'n Rol prima boerewors met skills gebraai op 'n paar droë stokkies onder 'n kameeldoringboom iewers in die Naukluft in Namibië of langs die Molopo in die Kalahari is vir my selfs lekkerder as 'n flertsie Kobe-steak wat voor jou oë deur 'n Japannese meestersjef in New York geblitsbraai is en nog sis en knetter as dit op jou bordjie beland. Bewys my verkeerd, ek dare jou.
Jy weet, Kobe is 'n spesifieke lyn van swart, Japannese Wagyu-beeste. Dis dié wat soms op stal staan en bier drink en daagliks deur Thai-masseuses gemasseer word. OK, ek het daai laaste stukkie sommer opgemaak, maar sommige Wagyu’s word wel in Japan gemasseer, vermoedelik deur groot, harige mans.
Die feit is dat die vleis in die spiere self fyn vet-aartjies het, in plaas van net 'n strook vet op die rand. Die Engelse praat van marbling. Dit maak dié peperduur vleis uiters smaaklik en sappig wanneer jy dit braai.

Hoe dit ook al sy, ek sê 'n stukkie boerewors van Joey's of Groenkloof, met die vet wat nog uitdrup in die veld, is net so lekker, indien nie beter nie. Ek is 'n aktivis daarvoor dat mense na 'n padkos- en selfs 'n padbraai-kultuur moet terugkeer. Ek onthou baie goed hoe die ouens wat direk ná skool ambagte gaan doen het, polisie toe is of in die bank gaan werk het, heel eerste 'n tweedehandse Corolla of Mazda 323 gekoop het, en net daarna 'n Cadac-gasbottel en -braaier wat in die kattebak rondgerol het, sodat daai kêreltjies sekondes nadat hulle langs die Vaaldam gestop het, met 'n bier in die hand kon staan met 'n paar Russians wat sis op die braaiertjie.
Ek sê kom ons pak weer die mandjies met heerlike vars brood, lieflike kase, 'n natterige biltong met 'n strokie vet of 'n mooi salami of chorizo, 'n botteltjie makataankonfyt of groenvye en vars vrugte. Los maar die klipperige frikkadelletjies en die blou kookeiers ... En ja, dit ís so, in sommige provinsies het die piekniekplekke in rommelbesaaide openbare toilette verander, maar kap 'n agterpaadjie en stop iewers in 'n breë padreserwe onder 'n boom.
Jy kan selfs 'n vinnige worsbraai op jou gasbraaiertjie doen (as jy dan nou moet), of op 'n opvoubraaiertjie met regte hout of kole. My opvoubraaiertjie van dun vlekvryestaalplaat is al 10 jaar oud en so gehawend dat ek hom binnekort sal moet vervang. My vrou het dit destyds by Makro of Game gekoop.

Soos enige persoon met Boere- en zef-roots, ry ek dus getrou met my braaiertjie agter in die bakkie. Dis bloot onvergeeflik om sonder tools gevang te word, sou die ideale braaigeleentheid opduik. Al wat jy nodig het, is wors en broodrolletjies. Ek het ook tamatiesous en mosterd iewers in 'n laai in die bakkie.
NS 1. Ek weet nie regtig of die boerewors onder die kameeldoring lekkerder is as die Kobe-beef in New York so straight from the wok nie. As iemand my wil stuur om te gaan vasstel, ek is baie ywerig.
NS 2. Ek gaan nie eens probeer om oor die noorde raad te gee nie, maar hier in die Kaap het ons die laaste paar jaar ons game baie goed ge-up met boerewors. Veral in die noordelike voorstede. Daar is nou Joey's, The Boer & Butcher, The Grounds Meat & Deli en Eatwell Meats in die noordelike voorstede. Almal maak puik boerewors.
Warboel Beeldradio
Twee lekker televisiereekse
Whiskey on the Rocks (Disney+)
Miskien is jy oud genoeg om die internasionale diplomatieke insident te onthou toe 'n Russiese duikboot met kernwapens in 1981 in Sweedse grondgebied gestrand het. Dit was bekend as die "whiskey on the rocks"-voorval; die Swede en Russe het 11 dae lank gespanne na mekaar gestaar. Die skeppers van die reeks, Henrik Jansson-Schweizer en Björn Stein, wou duidelik die minireeks só satiries hou dat dit by die klugtige gedraai het. Leonid Brezhnev (Kęstutis Stasys Jakštas) word as 'n volslae alkoholis uitgebeeld, en met volslae bedoel ek voldagsnotters. Ronald Reagan (Mark Noble), word aan die ander kant as 'n joegaai-maats-cowboy uitgebeeld. Gelukkig besef die bejaarde, flegmatiese Sweedse president, Rolf Lassgård (Thorbjörn Fälldin) en die aanvallige Russiese ambassadeur, Aleksandra Kosygina (Elsa Saisio), dat hulle 'n passie vir skaapboerdery deel. As ligsinnigheid nie jou ding is nie …

