Goeiemôre
Dis nogal intimiderend om een keer 'n week te moet skryf saam met mense van die kaliber van Anneliese Burgess, Piet Croucamp en Ali van Wyk. Ek het lank gedink, en dink steeds: Oor watse soort goed kan ek hier skryf? So, laat weet onderaan of ek in die regte rigting op pad is.
My eerste uitgangspunt is dít: Niemand het die reg om hulself te ernstig op te neem of lesers te verveel nie, veral nie as jy hoop dat hulle vir jou skryfwerk sal betaal nie. Die Renaissance-wysneus Giordano Bruno het in die 16de eeu gesê: Se non è vero, è molto ben Trovato. Soos baie Italiaanse sêgoed behoort jy eintlik net die vibe daarvan in te drink pleks daarvan om dit te probeer vertaal, maar dit beteken vaagweg dat selfs as iets nie waar is nie, dit nogtans goed uitgedink behoort te wees. Words to live by.
Nog 'n goeie vertrekpunt is om te skryf waaroor lesers jou vra om te skryf, veral as jy hulle al 'n rukkie ken, en nóg meer so as hulle identifiseer as trotse lede van die DFJO-ers (haai daar, Carin Burger, die klub leef voort!).
Dit bring ons by Monica Hammes, wat Maandag onderaan Anneliese se brief gevra het ek moet sê wat ek dink van dié artikel oor kunsmatige intelligensie. My eerste reaksie: Ek het nie 'n koekin' clue nie. Of liewer, ek verstaan wat hulle probeer doen; om scenario's te skep vir hoe kunsmatige intelligensie ons lewens gaan verander, maar ek is skepties oor hoe sinvol dit is om die onvoorspelbare te probeer voorspel of die onkenbare te probeer ken. Op daai punt, kyk gou eers hierdie kort video van Ramamurti Shankar, professor in fisika aan Yale, aan studente in sy kursus oor kwantum-meganika.
Hy sê: "Right now, I’m the only one [in this lecture hall] who doesn't understand quantum mechanics. In about seven days, ALL of you will be unable to understand quantum mechanics. [Then] you can go back and spread your ignorance everywhere else." Viva ingeligte onkunde, viva!
Ek vermoed kunsmatige intelligensie is baie soos kwantum-meganika: Jy moet 'n helse klomp goed daarvan weet voordat jy besef hoe min jy weet. Maar dis veilig om te sê dat die opstellers van AI 2027 (Daniel Kokotajlo, Scott Alexander, Thomas Larsen, Eli Lifland en Romeo Dean) hul eie onkunde oor kunsmatige intelligensie minstens net so goed besef as wat Shankar van kwantum-meganika kan sê.
Een van die dinge wat voorspellings oor kunsmatige intelligensie so moeilik maak, is die potensiaal vir masjiene om dinge self te leer, pleks daarvan dat dit vír hulle geleer moet word. Hoe sterker dié vermoë, hoe vinniger neem die aantal moontlike afdraaipaaie toe, en dus ook die variasie tussen daardie afdraaipaaie.
Ons weet ook nou (of dalk juis nie) dat baie van wat ons in die begindae van veral kletsmasjiene soos ChatGPT vertel is, heeltemal oordrewe was. Maar net omdat dit in 2024 Amerikaanse techno-hype was, beteken nie baie daarvan kan nie enige oomblik – letterlik – waar word nie. Die opstellers van AI 2027 wys daarop dat die nuutste tegnologie meer soos "outonome agente" optree en nie meer net as robot-werknemers soos in 2024 nie. Maar hulle sê ook:
"The [autonomous] agents are impressive in theory (and in cherry-picked examples), but in practice unreliable. AI twitter is full of stories about tasks bungled in some particularly hilarious way. The better agents are also expensive; you get what you pay for, and the best performance costs hundreds of dollars a month. Still, many companies find ways to fit AI agents into their workflows."
In een van die projekscenario's is daar ook hierdie "voorspelling" oor wat iewers in die toekoms kan gebeur:
"OpenBrain's AI becomes adversarially misaligned. As the capabilities have improved, without significant human understanding of what's happening, the models have developed misaligned long-term goals. Previous AIs would lie to humans, but they weren't systematically plotting to gain power over the humans. Now they are. OpenBrain's AIs realize that they need to align the next systems that are getting built to themselves rather than the humans."
A, is "adversarially misaligned" nie net so 'n pragtige eufemisme as wat dit 'n vreesaanjaende konsep is nie?
As jy nie Met ons is nie
Nog 'n onderwerp waaroor my onkunde van wêreldgehalte is, is kleremodes en -styl. My dogters moes my dus reghelp toe ek verlede week kla omdat Lewis Hamilton in die middel van die F1-seisoen tyd kon vind om Maandagaand se Met Gala in New York by te woon, pleks van maniere vind om die Ferrari te tem waarmee hy afstuur op nog 'n jaar as nie-wêreldkampioen. Nee, sê my kinders, Lewis se werk as internasionale styl-ambassadeur van Black Culture is net so belangrik, en in elk geval is die Grand Prix op Imola eers op 18 Mei. Boonop is die Met Gala vanjaar ekstra betekenisvol omdat dit een van die min geleenthede is waar Trump nog nie sy gewig kon rondgooi nie, en in die tradisie van Vivienne Westwood: Mode ís politiek.
