werk in ’n episode van Tom & Jerry. Of dalk het jy die wonderlike Balletsuite No. 2: I. "Adagio of Spartacus and Phrygia" herken in die luukse openingstonele van die Coen brothers se The Hudsucker Proxy.
Die Einde.
Lid kommentare