Your Friends & Neighbors (Apple TV+)
'n Jolige reeks vir almal wat van hulle komedie aan die donker kant hou. Jon Hamm, vir altyd bekend as Mad Men se Don Draper, is Coop (Andrew Cooper), 'n beleggingsbankier wat sy vrou en werk verloor, en met 'n plan vorendag moet kom om sy reputasie en swierige leefstyl te red. Dis 'n heerlike satire op die soort samelewing waarin wat jy aantrek en ry, veel meer beteken as wat jy is. Vet pret. Die skepper is Jonathan Tropper.

Warboel Chowdown
Chunky chilli-piekel
"Brandrissie" my agterwêreld. Dis 'n chilli.
In 2000 koop ek 'n bottel chunky chillisous by die wonderlike Suid-Afrikaanse maatskappy Banditos, toe hulle nog hulle produkte op 'n vlooimark in Durban verkoop het. Dit was deksels lekker. Dit was nie relish nie, want dit was nie gesmoor nie – dit was juis die rou smaak van die chillies waaroor ek mal was.
Twintig jaar lank het ek die smaak probeer herskep met my eie konkoksie, en toe sien ek hoe Nigella Lawson haar Jumbo Chilli Sauce op televisie maak. Koljanderblare. Dís wat ek gekort het. Dhanya. Cilantro.
Nou, ek wil nie die Derde Wêreldoorlog begin nie, want ek weet 'n beduidende deel van die bevolking het 'n aversie in die smaak van dhanya. Lede van my eie gesin se bene skop styf onder die tafel as hulle net 'n sweempie van daai kenmerkende stinkgogga-reuk kry. Ek meng dit bietjie vir bietjie teen die einde by en stop net voordat die gewone ou se smaakpalet dit as 'n aparte smaak kan onderskei. Dié smaakelement maak die wêreld se verskil.
Skone Nigella se sous is 'n vars een om dadelik voor te sit, maar ek verander dit in 'n piekel deur asyn by te voeg vir 'n bietjie rakleeftyd.

Kry in die hande
2 koppies grof gekapte chillies met net die stingels verwyder (ek gebruik 'n mengsel van jalapeño, Bird's eye en dalk 'n habanero of twee)
2 groot soetrissies (enige kleur); rooster hulle in die oond
2 suurlemoene of lemmetjies (sap en gerasperde skil)
2 skyfies fyn gekapte knoffel
4 eetlepels canola-olie, of olyfolie vir ’n ryker smaak
'n halfkoppie wit asyn (jy kan ook witwynasyn of appelasyn gebruik, na smaak)
2 teelepels sout en 1 teelepel gemaalde swartpeper
’n hand vol vars koljanderblare
Nou maak jy só
Maak die chillies sag. Bring al die chillies (nie die soetrissies nie) in 'n pot koue water tot kookpunt. Sodra dit kook, haal die pot af van die hitte en laat staan 2 minute. Gooi die kookwater af.
Kap fyn. Gooi al die bestanddele, behalwe die koljanderblare, in 'n groot voedselverwerker en kap dit tot die fynheid wat jy verkies. As dit te droog lyk, gooi nog asyn, water of olie by. As die vloeistof bo die chillies uitrys, gooi bietjie vloeistof af. Dit moet klam wees, sonder ekstra vloeistof.
Proe. Gooi bietjies-bietjies koljanderblare by, blend en dan proe jy tot jy daarvan hou. Pas die sout en peper gerus aan. As jy dit soeter verkies, sit bietjie wit suiker by.
Warboel Meubels deur Huisraad Modern
Die Deense styl

