Swart dahlias, die Grensoorlog + die psige van mans

ANNELIESE BURGESS vertel van die seisoen se swart-rooi dahlias, wonder oor die verwonding van mans, probeer verstaan waarom ideologie mense dom kan maak en besin oor hoekom die slimste mense weet wat hulle nie weet nie.

Swart dahlias, die Grensoorlog + die psige van mans

Goeiemôre

Nou die aand het dit gestórm. Water het oral ingestroom en my vloere was naderhand getapyt van die handdoeke. Ek is mal daaroor as dit so woes raak; blits en donder oor die see. Die volgende oggend sien ek die koraalboom se swaarste tak lê op die grond, die grondpad voor my huis is 'n donga en baie van my dahliablomme het afgebreek. Ek was die laaste weke snoep om blomme te sny, want ek geniet dit om hulle laaste hoera voor die herfs verby is van my stoep te kan bewonder, maar ek het ná die reën al die afgebreektes gaan afknip en in 'n ry op my kombuisvensterbank uitgestal.

Ek het hierdie somer nie genoeg aandag aan my tuin gegee nie. Daar was te veel hartseer en ontwrigting om mee te cope, en ek moes hard werk om meer veerkragtig te (probeer) wees, en meer vrygewig en begrypend. En ek was baie weg van die huis. Dit was asof my tuin haarself van my weerhou het omdat ek nie teenwoordig was nie. Asof my dahlias nodig gehad het dat ek soggens onder die prieel by hulle sit soos ek laas somer gedoen het.

Maar toe kom ek huis toe en selfs die pieperiges kom by in 'n laaste pragvertoning. My gunsteling vanjaar is 'n swart-rooi dahlia. My hart wil gaan staan oor die misterie van die kleur.


Voordat ek aangaan, net vinnig iets oor die formaat van my weeklikse brief. Ek mymer elke week oor 'n verskeidenheid goed, van kos tot politiek, en probeer dit in "afdelings" doen sodat jy kan verbyhou as iets jou nie interesseer nie. Sien dit as 'n spyskaart – ek wil niemand verveel nie. 😈

[As jy hierdie op jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na heel onderaan aan hierdie brief en klik op die klein "speech bubble" wat sê "Comment".]


Oor mans. En oorlog. En ander donker bokse ...

My kop het hierdie week weer en weer gedraai na vrae oor die harte en psige van mans oor die algemeen. Maar ook oor die toestand van Suid-Afrikaanse mans uit 'n spesifieke generasie wat deur die verskeie gewapende konflikte van ons verlede is.

Een van die sinvolste verhoudings van my lewe was met iemand wat iewers in sy lewe baie seergekry het. Ek dink ten minste 'n deel van sy verwonding het gelê in die mis van 'n vergete oorlog op 'n verafgeleë grens. Hy het nie so gedink nie. En ja, miskien het die sade van sy broosheid iewers anders gelê – in 'n skrikwekkende byna-verdrinking, 'n wrede werkplek, of gevaarlike werksomstandighede waarin daar meer as een keer op hom geskiet is. Of miskien was dit alles bo-op 'n inherente sagtheid wat hom nie toegelaat het om die gewelddadige vergrype en ervarings in sy psige te verwerk nie.

Dit is nie my verhaal om te vertel nie en nie my werk om dit te probeer verstaan nie, maar omdat ek 'n lang pad gestap het met iemand met gediagnoseerde, maar onbehandelde posttraumatiese stresversteuring (PTSV), weet ek dat dit uiteindelik tot dieper en dieper verwonding en vereensaming lei. 'n Mens moet heel wees om liefde te kan gee en ontvang. En met heel bedoel ek nie sonder letsels nie (want dit is in ons lewensletsels waar ons uniekheid en interessantheid ook lê), maar 'n plek van balans waar ons letsels die littekenweefsels van 'n goed geleefde lewe word, in plaas daarvan om oop wonde te bly.

