Goeiemôre
'n Kontak in die media, Cobus du Plessis, het my die afgelope week daaraan herinner dat Daybreak Foods se totale ineenstorting nie die mediadekking kry wat dit verdien nie. As jy wil lees hoe belastinggeld vermors word en goeie bedoelings soms waarde vernietig, lees verder. So terloops, teen die einde van hierdie storie is die liedjie "Hoenderman" van KOBUS! – my verhaal oor Daybreak Foods het soveel meer sin as jy daarna luister; dis lieflik en sal jou depressie oor my morbiede relaas deels verlig.
Ek sit Maandagaand by Stark Studios in Randburg en wag om op Lourensa Eckard se In Gesprek op kykNET te praat oor die waarskynlikheid van 'n wit president vir Suid-Afrika. Dis nou as of wanneer die ANC uiteindelik finaal uit ons lewens verdwyn het. Om die tyd te verwyl gesels ek met Tanya van Meelis, hoof van Cosatu se beleidseenheid. Haar idees oor die land se ekonomiese probleme is verfrissend pragmaties en oortuigend.
Sy vertel my die werklike koste van swart ekonomiese bemagtiging (SEB, oftewel BEE) is opgesluit in die korrupsie waarmee dit gepaard gaan, nie die toepassing daarvan nie. In my agterkop draal 'n storie waaroor ek met haar wil gesels, die tragiese verhaal van Daybreak Foods. Ek wil Van Meelis daaroor vra, maar voordat ek kan, is sy weg.
High noon at Daybreak
Daybreak Foods, oorspronklik bekend as Daybreak Farms, was aanvanklik een van die pluimveebedryf se SEB-suksesverhale. Met verloop van 'n dekade het Daybreak se verhaal egter ontwikkel van 'n transformasieprojek ter waarde van R1,2 miljard tot 'n rampspoedige saak van wanbestuur, politieke inmenging, korrupsie en uiteindelik ineenstorting.
In Junie 2015 het die landboureus AFGRI sy pluimvee-afdeling aan ’n SEB-konsortium onder leiding van Matome Maponya Investments (MMI) verkoop. Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het die R1,2 miljard-transaksie met fondse van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) en die Vergoedingsfonds gefinansier. Die aandeelhouding was 54% vir die SEB-konsortium, 36% vir die OBK namens die staat, en 10% vir Daybreak se werknemers en bestuur.
Bemagtigingsmaatskappye herinner my soms aan die pamflette wat op die straathoeke van Melville versprei word met die belofte dat jy Dr. Makwanasi moet kontak vir 'n penisverlenging. Dieselfde medisyne sal jou vyand les laat opsê, jou kar se koppelaar fix en die DBV oortuig om jou hond terug te gee. MMI word in bemarkingsmateriaal as 'n gediversifiseerde beleggingshouermaatskappy beskryf wat in 1995 gestig is. Die maatskappy is volledig in swart besit, met 'n hoofkantoor in Fourways, Gauteng. Sy fokus is langtermynbeleggings in hoëpotensiaal-, hoëprestasie-bates in verskeie sektore, insluitend landbou, finansies en eiendom. Die maatskappy beklemtoon transformasie, volhoubare groei en gemeenskapsontwikkeling as kernaspekte van sy beleggingsfilosofie. Ja, sure.
Jimmel tog, was ons nie al hier nie?
MMI het so bietjie van 'n verlede. Dalk kan jy jouself herinner aan hulle betrokkenheid by SA Home Loans (SAHL). In 2013 het die OBK 'n leningsfasiliteit van R10,5 miljard aan SAHL toegestaan. Die idee was om bekostigbare huislenings aan lede van die Staatsdienswerknemerspensioenfonds (GEPF) te verskaf. MMI het 'n 25%-aandeel in SAHL deur die Bolatja Hlogo-konsortium gehad. Vir die fasilitering van die ooreenkoms het hulle 'n nederige transaksiefooi van R45 miljoen gevra.
Die eis is betwis en bewerings is gemaak dat MMI druk op SAHL geplaas het om die fooi te betaal. Die saak het by Suid-Afrika se Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) gaan draai. MMI se hoof, Kholofelo Maponya, het enige wangedrag ontken en frustrasie uitgespreek dat hy nie die geleentheid gegun is om sy kant van die saak by die OBK-kommissie van ondersoek te stel nie. Ek kan geen inligting oor die uiteinde van die saak bekom nie. Dalk het dit net in die dryfsand weggesyfer.
Desnoods voetstoots
Nietemin. Die Daybreak-transaksie is met trompetgeskal gevier as 'n mylpaal vir ekonomiese transformasie in die landbou. Maar agter die lofbetuigings was daar reeds ernstige probleme. Die besigheid is inderwaarheid voetstoots verkoop. AFGRI het in werklikheid 'n sukkelende besigheid aan 'n onervare koper gesmous. Binne ses maande was Daybreak tegnies insolvent en kon hy nie meer sy skuld betaal nie. Gegewe die verwagtinge vir die projek moes die OBK ingryp. Teen laat 2017 het die OBK namens die staat volle eienaarskap van Daybreak oorgeneem.
