Goeiemôre
Ek het my 33ste verjaarsdag op Mauritius gevier. Ek en 'n kameraman vir die SAUK se Special Assignment was op die spoor van 'n berugte seerower-visserskip wat Patagoniese tandvis in die afgeleë suidelike waters rondom Suid-Afrika se Prins Edward- en Marion-eilande gevang en dit dan in Port Louis verskeep het. Toe die ondersoek veel langer duur as wat ons verwag het, en ons geld opraak, het ons gaan bly by 'n plaaslike skeepsvoorsiener en sy Suid-Afrikaanse vrou met wie ons bevriend geraak het. Dinesh en Priya Jugnauth het in 'n arm deel van Port Louis gebly, 'n klein huisie omring met piesangpalms.
Op my verjaarsdag het hulle my verras met 'n uitstappie in Dinesh se bootjie. Buite die hawe, op die oop see, het ons Priya se krapkerrie geëet, met yskoue Blue Marlin-bier, en toe kom 'n koek te voorskyn, met 33 kersies op. Die ervaring bly in my geheue geëts as een van daardie groot lesse in die goedheid van mense.
Ek het eers 'n hele ruk daarna besef dat ek 'n jaar by my ouderdom gereken het. Dat daar eintlik net 32 kersies op daai koek moes gewees het. Vyf-en-twintig jaar later het ek besluit om nou die jaar terug te neem. Teen die opdraand, ná 55, is mens nie meer so vrygewig met jare nie. So, hierdie jaar doen ek weer 56.
Daar het die laaste tyd baie grond onder my voete geskuif, en ek wou vanjaar op die plaas wees vir my verjaarsdag. Alhoewel my ouers nie meer met ons is nie, is Bannockburn, en die groot Indwe-vlakte, steeds 'n plek van behoort vir my. As ek by die voorhek inry en die ou, mankoliekerige plaashuis aan die bopunt van die boomlaning te voorskyn kom, voel dit steeds soos huis toe kom.
My ouers se huis is min of meer soos dit nog altyd was. Ek het oor die 20 maande sedert my ma se afsterwe stadig begin om goed rond te skuif, reg te pak en weg te pak. Maar daar is goed waaraan ek nog nie kon raak nie, soos my ma se klere. My ouers se sonnige slaapkamer is nou myne as ek kom kuier, maar ek kan steeds nie my ma se kas oopmaak sonder dat die reuk van hout, naftaleen, stof en lap iets in my oopkloof nie.

Ek het 'n perfekte vroegoggend gehad. Wakker geword met die eerste lig deur gordyne, bietjie gelê en kyk na die berg – ek hou van die liminale spasie tussen wakker word en opstaan vir koffiemaak. Daar kom lê soms goed in my kop wat in die onderbewussyn van slaap losgetorring het, soos dié gedig:
Net een maal, een maal nog,
in die son van die middag,
met jou hand in my hand,
stap vir stap,
oor die klippe van die drif,
waar die water blink en skuif,
een maal nog,
een maal teen my hart.
Een maal nog,
een maal teen my hart,
een maal voor die aandval
van die nag,
een maal voordat ek,
soos die sinkende son,
onder die horison wegsak.
(In my kop is dié 'n D.J. Opperman-gedig met die naam "Laaste Begeerte", maar ek kan dit nêrens opspoor nie. Help tog. Is dit 'n versinsel in my kop?)
Anyway, ek het later die dag 'n fles tee gemaak, en saam met die honde gestap na die singel doringbome op die randjie waar ek my ma se teenwoordigheid soms gaan soek. Ek het vir haar begrafnis 'n kisruiker gemaak met blomme, veldbossies en 'n doringtak wat ek daar gaan afsny het; dit was een van ons gunstelingplekke.

