Goeiemôre
Ek onthou 'n ou legende uit my kinderjare. In die skemeruur van benoudheid het 'n koning besef die oormag buite die tempelmure, aangevuur deur 'n naburige tiran, was te groot en magtig vir sy eie en God se wapenrusting. Die tiran het daarop aangedring dat iemand vir onderhandeling oor die oorgawe uitgestuur word. Hy was net bereid om te praat met 'n boodskapper wat sy taal geken en sy idioom gedeel het, en met wie se idees hy hom kon vereenselwig. Die koning het ná rype bepeinsing een van sy eie vyande, 'n boogskutter wat eens vurig teen hom geveg het, gestuur om 'n vredesboodskap by die tiran te gaan aflewer. Die hofnar was geskok. "Waarom hý?" het hy gevra. "Omdat net iemand wat al sy pyle op my gerig het, nou 'n ander kan oortuig om nie te skiet nie," het die koning gesê.
Nuwe ambassadeur
Van my kollegas by die universiteit en ook sommige joernaliste is minder entoesiasties oor berigte in die Sunday Times dat president Cyril Ramaphosa dit oorweeg om 'n wit, Afrikaanse man as Suid-Afrika se ambassadeur in Washington aan te wys. Ek, daarenteen, dink dit kan dalk net 'n strategiese en goeie besluit wees. Dit was Evita Bezuidenhout wat reeds in die 1980's, in Pieter-Dirk Uys se verhoogstuk Adapt or Dye as die ambassadeur van Bapetikosweti sou gesê het: "Black may be beautiful, honey, but white still makes the rules." As dit al is wat ons vir eers uit die Trump-administrasie se hare sal kry, laat dit so wees. Hopelik keer Amerika oor vier jaar terug na 'n meer voorspelbare en redelike regime.
Maar vir die hede: Strydig met hierdie en ander algemene opinies of mites dink ek Donald Trump is 'n voorstander van identiteitspolitiek, en 'n wit, manlike Afrikaner sal dalk net tot hom spreek, iets wat die regering van nasionale eenheid (RNE) die geleentheid sal bied om te heronderhandel oor die ANC se ononderhandelbare ideologieë.
Dit is onvanpas om die "leader of the free world" 'n rassis te noem en ek volstaan dus met die mening van die reaksionêre filosoof wat in vae terme op RSG na Trump verwys het, maar wat ek verstaan het as die noodwendigheid van 'n "post-idealistiese era", oftewel, die herstel van Kallie Kriel se wit werklikheid. Soos CNN se aanbieders graag sê: "In the White House, it's all about the optics."
Primitiewe instinkte
As daar 'n Suid-Afrikaner in Washington opdaag waarmee Trump hom nié kan of wil identifiseer nie, sal ons verhouding met die Withuis net nog verder versleg. Dis nou as so iets enigsins moontlik is. 'n Wit, Afrikaanse, manlike slagoffer wat nié lid is van die ANC nie, en wat sy plek ken, min sê en die Amerikaanse Kongres se swart koukus vermy, behoort Trump se primitiewe instinkte te kalmeer. Wat 'n merkwaardige wending van die geskiedenis is dit nie. Die ANC, gesmee in verset teen apartheid, moet nou steun op 'n denkbeeldige identiteit uit daardie era om 'n gewillige gesig met 'n plooibare wil aan die Trump-administrasie te bied.
Volgens na wat die Sunday Times as "onberispelike regeringsbronne" verwys, het die president Roelf Meyer, Marthinus van Schalkwyk, Andries Nel en Gerhard Koornhof op sy kortlys om ons geloofsbriewe na Washington te neem. Dié vier Afrikanerkandidate is nie net tegnokrate nie – hulle is embleme, belaai met generasies se betekenis. Nel en Koornhof is stoere lede van die ANC. Nel was saam met my op universiteit en daar was nooit twyfel oor sy politieke oortuigings nie; hy is gebore in die skoot van 'n politieke bevryding.
Meyer (77) staan altyd gereed vir 'n megataak, al is hy dalk reeds effens bejaard. Hy was Ramaphosa se Nasionale Party-eweknie tydens die Kodesa-onderhandelings in die vroeë 1990's en hulle het 'n sleutelrol gespeel om die gesprekke deur verskeie krisisse te lei, tot en met die euforie van die oorgang na demokrasie in 1994. Ek verstaan dat dié twee here aanvanklik om verstaanbare redes noue bande gehad het, maar mettertyd het Ramaphosa minder gereeld op Meyer se oproepe gereageer. Daar is nie 'n dramatiese breuk nie, die energie tussen hulle registreer maar net so-so.