'n Ander man wat baie diep in my hart kom lê het toe ek nog 'n jong vrou was, was tydens die vergete oorlog 'n offisier in 'n spesialiseenheid. Hy is baie ernstig gewond en is amper op die slagveld dood, maar het as 'n hoogs funksionele mens voorgekom. Ons het oor die jare vriende gebly, en toe, byna 30 jaar nadat ons ons verhouding beëindig het, het hy my op 'n dag gebel om te sê dat sy PTSV, wat hy gedink het al daai jare onder beheer was, weer soos etter uit 'n ontsteekte wond begin drup het, en dat hy knak onder die gewig daarvan.

'n Ander vriend, 'n ondersoeker by die Nasionale Vervolgingsgesag en voormalige polisieman, het homself in 'n psigiatriese hospitaal laat opneem toe sy verwonding hom uitmekaar laat val en sy vrou hom gelos het. Ek het daar vir hom gaan kuier. Die plek was vol mans met PTSV. Twee van die mense in sy terapiegroep was voormalige ANC-soldate. Ek onthou nie nou meer al die besonderhede nie, maar wel dat hy my vertel het een van hulle het sy geestesverwonding in 'n MK-kamp opgedoen.

Een van die eerste dokumentêre wat ek gemaak het as verslaggewer vir die Truth Commission Special Report-reeks by die SAUK, was oor psigiese oorlogsverwonding. Die titel van die dokkie was Bossies. Ek het 'n advertensie in Die Burger en Beeld geplaas en gevra dat mense wat bereid was om te praat my moet kontak. Ek was verstom oor die reaksie. Ek het ure en ure met mans op die foon gepraat, maande lank. Die meeste wou niks weet van voor 'n kamera sit nie, maar hulle wou met iemand praat. Baie het skaam gevoel oor hulle verwonding; gevoel dit was 'n teken van swakheid. En hulle het my ook oor en oor vertel dat hulle nie eintlik met ander mans daaroor kan praat nie, dat dit nie is hoe mans met mekaar ís nie. Dat daar om die braaivleisvuur eerder grappies en onthou-jy-nog-stories vertel word. Dat hulle nooit sou dink om te praat oor hulle trauma nie.

Ek gaan soek dié week weer T.S. Eliot se meesterlike gedig "The Hollow Men", wat hy in 1925 ná die Eerste Wêreldoorlog geskryf het, en hierdie reëls tref my opnuut:

Is it like this
In death's other kingdom
Waking alone
At the hour when we are
Trembling with tenderness
Lips that would kiss
Form prayers to broken stone.

Ek wonder of daar miskien oor die jare se groter openlikheid oor geestesgesondheid 'n verandering gekom het in hoe mans psigiese goed hanteer. My persoonlike ervaring sê vir my nee.

'n Manlike leser skryf dié week vir my dat Amanda Strydom se album State of the Heart hom in sy middel-dertigs vir die eerste keer laat huil het.

Between the idea
And the reality
Between the motion
And the act
Falls the Shadow

Uit my ervaring van lief wees vir iemand wie se siel seergekry het, is daar nog iets wat ek by my goed-wat-ek-wéét-lys kan voeg: Onbehandelde angs en depressie laat los nooit sy wurggreep as jy dit nie in die oë kyk nie. Tyd genees nie dié wond nie. Dit is 'n dief. Dit steel jou energie en jou verhoudings. En maak jou kapasiteit om gelukkig te wees en 'n band met ander te hê dood. Dit maak jou bang vir die lewe en jou wêreld krimp van die inspanning om die donkerte weg te hou. En die afgrond bly daar en lok jou al hoe nader, totdat jy wonder of dit nie makliker is om net te spring nie.

Daar is nie swakheid in geestesverwonding nie. As jy jou arm breek, gaan sien jy 'n dokter en laat sit jou arm in gips. Daar is gips vir die psige ook.

