Op die spoor van 'n sikofantiese burokraat, en R400 miljoen

PIET CROUCAMP word dikwels gevra: Waar kry jy al jou stories oor wat in die binnekringe van ons politiek aangaan? Wie is jou bronne? En hoe weet jy of alles wat jou vertel word waar is? Vir hom is daar nie 'n bloudruk nie, almal doen dit op hulle eie manier.

Op die spoor van 'n sikofantiese burokraat, en R400 miljoen

Dagsê, liewe vriende

(James Phillips het só gegroet op sy 1985-album, Wie Is Bernoldus Niemand?)

Die res van my "medewerkers" ('n ou RSG-term) by Binne+Land meen hierdie nuusbrief moet of hoef nié 'n replisering van my vorige rubrieke te wees nie. Laat weet dus asseblief as my styl nie vir jou werk nie; soos met my morele waardes het ek verskeie opsies.

Ek word dikwels gevra: Waar kry jy al jou stories oor wat in die binnekringe van ons politiek aangaan? Wie is jou bronne? En hoe weet jy of alles wat jou vertel word waar is? Ek gee toe, dit is soms bisar hoe ons wat moeite doen om die politiek en ekonomie te verstaan, agter die kap van die byl kom. Daar is nie 'n bloudruk nie, almal doen dit op hulle eie manier. Maar, ek sal met vertroue sê dat ontleders wat nie 'n goeie begrip van die ekonomie het nie, ook sal sukkel om die politiek te verstaan.

Any case, kom ek vertel 'n ware verhaal wat jou 'n idee sal gee van hoe dit vir my werk.

Ek sit en werk die afgelope Sondag, soos die meeste ander dae wat ek nie op kantoor is nie, by my gewone werksplek in Northcliff, Johannesburg, in dieselfde koffiewinkel waar ek en die oudjoernalis Tim du Plessis mekaar 'n paar weke gelede opgevryf het. Beide ek en hy het die derms van ons gesprek die laaste paar weke in Rapport uitgeryg. Baie joernaliste bring lang ure in koffiewinkels deur – dit is 'n goeie plek om te besin en inligting uit te ruil.

[As jy hierdie op jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na heel onderaan aan hierdie brief en klik op die klein "speech bubble" wat sê "Comment".]

Inside info van 'n vaalseun

Teen seweuur soggens is my ontbyt en koffie meestal reeds gereed. 'n Vaalseun, ek skat so 50 jaar oud, soek versigtig toenadering, geselskap. Hy het so pas van Beyers Naudé se ou Aasvoëlkop-gemeente gekom en is verras dat die "suurgat" wat so dikwels in die media met meningsvormers redekawel langs hom sit en koffie drink, hier waar hy sy croissant met ham en kaas nuttig.

Hy is een van daai oënskynlike kalm geeste wat klein happies vat, en soos 'n herkouer langsaam sluk. Ons gesels meer as 'n uur en hy moet vir die helfte van sy croissant 'n doggy bag vra. Terloops, ek wil nou nie aan die kerk voorskryf nie, maar die nuwe naam van die Aasvoëlkop-gemeente is 'n vervelige, niksseggende NG gemeente Aan-die-Berg. Nee, man! Die naam Aasvoëlkop-gemeente is so histories, veelseggend en betekenisvol. Ek was jare gelede by 'n Aasvoël-restaurant in die Kalahari; my leefwyse in Johannesburg se koffiewinkels laat my altyd aan dié plek dink.

My gespreksgenoot se relaas is aansienlik interessanter as Tim se argument van 'n maand gelede en hy beoefen 'n nering wat my fassineer. Wel, die plek waar hy sy beroep beoefen, is interessant, eerder as wat hy daar doen. Hy werk vir 'n maatskappy wat onlangs deur 'n buitelandse maatskappy oorgekoop is, en hulle oudit Eskom se kragstasies. Hy is klinies en koud in sy kartering van dié nutsmaatskappy se funksionering. Is die woord "nutsmaatskappy" nie mooi nie? Netwerk24 gebruik dit dikwels in verwysing na Eskom.