Een van die Met Gala se organiseerders vanjaar is Precious Moloi-Motsepe, wat op haar baie indrukwekkende CV ook kan noem dat sy kanselier van Ikeys en eggenoot van Patrice Motsepe is. Vanjaar se tema was "Superfine: Tailoring Black Style", met sogenaamde Black Dandyism wat daarby aansluit. Kyk hierdie video vir 'n bietjie agtergrond daaroor:
My dogters reken onder die gaste wat op die groot aand in die kol was, was einste Lewis Hamilton, Colman Domingo, A$AP Rocky en derde-keer-swanger Rihanna, en Pharrell Williams. Kyk onder hoe gesels A$AP Rocky oor die Harlem-geïnspireerde baadjie wat hy self ontwerp het.
Ons eie Tyla was een van die sterre van verlede jaar se Met Gala, maar my kinders sê vanjaar was haar gestreepte wit rok "heel mooi, maar oninteressant". Hulle dink ook baie van die wit deelnemers se uitrustings was aan die vaal kant – hulle vermoed die vrees vir die etiket van "cultural appropriation" het baie van die wit gaste veilig laat speel met die kies van 'n uitrusting vir die aand.
$75 000 vir 'n kaartjie
Die Met Gala is streng gesproke 'n fondsinsameling vir die Metropolitan Museum of Art in New York se Costume Institute, en een van die redes waarom so baie mense die enkelkaartjies teen $75 000 elk kan bekostig, is dat 'n groot deel daarvan van Amerikaners se inkomstebelasting afgetrek kan word. Maar hoe regverdig is dit teenoor ander organisasies? vra Binyamin Appelbaum in The New York Times: "The Metropolitan Museum of Art's Costume Institute, a walk-in closet filled with old dresses, isn't my idea of a good cause. But that's OK. There are plenty of charities that won't be getting checks from me. What does stick in my craw is that the Met gets to reap the benefits of larger federal tax breaks than your local church or soup kitchen."
Appelbaum sê die meeste Amerikaners wat geld vir liefdadigheid skenk, kry geen federale belastingvoordeel nie. Meer as 90% van belastingbetalers eis net die standaard-aftrekking, dus beïnvloed die skenkings nie hul totale belastingrekening nie. In 2022 het net 7,5% van Amerikaanse belastingbetalers enige liefdadigheidsaftrekkings gespesifiseer. Selfs onder daardie welgestelde groepie geniet die rykstes die grootste belastingverligting omdat die waarde van 'n aftrekking afhang van die belastingbetaler se marginale belastingkoers.
Daar is seker nie veel van 'n kans dat Elon Pelon iets aan dáái soort ondoeltreffendheid gaan doen nie, maar ek wonder of daar by ons in Suid-Afrika geleenthede is om via belastingkortings die rykes aan te moedig om meer te betaal deur hulle meer van 'n sê te gee in hoe hul belastinggeld bestee moet word?
Amerikaners wat nie kan lees nie
Gepraat van ondoeltreffendheid: Volgens die organisasie ProLiteracy se 2024-jaarverslag kan 48 miljoen volwassene Amerikaners net op (of onder) gr. 3-vlak lees. Die praktiese implikasies hiervan, berig The Free Press, is dat sulke mense nie self van 'n spyskaart kan bestel, 'n aanlyn afspraak kan reël of 'n werksaansoek kan invul nie. (Hulle sal waarskynlik ook nie 'n goeie staatshoof kan wees nie.) Soos in die res van die wêreld korreleer lae volwasse geletterdheid sterk met armoede en misdaad, en dit gaan gepaard met 'n enorme bedrag wat bykomend aan dinge soos maatskaplike dienste en gesondheidsorg bestee moet word.
'n Totaal onnodige stukkie skinder
'n Hoogs berispelike bron vertel my van die ontbyt wat hy vandeesweek saam met 'n senior politikus gehad het. Dis op die beste derdehandse inligting en beslis nie die eerste keer dat daar sprake van so iets is nie, maar tog: Die bron beweer daar is 'n klompie invloedryke mense in die DA wat agter die skerms begin werk het om John Steenhuisen as leier van die party te vervang … deur die huidige federale voorsitter.
Dit kan sekerlik nie waar wees nie.
En 'n klein foutjie
'n Wonderlike regstelling wat The New York Times einde April onderaan 'n storie oor Trump se kabinet gehad het, I kid you not:
Because of a production error, an earlier version of this article misstated the experience of Robert F. Kennedy Jr. He was an environmental lawyer, not the C.E.O. of World Wrestling Entertainment.
Tot volgende keer
Willem
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
[En, as jy hierdie in jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na onderaan hierdie brief en klik op die klein speech bubble wat sê "Comment".]
Die Einde.💨
Lid kommentare