Een van die groot lesse in my lewe is die wete dat niemand 'n ander mens gesond kan maak met liefde nie. Niemand kan 'n ander mens verander of heelmaak nie. Daardie werk moet elke persoon vir homself doen.

Nog iets wat ek wéét?

Liefde is 'n salf, nie gips nie.


Die slimste mense – en die domste

'n Laaste gedagte. Ek ontdek vandeesweek die briljante Substack-blad van Brian Klaas, medeprofessor in wêreldpolitiek aan die University College London. Hy beskryf sy skrywes as "Wandering around an infinitely complex, ever changing world" – right up our alley, tjek dit bietjie uit.

“Knowingness” and the Politics of Ignorance
Much ink has been spilled about “polarization.” Most of it ignores a major cause: the widespread, misplaced faith that we already know that which we do not know.

Klaas praat van "knowingness" as 'n soort intellektuele verwaandheid wat veronderstel dat ons reeds al die antwoorde het, en sê hierdie vals sekerheid en 'n gebrek aan intellektuele nuuskierigheid hou die mees fundamentele gevaar vir ons demokrasieë in.

"In 21st-century culture, knowingness is rampant. You see it in the conspiracy theorist who dismisses contrary evidence as a ‘false flag’ and in the podcaster for whom ‘late capitalism’ explains all social woes. It’s the ideologue who knows the media has a liberal bias – or, alternatively, a corporate one. It’s the above-it-all political centrist, confident that the truth is necessarily found between the extremes of ‘both sides’. It’s the former US president Donald Trump, who claimed, over and over, that ‘everybody knows’ things that were, in fact, unknown, unproven or untrue."

Dit was nog altyd my ervaring dat die slimste mense altyd die weetgierigstes is. En ook weet hoe min hulle eintlik weet. Die domste mense op aarde is die know-it-alls. En ook die verveligste.

Daarmee groet ek.

Mooi loop

Anneliese
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.

Ek vra 'n guns. As elkeen wat hierdie brief gelees en geniet het, net een ander mens werf, verdubbel ons die registrasies oornag! Stuur hierdie brief vir iemand aan, sê hulle moet op die webwerf gaan loer (binne-land.ghost.io), of vra hulle om my per e-pos of WhatsApp te kontak (083 413 6573), dan registreer ek hulle op die stelsel. Of deel op julle Facebook of Insta!

LOS GOETERS

Luistergoed

Kookgoed

Ek kook al hoe meer net groente vir 'n ete. Dit is interessanter om mee te werk, en vir my al hoe interessanter om te eet.

Ek het hierdie week drie disse om aan te beveel, al drie van Instagram, nogal.

Die Nieu-Seelandse sjef Ray McVinnie is tans my Insta-fave. Hy maak wonderlike kos, en sy video's is kort en hy praat nie 'n woord nie. Wys net hoe. Ek sukkel deesdae met baie van my ou gunsteling-videokokke, soos Carla Lalli Music, want al die gepratery verveel my effens. Vir McVinnie is "dit is lekker" net so 'n effens geligte wenkbrou as hy aan iets hap. Knorrige-oom-vibes. Mal daaroor.

Ek het nog 'n paar blikkies ansjovis uit Italië gehad vir McVinnie se Aioli Potatoes with Beans and Anchovy en Anchovy & Parmesan Cauliflower. En met die orige Italiaanse pistachio's in die vrieskas het ek nou die dag Andy Baraghani se Cheesy Charred Cabbage with Meyer Lemon gemaak. Kool is so 'n stil, beskeie groente, maar op 'n vuur of in 'n rookwarm pan verander dit in iets verhewe. (Het jy al 'n heel koolkop tussen die kole gebraai?) Hier lê die triek in die sous: suurlemoene wat skil en al met baie peper en 'n bietjie heuning en olyfolie in 'n voedselverwerker fyn geblits word.