Ná ons gesprek het ek 'n goeie idee hoekom André de Ruyter minder suksesvol as die huidige groep uitvoerende hoof, Dan Marokane, was. Ek het binne-inligting oor hoe Kgosientsho Ramokgopa, minister van energie en elektrisiteit, berge in die nuwe raad kon versit deur prestasiebonusse terug te bring en só aan te wend dat dit effektiwiteit en goeie bestuur bevorder. Ek weet hoekom die voorsieningskettings wat instandhouding doen en onderdele voorsien – voorlopig – meer bekostigbaar funksioneer. Korrupsie is minstens ten dele hokgeslaan en die noodwendige koste van bemagtigingswetgewing word nou beter bestuur.

Dit, liewe vriende, is hoe mense soos ek en joernaliste weet wat ons weet, én soms ook weet wat ons nie behoort te weet nie. Oukei, ek het ook 'n pel in Ramaphosa se kabinet, 'n paar kennisse in die ANC se uitvoerende komitee en vriende in alles van georganiseerde landbou tot die nasionale vervolgingsgesag. Van my studente is staatsamptenare in belangrike poste en een doen tans 'n doktoraal onder my leiding oor die effektiewe bestuur van energievoorsieners. Ek put ook uit ander waarnemers en kommentators se kennis en bronne en, baie belangrik, uit vriende in die joernalistiek wat daarop staatmaak dat politici mekaar sal ondermyn deur te skinder. Soms leer 'n akademikus meer deur te praat as te lees.

Spanning met Kieswetter

Maar soms val iets ook soos 'n oorryp kaalgatperske in jou skoot. Ná 'n mediakonferensie op 19 Februarie 2025 is Enoch Godongwana, minister van finansies, nalatig genoeg om te vergeet dat die mikrofone by 'n mediakonferensie steeds aan is. In Engels verwys joernaliste daarna as 'n "hot mic". Hy word opgeneem terwyl hy sy frustrasie met die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Edward Kieswetter, uitspreek, wat in die media beweer het as hy meer geld uit die begroting gekry het, sou hy tot R800 miljard se uitstaande belasting kon insamel. "Hy [Kieswetter] maak my kwaad; selfs hier kom hy met hierdie nonsens."

Nou weet almal daar is spanning tussen die tesourie en die inkomstediens. Ek weet nie van jou nie, maar ek vertrou Kieswetter se oordeel meer as dié van Godongwana. En, soos Kieswetter ná die begrotingsrede gespot het oor die voorval: "Ek het R4 miljard daarmee gekry, ek wil ook 'n 'hot mic' hê." Dis nou duidelik dat Kieswetter dit reeds voor die begroting aan Godongwana duidelik gemaak het dat daar miljarde rande rondlê wat deur goeie stelsels en tegnologie ingesamel kan word, maar die finansminister het verkies om die bloeiende werkloses en laer middelklas te martel met 'n verhoogde belasting eerder as om die regte ding te doen.

Hierdie dinge weet almal wat koerant kan lees nietemin reeds. Aanwesig tydens die "hot mic"-voorval was die niksvermoedende direkteur-generaal van die nasionale tesourie, Duncan Pieterse, en die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni. Hoe minder oor Ntshavheni gesê word, hoe beter. Sy behoort eintlik haar tyd in die howe deur te bring, eerder as in die Uniegebou.

Sikofantiese burokraat

Maar op hierdie dag is dit Pieterse, wat met 'n sikofantiese toenadering sweet little nothings in Godongwana se oor probeer fluister, wat my aandag trek. In 'n poging om die minister te please, sê hy: "I’m glad you took the question about the commissioner. You answered it much better than I would have."

Toe ek 10 jaar oud was, het 'n speurder my vir die skoolvakansie uit die kinderhuis geneem en toegelaat om in sy kantoor te sit terwyl hy verklarings afneem van getuies oor alles – van kardiefstalle tot verkragtings. Ek wou vir jare daarna 'n speurder word en was twee maande in die polisie in Windhoek waar ek, sadly, net die skakelbord geantwoord het. Uit my ervaring saam met die speurder het ek geweet gatkruip het kraakbeen vir 'n ruggraat.

As dit kom by verifieerbare inligting soek, is daar niks soos ChatGPT, Grok en DeepSeek nie. Hierdie KI-stelsels maak van 'n ontleder 'n ouskoolse ondersoekbeampte op steroïede. Duncan Pieterse is op 1 September 2023 as direkteur-generaal van die nasionale tesourie aangestel. Voor hierdie aanstelling het hy sedert 2013 in verskeie hoedanighede by die tesourie gedien, insluitend as adjunk-direkteur-generaal vir ekonomiese beleid en vir bate- en lastebestuur. Hy is dus reeds meer as 'n dekade by die tesourie. Een van sy pligte is die implementering van die Geïntegreerde Finansiële Bestuurstelsel (IFMS).