Vat dit kalm
Van Schalkwyk het al diplomatieke diens gedoen in Nieu-Seeland en die Bahamas, die Here alleen weet hoekom. Ek verneem sy ANC-lidmaatskap het verval, maar kan baie maklik hernu word. Terloops, hy was een van my eerstejaardosente en het my eendag vermaan omdat ek in sy klas gegaap en my uitgestrek het. Die hoof van die departement het my later ingeroep. "Marthinus het eksepsie geneem," het hy met 'n verskonende glimlag gesê. Nadat die proffie my gekruide antwoord uitgeluister het, is ek gemaan om dit "kalm te vat" in Van Schalkwyk se klasse.
By geleentheid tydens Jacob Zuma se presidentskap woon ek die jaarlikse nasionale ordes by. Zuma stap die saal al wuiwend binne, onder trompetgeskal en applous. Ek neem kennis van die teenwoordigheid van die Progressive Business Forum (PBF) se Renier Schoeman en die man wat die mantel by FW de Klerk oorgeneem het, Marthinus van Schalkwyk. Die twee verwonderde gesigte wat vooroor leun in nederigheid, met biddende hande, in die hoop om Baba se blik te vang, is skaamteloos. Ekskuus, my kroon. Al wat Van Schalkwyk in sy guns het in Ramaphosa se soektog na 'n ambassadeur vir Amerika is dat hy alreeds deur niemand vertrou word nie.
Terloops, Schoeman was seker die mees vrome apparatjik van die apartheidstaat wat daar was. En hy het die laaste dae van sy politieke loopbaan verwyl deur tenderpreneurs aan moontlik korrupte politieke leiers voor te stel by die PBF se galageleenthede. Later op die aand van die nasionale ordes, tydens drankies en 'n aansitete, sê-vra 'n lid van die Noord-Kaap se wetgewer met 'n skalkse glimlag: "Piet, dink jy Marthinus en Renier het kom toustaan vir die Orde van die Skaapkop?"
DEI-adjunkminister
Andries Nel is 'n jare lange ANC-lid en die adjunkminister van justisie in Ramaphosa se kabinet. Om die waarheid te sê, Nel was nog maar altyd 'n adjunkminister van die ANC se DEI (diversity, equity and inclusion). Hy was ook die adjunkminister van grondwetlike ontwikkeling, asook samewerkende regering en tradisionele sake onder Zuma. Nel is 'n goeie mens, só goed dat hy hom nooit sover kon kry om Zuma te kritiseer nie. Sy lojaliteit teenoor die ANC is ondeurdringbaar. Dit sal vir Ramaphosa raadsaam wees om Nel se lojaliteit teenoor die struggle onder die slopemmer in te sleep as hy hom as die volgende ambassadeur in Amerika sou aanstel.
Gerhardus Koornhof is die parlementêre raadgewer van die president en seun van die interessantste NP-minister wat daar was, oorlede Piet Koornhof. Gerhard se vertrouensverhouding met Ramaphosa maak hom die ideale kandidaat vir die pos, maar soms wonder ek of sy lojaliteit nie die blinde kol van sy oordeel is nie. Koornhof sal hom nooit kan distansieer van swart bemagtiging of die Onteieningswet nie. Tog dink ek dit sou raadsaam wees vir die volgende ambassadeur om beide beleide as onderhandelbare filosofiese strewes eerder as "morele regverdigings vir die ongeregtighede van die verlede" te beskryf. Die Trump-administrasie is nié van die denkskool wat apartheid of die onlangse gebeure in Gaza as 'n misdaad teen die mensdom wil verstaan nie. En aldus Jaco Kleynhans van Solidariteit het hy die Withuis reeds oortuig plaasmoorde is 'n politieke komplot om wittes se grond te steel. Trump is dit met hom eens.
Politieke offers
In die groter konteks is daar 'n paar moeilike vrae ter sprake. Dien die ambassadeur in Washington Suid-Afrika se belange – of Trump se ego? Is hierdie vier mans, of dan die finale keuse van die president, diplomate of politieke offers wat die toorn van 'n wêreldmoondheid moet sus? Wat beteken dit vir Suid-Afrika ná apartheid dat wanneer die geopolitieke druk op sy hoogste is, die presidensie terugkeer na identiteite wat eens as simbole van die verlede verwerp is? Dit is mense wat Ramaphosa, aldus Theuns Eloff, stadig maar seker kook in 'n groot Afrika-pot, terwyl die metaforiese skerpioen in Luthulihuis, omdat hy nie anders kan nie, die wit padda steek te midde van die golwe van 'n rivier in vloed.