Ek het iets besef.
As 'n mens deur die poort van die middeljare beweeg, is jy soms in 'n papierboot op 'n stormsee. Die lewe is grootliks 'n kwessie van hoe ons onsself dra – ons harte, ons vrese, ons mislukkings, ons vergifnis – in die optog van die jare. En dit help om wortels te hê. Ou wortels. Op 'n plek waar die verlede en hede een is.
Ná my ma se teraardebestelling stap Lizzy Faku saam met my terug van die begraafplaas na die skuur waar ons bymekaarkom vir tee. Sy hou my hand vas. En doen dit steeds. As ek plaas toe kom, laat weet ek vir Lizzy. Dan sluit sy die huis oop en vee uit en maak my bed op met vars linne, en sit blomme op my bedkassie. En sommige dae kom sit sy hand by in die kombuis of met die oppakkery – of soos sy nou die dag sê toe sy saam met die plaasmanne hier opdaag: "Ek kom vandag sommer net om vir jou tee te maak sodat jy kan skryf." Sy is 'n merkwaardige vrou.
Dit raak nou die dag laat. Die son begin al soos 'n pale ale uittap. Die ouens draai nog op die lande en ek vat vir Lizzy terug dorp toe, want sy moet by die huis kom; sy versorg haar siek suster. Ek ry deur die gehawende ou dorpie van my jeug, met sy vullis en rondloperbokke, na die woonbuurt aan die ander kant waar Lizzy in een van die pienk Hop-huise met 'n perskeboom woon.
Op pad terug kom daar 'n gevoel by my op wat ek nie heeltemal kan vasvat nie. Ek luister na Beethoven se Simfonie nr. 7 in A majeur, en trane prik in my strot. Dit is nie verlange nie of melankolie nie, maar iets anders.
Anderkant lê die berge van Helmond waar my oupa-hulle gewoon het. Regs is die aandrooi-ingang na die kloof waar ons grootgeword het voordat die plase deur die regering onteien is vir die Transkei. Die Indwe-dam is 'n glasplaat. Die drie susters waaroor ons in ons skoollied gesing het, staan nog net so stil op die vlakte. En die eerste liggies van die villages van Macubeni begin doer teen die oorkantse berg flonker.
Ek is dankbaar om hier te wees. Die gevoel wat ek gehad het, dankbaarheid.
Terloops, vinnig ...
Ons het Vrydag 'n tegniese probleem gehad met ons kommentare. Ek moes wag vir Ghost Support in Europa om uit hulle Paas-sluimer wakker te word voordat ons dit in die middag weer aan die gang kon kry. As jy nie kommentaar kon lewer nie, doen tog dit vandag – ons almal sien so uit na die gesprek. Klik hier vir Ali se Vrydag-lugpos en gaan gesels daar saam. As jy vandag op my brief kommentaar wil lewer, klik op "Comment" heel onderaan hierdie skrywe.
Nick Cave se rooi hand
Nick Cave is 'n Australiese musikant, liedjieskrywer, skrywer, akteur en komponis, en veral bekend as die hoofsanger en kreatiewe dryfkrag agter die band Nick Cave and the Bad Seeds, wat in 1983 gevorm is. Maar hy het ook 'n aanlyn platform, The Red Hand Files, waar hy persoonlike vrae beantwoord (volgens hom het hy al oor die 100 000 vrae gekry, wat hy almal gelees het). Hy het 'n geestelike verrekening (spiritual reckoning) ervaar toe sy 15-jarige seun, Arthur, dood is nadat hy by 'n krans afgeval het. Hy verwys na wat daarna gevolg het as 'n "spiritual renovation".
"Our humanness is not given to us. Instead, it requires our participation in its construction and realisation, which often comes about through collapse or calamity. We rummage through the chaos of our inner worlds, through our multitude of selves, to discover what we are, what we wish to be, and our authentic relationship with the world."
Sy raad is so eenvoudig, en uit die hart uit, en soms ook so snaaks en aweregs. Ek hou van hoe onapologeties hy is oor sy soeke na betekenis in die gewone. Ek deel sommer sy nuutste een. Nick is 'n rocker – so, hy skram nie weg van medisinale woorde nie. #justsaying
|
|
Songezo Zibi oor die DA + ANC
'n Paar weke gelede het ek 'n onderhoud gedoen met Songezo Zibi vir my weeklikse News24-rubriek. Die gesprek bly my so by. Zibi is die leier van Rise Mzansi, wat ons almal gedink het veel beter in die verkiesing sou vaar as die twee parlementêre setels wat hulle nou het. Zibi is egter die voorsitter van die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge (Scopa) wat toesig hou oor Suid-Afrika se begroting van R2,6 triljoen, en is, benewens die president, die enigste ander persoon in Suid-Afrika wat soveel instellings en amptenare verantwoordbaar moet hou.
Zibi is die teenoorgestelde van 'n skiet-uit-die-heup-politikus. Hy is deurdag en ernstig. Ek het sy sienings oor die RNE waardevol gevind, want hy is deel van die RNE, maar nie een van die main konyne nie – 'n binne-buite-insig.