Die IFMS is 'n moderniseringsinisiatief van die Suid-Afrikaanse regering wat daarop gerig is om verouderde en gefragmenteerde stelsels in finansiële bestuur, menslike hulpbronne, salarisadministrasie en voorsieningskettingbestuur deur die hele staatsdiens te vervang. Die projek het sedert sy ontstaan in 2002 verskeie vertragings en uitdagings ondervind, wat gelei het tot 'n hersiene benadering in 2013, bekend as IFMS2. Die IFMS het onder meer 'n IT-kontrak ingesluit wat in 2015 toegeken is en die strewe was om die regering se verouderde finansiële stelsels te vervang. Ten spyte van betalings vir tegniese ondersteuning en instandhouding van IFMS-lisensies, is geen waarde uit hierdie uitgawes verkry nie.

In die 2021/'22-boekjaar het die tesourie 'n gekwalifiseerde ouditmening van die ouditeur-generaal (Agsa) ontvang. Die Agsa het reeds in 2021 die IFMS as 'n "materiële onreëlmatigheid" geïdentifiseer en formeel die tesourie se rekeningkundige beampte in kennis gestel. Toe die kwessie nie opgelos is nie, het die Agsa die saak in Januarie 2022 na die spesiale ondersoek-eenheid (SIU) verwys.

R400 miljoen in die water

Die ondersoek, wat in 2024 voltooi is, se slotsom was dat die IFMS-projek tot vrugtelose, vermorste uitgawes van ongeveer R400 miljoen gelei het – ongeregverdigde uitgawes wat reeds tussen die 2016/'17- en 2021/'22-boekjare aangegaan is. In haar ouditverslag vir 2023/'24 het die Agsa, Tsakani Maluleke, weer bevestig dat die SIU inkriminerende bevindings gemaak het oor die IFMS-projek en daarop gewys dat die IFMS sedert 2016/'17 herhaaldelik uitgewys is vir oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) en vermorste besteding.

Corruption Watch wys in dié tyd daarop dat hierdie kwalifikasie die gevolg is van die tesourie se versuim om R68 miljoen aan vrugtelose, verkwiste uitgawes wat verband hou met die IFMS, aan te meld. Teen Mei 2024 het die SIU sy finale verslag aan die president voorgelê, wat ernstige onreëlmatighede bevestig het. Die nasionale tesourie betwis die SIU se verslag en verskil oor die beweerde verlies van R400 miljoen.

Gatkruip is 'n leidraad

En dan die ontsnappingsroete vir Pieterse, die onbeholpe, sikofantiese burokraat: Die Agsa se oudit vir 2023/'24 vermeld dat daar geen nuwe IFMS-uitgawes in 2022/'23 of 2023/'24 voorgekom het nie, aangesien die projek gestaak is. Dit dien vermeld te word dat die minister by magte is om Pieterse se diens te beëindig, maar hy doen dit nie, want hy vertrou sy onbeholpe direkteur-generaal meer as vir Kieswetter.

Só het gatkruip nog 'n leidraad vir 'n kleinburgerlike speurder geword wat sy beroep in koffiewinkels beoefen.

My gespreksgenoot met die binnekennis van Eskom se kragstasies is besig om te groet toe ek hom vra: "Wat kom eerste, die hoender of die eier?" "Dit moet die hoender wees," sê hy met 'n droë frons. Nee, sê ek, en verwys na die Amerikaanse astrofisikus Neil deGrasse Tyson, wat uitgewys het dat voëls die afstammelinge van 60 miljoen jaar gelede se dinosourusse is, en dat dié reeds eiers gelê het. "Dit moet dus die eier wees." Hy stap twee treë weg, draai om en sê: "Piet, God het die hemel en die aarde geskape."

Ons gesels weer volgende Woensdag

Piet


My aanbevelings

Gedig

Ek wonder altyd wie eerste daaraan gedink het om 'n gedig te skryf. Wie weet, maar hier is 'n beautiful, oeroue ode, "Himne aan Inanna" (of "Inanna en Ebih"), na bewering geskryf deur die Sumeriese hoëpriesteres Enheduanna (2285–2250 v.C.) wat in antieke Mesopotamië geleef het. Enheduanna is blykbaar die eerste benoemde skrywer in die geskiedenis, manlik of vroulik. Diep geestelik en poëties mooi, loof "Himne aan Inanna" die godin van liefde en oorlog.