Koopgoed

Ek het hierdie week my gunsteling klein ovaal-haarborsel van The Body Shop gaan vervang. The Body Shop was in my jong dae die ultimate opwinding, in die dae toe dit nog aan Anita Roddick behoort en die brand 'n hippie-rebelsgeit en ekobewustheid gehad het. Hulle het daai tyd 'n seewierseep en bergamot-stortjel verkoop, wat ek menigmale van oorsee af teruggebring het. Toe, in 2006, verkoop hulle die besigheid vir ongeveer $1,1 miljard aan die Franse kosmetiekreus L'Oréal; dit het vir my sy bekoring verloor. Maar my dogter is mal oor die plek. So kom ek toe weer daar saam met haar.

Ons hou van die seep, stortjel en lyfroom uit die British Rose-reeks. Die body butter kos R220 en hou vir ewig. Die reuk is absoluut lieflik. En die nuwe Camomile & Rose Cleansing Butter is vir my 'n vonds. Dit maak jou vel skoon sonder om dit van vog te stroop (belangrik vir die oueres van ons). Ek vee dit net af met 'n warm flennielap – ek hou sommer 'n hele hoop van hulle in my stort en langs die wasbak.

Dan het ek hierdie week Volume 1 van Groot Verseboek gesoek. Myne is skoonveld. Ek gaan soek aanlyn by Graffiti Boeke, maar dis uitverkoop, en ek kom toe af op Kakkerlak Boeke. What a find! Nie net is Groot Verseboek op pad na my nie (R75!), maar ek kon 'n paar gate in my Breyten-versameling vul en het ook Antjie Krog se Dogter van Jefta en Beminde Antarktika gekry.


Lees ook ...

El Hierro: How the youngest Canary Island escaped mass tourism
While protests against mass tourism rage on neighbouring islands, El Hierro – the wildest and most westerly of the Canary Islands – has quietly chosen to do things very differently.
I was a British tourist trying to leave America. Then I was detained, shackled and sent to an immigration detention centre
Graphic artist Rebecca Burke was on the trip of a lifetime. But as she tried to leave the US she was stopped, interrogated and branded an illegal alien by ICE. Now back home, she tells others thinking of going to Trump’s America: don’t do it
The Perilous Life of the Solitary Pangolin
Poached to the edge of extinction, the bashful animals are getting by with a little help from their friends in Africa.
Is Trump’s tariff chaos encouraging China’s push for closer neighbourhood ties?
This week’s central party conference and the start of Xi’s regional tour on Monday point to ‘growing focus’ on the neighbours.

Die Einde. Ek gaan nou in my kar klim en plaas toe ry. Ek verlang na my boetie🚶‍♀️


Deel hierdie artikel
Die skakel is gekopieer!

Lid kommentare

Jy mag ook hiervan hou
Lugpos op 'n Saterdag Anneliese Burgess

Dobbel is net 'n jammerlike vermorsing van drinktyd

Dobbel is seker die mees verbeeldinglose manier om 'n bietjie pret te hê, reken ALI VAN WYK. Hy gee vyf lekker televisiekyk-opsies vir die vakansiedae, bak 'n Franse appeltert, maar met kwepers, en maak 'n denkbeeldige draai by 'n wonderlike Armeense komponis.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Woensdag. Piet Croucamp

Ons ambassadeur in Amerika en die Orde van die Skaapkop

'n Wit, Afrikaanse man as ambassadeur in Washington sal dalk net Donald Trump se primitiewe instinkte kalmeer, reken PIET CROUCAMP. En dan deel hy 'n tradisionele resep uit die Orde van die Skaapkop – met iets gepas om na te luister daarby.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Sondag. Anneliese Burgess

In 'n papierboot op 'n stormsee, Nick Cave + Songezo Zibi oor SA

ANNELIESE BURGESS drink tee onder ’n doringboom, vertel oor die rocker Nick Cave se ‘spiritual renovation’ ná sy seun se dood, en deel insigte van 'n gesprek met Songezo Zibi oor die DA, ANC en die siel van Suid-Afrika.
Lees Meer →