Daybreak se gebrek aan integrasie in die waardeketting van die pluimveebedryf, anders as mededingers wat hulle eie voermeule en broeikaste besit het, het hom uiters kwesbaar vir markskommelinge, maar veral kostestygings, gemaak. Die OBK het verskeie finansiële en bestuursmaatreëls ingestel, onder meer ’n R250 miljoen-kredietfasiliteit in 2017, waarvoor die Landbank moes pa staan. Maar die verliese het voortgeduur en die SEB-vennote se aandele het uiteindelik effektief tot 'n ronde nul verminder.
Die werklikheid is dat die SEB-belang nooit regtig substansie gehad het nie. Ek het al dikwels gesê entrepreneurs wat nooit 'n risiko geloop het om 'n rand te bekom nie, het nie noodwendig 'n institusionele geheue van mededinging nie. Groei is 'n hersenskim sonder die ervaring van risiko en die vermoë om mededingend te wees. Die OBK het die aandele én skuld van die SEB-vennote befonds, wat beteken hulle het waarde sonder enige finansiële risiko ontvang. Uiteindelik sou die gebrek aan groei die projek onder die water intrek.
Die Mpati-kommissie trek Boas se vere
In 2018 is Boas Seruwe op ’n vyfjaarkontrak as uitvoerende hoof aangestel in die hoop dat hy die projek se verliese kon omdraai. Met 'n oplewing in die pluimveemark en verskerpte kostebeheer het Daybreak in die 2017/'18-boekjaar 'n wins van R193 miljoen aangeteken. Werkgeleenthede is behou en die OBK en Departement van Arbeid het die sukses as bevestiging van hulle beleggingsvisie beskryf.
Maar die herstel was kortstondig. In 2019 het die OBK-kommissie van ondersoek (Mpati-kommissie) kommerwekkende besonderhede oor die oorspronklike transaksie openbaar gemaak. Maponya het R12 miljoen in fooie ontvang sonder om self enige kapitaal by te dra. Die kommissie het ook bevind dat die OBK moontlik aan bevoordeling skuldig was en nie voldoende toesig oor die belegging gehou het nie.
In 2020 het Daybreak, ondanks 'n enorme skuldlas en sonder toestemming van die Landbank 'n dividend van R50 miljoen verklaar. Die bank sou uiteindelik vir Seruwe met R3,5 miljoen beboet, maar die vrae oor korporatiewe bestuur en prioriteite met sulke transaksies het soos 'n handgranaat gedraal.
In 2021 het interne fluitjieblasers bewerings van grootskaalse bedrog gemaak. 'n Onafhanklike forensiese verslag, getiteld Fox in the Chicken Coop, het bewyse gelewer van meer as R136 miljoen wat deur onreëlmatige kontrakte en kickbacks uit die maatskappy se rekening onttrek is. Beide Seruwe en die finansiële hoof, Cobus van Niekerk, is by die skemas betrek.
Op 11 Mei 2021 is Seruwe met onmiddellike effek afgedank. Heel voorspelbaar het hy alle klagte ontken en beweer dat hy in werklikheid verwyder is omdat hy korrupsie op bestuursvlak probeer ontbloot het. In 'n ironiese nadraai is Van Niekerk, wat ook by die bedrog betrek is, as waarnemende uitvoerende hoof aangestel, 'n besluit wat letterlik die knuppel in die hoenderhok van openbare mening gegooi het.
Seruwe het sy afdanking by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA, oftewel CCMA) betwis. In November 2021 het die KVBA beslis dat sy afdanking onregverdig was en 'n bevel vir sy heraanstelling met agterstallige vergoeding uitgereik. Die Arbeidshof het die uitspraak egter in Desember opgeskort, hangende hersiening.
Intussen het die verhouding tussen die OBK en Daybreak se raad versleg. Die OBK het die raad daarvan beskuldig dat hulle belangrike hervormings teenstaan. In September 2022 het die OBK hom tot die howe gewend. Nuwe onafhanklike direkteure is in Oktober 2022 aangestel met die mandaat om die forensiese verslag se aanbevelings te implementeer.
Enkele dae ná die nuwe aanstellings is 'n rekenaar met sensitiewe data uit Daybreak se kantore gesteel. Hierdie voorval het vermoedens van sabotasie en 'n toesmeerdery versterk. In dié tyd is opportunistiese kontrakte met 'n OBK-amptenaar, Bongani Mathebula, verbind; die verrotting het verdiep.