"Lady of all the divine powers,
Resplendent light, woman clothed in radiance,
Beloved of heaven and earth,
Chosen one of An, you are majestic!"

Om te lees

My wrewel in die Trump-administrasie ken geen perke nie. Ek soek verbete op die horison en in Godswoord na hoop vir 2028 wanneer die volgende verkiesing in Amerika plaasvind. Jo Prins stuur hierdie vir my.

Pap en kaiings

Kos is nie my ding nie – eet tot jou honger weg is, en gaan doen wat jou hand vind om te doen. Behalwe as dit kom by daai eg Suid-Afrikaanse trooskos, pap en kaiings. Hier is die resep.

Bestanddele vir sagte pap

4 k water
1 t sout
2 k mieliemeel (verkieslik wit en grof)
1 e botter (selfs meer as jy wil vir romerigheid; opsioneel)

Aanwysings

Bring die water tot kookpunt in 'n kastrol en voeg 'n knippie sout by.
Roer die mieliemeel stadig in, en roer dan aanhoudend om klonte te vermy.
Verlaag die hitte; laat die pap prut. Plaas 'n deksel op en laat dit 30 tot 40 minute stadig kook. Roer elke 10 minute. Voeg moerse baie botter by.

Bestanddele vir kaiings

500 g spekvet of varkvet (soms in blokkies beskikbaar by slaghuis)
sout na smaak

Maak dan só

Sny die vet in blokkies, as dit nie reeds gedoen is nie.
Plaas dit in 'n kastrol of diep swaarboompan.
Kook die vet stadig oor matige hitte; dit sal begin smelt. Die kaiings raak eers sag, dan begin dit bros raak.
Roer gereeld om te voorkom dat dit vassit of aanbrand.
Wanneer die kaiings goudbruin en bros is, skep dit met 'n gaatjieslepel uit en laat dit op papierhanddoek dreineer.
Sprinkel sout oor terwyl dit nog warm is.

Opdiening

Skep die pap sorgsaam in 'n groot bak, en sprinkel die warm kaiings in ruim maat bo-oor. Eet behaaglik met jou oë toe.

As jy die behoefte ervaar om dit met tamatiesmoor of 'n sous voor te sit, begrawe jouself of kanselleer jou inskrywing op hierdie nuusbrief.

Om te luister

Ek wonder anderdag wat van Bryan Ferry geword het. En toe ontdek ek hy het, soos ek, 'n Dylan-fetisj. Die band het daai rou ritme en briljante klank van 'n garageparty, maar Ferry is Ferry, hy word nie Dylan nie.

Hier's "Just Like Tom Thumb's Blues" (Dylanesque 2007):


Die Einde 🦌


Deel hierdie artikel
Die skakel is gekopieer!

Lid kommentare

Jy mag ook hiervan hou
Lugpos op 'n Saterdag Anneliese Burgess

Dobbel is net 'n jammerlike vermorsing van drinktyd

Dobbel is seker die mees verbeeldinglose manier om 'n bietjie pret te hê, reken ALI VAN WYK. Hy gee vyf lekker televisiekyk-opsies vir die vakansiedae, bak 'n Franse appeltert, maar met kwepers, en maak 'n denkbeeldige draai by 'n wonderlike Armeense komponis.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Woensdag. Piet Croucamp

Ons ambassadeur in Amerika en die Orde van die Skaapkop

'n Wit, Afrikaanse man as ambassadeur in Washington sal dalk net Donald Trump se primitiewe instinkte kalmeer, reken PIET CROUCAMP. En dan deel hy 'n tradisionele resep uit die Orde van die Skaapkop – met iets gepas om na te luister daarby.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Sondag. Anneliese Burgess

In 'n papierboot op 'n stormsee, Nick Cave + Songezo Zibi oor SA

ANNELIESE BURGESS drink tee onder ’n doringboom, vertel oor die rocker Nick Cave se ‘spiritual renovation’ ná sy seun se dood, en deel insigte van 'n gesprek met Songezo Zibi oor die DA, ANC en die siel van Suid-Afrika.
Lees Meer →