Daar is 'n historiese parallel waarmee die Amerikaners bekend behoort te wees. Richard Nixon het China in 1972 besoek. Net Nixon, 'n geharde anti-kommunis, het die geloofwaardigheid gehad om verhoudings met Mao se China te normaliseer. "Only Nixon could go to China" is vandag steeds 'n bekende gesegde onder historici wanneer die nalatenskap van Nixon herbesoek word. Sy reputasie het hom gevrywaar van beskuldigings dat hy verraderlike toegewings aan Mao sou maak.
En Trump? Hy is nie Mao nie, maar hy is ewe onvoorspelbaar, impulsief en simbolies. Sy wêreldbeskouing is transaksioneel en oppervlakkig, met 'n sterk sensitiwiteit vir die visuele (oftewel optics). 'n Afrikaner as ambassadeur kan dalk vir hom soos stabiliteit en die visioen van 'n Westerse beskawing lyk. Almal rondom Trump bedank hom vir wie en wat hy is, sy kabinetsvergaderings is 'n orgie van odes en lofprysings aan die tirannieke filosoofkoning. "Het jy onthou om dankie te sê?" is 'n geloofwaardige teregwysing aan die president se besoekers in die Withuis. Wie van ons waarskynlik wit, manlike ambassadeurs sal die maklikste die knie buig om dankie sê?
Ná die vernedering van Ebrahim Rasool se persona non grata-verklaring, is Ramaphosa nou glo oorgelaat aan 'n kortlys van vier – almal afstammelinge van 'n twyfelagtige orde waarteen die ANC jare lank geveg het. Met die uitsondering van Nel, was Ramaphosa en sy kamerade almal eens in die ander drie here se visiere. Aan wie sal Ramaphosa die Orde van die Skaapkop toeken?
Tot volgende week
Piet
Die Orde van die Skaapkop
Noudat dit weer 'n ding is om Afrikaner te wees, kan ons ambassadeur dalk 'n kultuurhistoriese gewoonte met hom saamneem na die Withuis.
My ouma het by geleentheid terwyl ons oorgestaan het by haar suster wat naby Outjo in Namibië geboer het, 'n skaapkop gaargemaak. Ons kleintjies moes in 'n ry staan terwyl ouma ons met 'n teelepel een-een met die inhoud van die kop gevoer het. Wanneer die kop leeg was, het sy dit gestop met pampoen en rys, waarna ons weer in die ry ingeval het.
Die voorbereiding en bak van 'n skaapkop is 'n tradisionele proses wat fyn aandag verg om smaaklik én higiënies te wees. Hier is 'n algemene resep en metode wat in Suid-Afrika, veral in plattelandse en kulturele gemeenskappe, gebruik word om dit gaar te maak.
Bestanddele
1 skoongemaakte skaapkop (gehalveer of heel)
suurlemoensap of asyn, vir skoonmaak
sout, na smaak
swartpeper, na smaak
knoffel, vars of poeier (opsioneel)
roosmaryn of ander kruie (opsioneel)
uie en wortels (opsioneel)
Skoonmaakproses
Skroei: As die skaapkop nog hare het, word dit dikwels eers geskroei met 'n vlam om die oorblywende hare te verwyder.
Skrop: Gebruik 'n skerp mes en warm water met suurlemoensap of asyn om die kop deeglik skoon te skrop, veral rondom die ore, neus en mond.
Spoel: Spoel die kop deeglik af in skoon, koue water.
Voorbereiding
Sout en geur: Vryf die skaapkop met sout, peper en enige ander geurmiddels soos knoffel of kruie in. Laat staan vir minstens 1 uur om die geur te laat intrek; oornag is beter.
Opsioneel: Jy kan gekapte uie, wortels of kruie byvoeg vir ekstra geur as jy dit in 'n oondpan wil rooster.
Bakmetode (oond)
Voorverhit jou oond tot 180°C.
Plaas die skaapkop in 'n oondvaste bak of op 'n rakkie in die oondpan.
Jy kan tinfoelie gebruik om dit mee toe te maak sodat dit nie uitdroog nie.
Bak dit 2,5 tot 3 uur lank, of totdat die vleis sag is en maklik van die been loskom.
Verwyder die tinfoelie die laaste 30 minute sodat die vel lekker bros kan bak.
Sit die kop warm voor, met pap, brood of as deel van 'n tradisionele dis.
Hier is 'n TikTok-demonstrasie om te wys hoe jy skaapkop eet.
Om na te luister
Asof dit nie genoeg is nie, hier is GGD & Reggie B-Skaapkop:
Die Einde. 🐑
Lid kommentare