Nuwe vere, ou voël
In 2023 het Daybreak Farms sy nuwe naam gekry: Daybreak Foods. 'n Nuwe uitvoerende hoof, Richard Manzini, en 'n plaasvars uitvoerende span is aangestel. Maar wee o wee, marktoestande het bly verswak, internasionale en plaaslike voerkostes het bly styg. Voëlgriep het produksie ontwrig, en met beurtkrag het koste buite beheer geraak. Ironies genoeg het Daybreak Foods se mededingers goed gevaar en selfs gefloreer. Teen einde 2024 was die maatskappy weer feitlik insolvent.
In Desember 2024 het Daybreak Foods in sy grootste kontrak R42 miljoen geskuld; regsaksie het gedreig. Shoprite, Daybreak Foods se grootste kliënt, het met 'n noodooreenkoms van R100 miljoen ingegryp om die besigheid deur die vakansieseisoen aan die gang te hou. Dit was 'n tydelike oplossing.
In Januarie 2025 het Daybreak Foods die OBK om 'n verdere R250 miljoen gevra om te oorleef. Die versoek is geweier. Kort daarna het Manzini saam met sy operasionele en kommersiële hoofde bedank. Net die finansiële en menslikehulpbronne-hoof het agtergebly. Die raad het die bedankings as "persoonlik" voorgehou, maar die werklikheid was dat die onderneming in duie gestort het.
Teen Maart 2025 het gerugte oor likwidasie vinnig versprei. Krediteure was onrustig en sonder betaling. Die bestuur het beweer dat Daybreak Foods nie gelikwideer sou word nie, maar terselfdertyd "alle opsies ondersoek", altyd 'n aanduiding dat sakeredding of selfs die verkoop van die besigheid ernstig oorweeg word.
Hoendermoord teen Daybreak
In April het 'n tragedie in die media beland. Die DBV het op klagtes van fluitjieblasers gereageer en plase in Delmas besoek. Dit was 'n grusame toneel. Duisende hoenders was reeds vir minstens 48 uur sonder kos. Baie het mekaar begin aanval. Kannibalisme, oop ingewande, afgeskeurde vlerke en hope dooie hoenders was orals.
Die DBV het meer as 5 500 voëls uitgesit en aangekondig dat hulle kriminele klagte teen Daybreak Foods se direksie sou indien. Openbare verontwaardiging het gevolg; media soos Daily Maverick en African Farming het die wrede toestande grafies beskryf.
Teen Mei 2025 was Daybreak Foods effektief nie meer operasioneel nie. Produksie het tot 'n stilstand geknars, bestuurders was weg en regsprosesse het gewag. Die OBK en ander staatsfondse het miljarde rande verloor. Parlementêre ondersoeke is begin om antwoorde te kry.
Dit het duidelik geword dat Daybreak nie net aan markdruk beswyk het nie, maar ook aan onbeholpe bestuurspraktyke, swak kontrakooreenkomste, politieke inmenging en deurdringende interne korrupsie. 'n Projek wat bedoel was om swart entrepreneurskap te bevorder het uiteindelik net 'n paar tenderpreneurs bevoordeel, terwyl die werkers, belastingbetalers en diere die hoogste prys betaal het. In die geval van Daybreak Foods was Tanya van Meelis van Cosatu dalk tog reg.
Tot volgende week
Piet
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
[En, as jy hierdie in jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na heel onderaan hierdie brief en klik op die klein speech bubble wat sê "Comment".]
Vir jou ore
Die Afrikaanse metalgroep KOBUS! is in die jaar van onse Here 2000 deur Theo Crous, voorheen van Springbok Nude Girls, en Francois Breytenbach Blom, voorheen van Voice of Destruction, gestig. KOBUS! het hulle debuutalbum, Kobus!, in 2002 uitgereik – 'n album met 'n eklektiese mengsel van style, en "Hoenderman" as een van die snitte. Ek het hulle in die Bohemian sien optree, kort nadat dié kroeg en musiekplek vanuit Richmond, Johannesburg, na 'n plek oorkant RAU (nou die UJ) geskuif het. Die liedjie het kultusstatus gehad.
In 2004 het hulle die album 100% Skuldgevoelvry uitgereik, gevolg deur Swaar Metaal in 2007. Laasgenoemde album het erkenning ontvang as die eerste volwaardige Afrikaanse heavy metal-album en in 2008 die toekenning vir Beste Afrikaanse Rockalbum by die Suid-Afrikaanse Musiekpryse gewen.
Ná 'n tyd van relatiewe stilte het KOBUS! in 2024 teruggekeer met die uitreiking van die enkelsnit "Drankduiwel", wat hulle eerste nuwe musiek in 16 jaar verteenwoordig. Lank lewe KOBUS!
Vir jou oë en hart
The Red Wheelbarrow
so much depends
upon
a red wheelbarrow
glazed with rain
water
beside the white
chickens
– William Carlos Williams
Die Einde.🐓
Lid kommentare