Hy sê daar is strukturele probleme met hoe die RNE aanmekaargesit is:
"Die verklaring van voorneme is nie op 'n enkele bladsy deur alle politieke partye onderteken nie. Almal het met die ANC geteken. Dus, die ANC het verskeie ooreenkomste," verduidelik hy. "Dit is moeilik om gemeenskaplike reëls vir betrokkenheid te hê as jy nie inteken op een belofte nie. Die gevolg is 'n onsamehangende koalisie waar Rise en die PA, byvoorbeeld, geen verpligtinge teenoor mekaar het nie. Dit is belaglik. Dit is waarna die president onlangs verwys het toe hy gesê het die reëls van betrokkenheid in die RNE moet versterk word."
Maar bo en behalwe die strukturele foute sien Zibi 'n dieper kwessie: menslike dinamika en politieke volwassenheid.
Eerstens is die gehalte van ons politici baie swakker in vergelyking met die eerste 10 jaar van demokrasie – "die gravitas, die kennis, die erns het verswak," sê hy. Hy noem die BTW-vashakery as 'n voorbeeld en sê dit gaan eintlik net oor R13 miljard wat nie eens 0,5% van die begroting is nie. "En die RNE staan op die rand van ineenstorting hieroor?" vra hy kopskuddend.
Een van die RNE se grootste swakhede is egter die "houdings" van verskeie partye.
"Vir die DA is net die ANC belangrik. Hulle praat net met hulle – niemand anders nie." En dít, sê hy, verander die dinamika van die gesprek, want selfs waar hy potensieel met die DA oor iets sou saamstem, maak dit geen verskil nie, want hy moet die koerante lees om van hulle standpunt te weet.
Die tweede kwessie, sê hy, is dat die ANC soms vergeet dat hulle nie meer 'n meerderheid het nie, en dat die DA nie 'n bywoner in die verhouding is nie.
"Die ANC het steeds 'n probleem om hul nederigheidsvlak in lyn te bring met hulle verkiesingsuitslag." Daar is mense in die ANC wat ongemaklik is daarmee om met die DA saam te werk, om nasionalistiese en ideologiese redes. Hy sê daar is ANC-lede wat onverpoos werk om die RNE te ondermyn. "In KZN hou hulle nie van hierdie reëling nie, en verkies om met MK te skakel sodat hulle kan loot."
Hy hou sy strengste kritiek vir wat hy die DA se "attitude problem" noem. Hy sê dit dra daartoe by dat mense binne die ANC wat politieke kapitaal belê het om 'n koalisie met die DA te regverdig, hulle legitimiteit verloor.
Hy vertel die staaltjie van 'n "slim, intelligente jong DA-man" wat voor sy komitee verskyn en ’n "neerbuigende lesingstoon" het.
"In die debat oor die fiskale raamwerk het hy byna die minister van finansies 'n idioot genoem. Jy kan nie só met iemand praat en verwag om môre 'n ooreenkoms te maak nie. Jy kan net nie. Jy mag verskil, maar jy kan nie beledigend of neerbuigend wees nie. Daardie gedrag skep onnodige wrokke. Dit is onbehulpsaam. Dit beskadig verhoudings. Die RNE ly skade as gevolg van die optrede van beide die groot partye."
Ons het almal meer nederigheid nodig, sê hy. En om land bo party te stel.
Daarmee groet ek.
Mooi loop
Anneliese
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
LOS GOETERS
Kosgoeters
Ek het hierdie week kerrievis gemaak. Die Michael Olivier-resep werk soos 'n bom.
En Sam Linsel se tjoklitkoek. Bak en soetgoed is nie my ding nie, maar almal het 'n eenvoudige geen-flop-resep nodig vir 'n verjaarsdagkoek. En dit moet sjokolade wees. Donker en vogtig. En dié hoë-proteïen-eierslaai (met maaskaas). Tjek ook die lekker White bean puttanesca op Instagram. 'n Mens kan nie te veel idees hê vir blikkies bone nie.

Mooi goeters
Vinegar and Oil
Wrong solitude vinegars the soul,
right solitude oils it.
How fragile we are, between the few good moments.
Coming and going unfinished,
puzzled by fate,
like the half-carved relief
of a fallen donkey, above a church door in Finland.
– Jane Hirshfield
Geegoeters
My vriendin en ou universiteit-koshuisprim, Marguerite van Wyk, is gek oor diere. Sy maak geld bymekaar vir dierewelsynsorganisasies deur tweedehandse boeke te verkoop op Instagram. As jy enige boeke het wat jy kan skenk, kontak haar op Instagram by @bookmargs of stuur vir haar 'n e-pos na margueritevanwyk12@gmail.com. Sy sal reëlings tref om die boeke by jou te kry.
Leesgoeters



Luistergoeters
Hoeka van Marge kry ek hierdie musiekaanbeveling:
Die Einde. Ek gaan nou stap tot by die baken op die berg. ⛰️
Lid kommentare