Deense kabinetmakers en ontwerpers het ná die Tweede Wêreldoorlog besef soveel mense moes in regeringswoonstelle intrek dat kleiner en goedkoper meubels nodig was. Materiaal was ook skaars en hulle het massavervaardigde laaghout met fineer gebruik, met fantastiese resultate.
Hierdie leerslaapsofa, deur 'n onbekende Deense ontwerper, is 'n tipies mid-eeuse moderne ontwerp. Die bene is dun, die arms pikant en al die lyne is eenvoudig en elegant. Dié een is waarskynlik in die laat 1950's ontwerp en steeds in 'n goeie toestand.

Warboel Wysies
Mozart se klavierkonserte, van die wêreld se mooiste musiek
Sommige mense wat van sogenaamde klassieke musiek hou, sal enige lukraakopname koop, verkieslik die een in die 80%-afslagdrom. Ja, jy kán 'n beroemde opname só opspoor as jy weet waarna om te soek, maar jy gaan waarskynlik meestal minderwaardige opnames deur onbekende musiekmaatskappye kry.
"Maar hoekom sal ek die beste opnames koop? Ek is nie 'n kenner nie en ek luister na Mozart, nie die uitvoerder nie," het ek al gehoor. Net 'n paar dinge oor hierdie komplekse onderwerp. Ons almal se ore ontwikkel nog. Die weergawe wat jou brein as die standaard-uitvoering van die stuk gaan vaslê, is die eerste een, veral as jy baie daarna luister. Met 'n ondergeskikte opname gaan jou brein die foute en swak interpretasie as die konvensionele manier vaslê en sal jy beter opnames as vreemd ervaar.
Onthou dat die meeste komponiste, veral uit die klassieke en romantiese tydperke, die tempo en dinamika van die stuk noukeurig vasgelê het, en dat die aangeduide frasering en lengtes van note en rustekens als 'n groot invloed het as dit reg of verkeerd gespeel word. Die ruimte vir interpretasie is beperk in klassieke musiek, maar dit is daar.

'n Mens wil boonop hê jou geld moet vloei na die mense wat die beste werk doen. Die beste uitvoerende kunstenaars gee meer aandag aan die nuanse in die werk wat die emosionele kompleksiteit en diepte kan ondersteun sodat jy die meeste uit die werk kry, al is dit onbewustelik.
Mozart was by uitstek 'n operakomponis, en het oneindig baie gedoen om opera op 'n hoër vlak te plaas. Wat ook al die historiese korrektheid van Miloš Forman se Amadeus-film was, ek dink hy't die komponis se karakter min of meer reggekry. Wolfgang was iewers tussen 'n wroegende genie, 'n vrolike flankeerder met 'n vulgêre streep, 'n satirikus van die einste mense vir wie hy musiek geskryf het en 'n partytjiedier. Hy was baie duidelik in vervoering oor die uitspattige sopraandivas in Wene, Parys en Milaan, en hulle stemme was pure fantasie.
Naas die stem was die solo-instrument waarvoor Mozart die meeste geskryf het die klavier. Destyds was dit vanselfsprekend dat elke komponis ook 'n bedrewe pianis was, want dít was die harmoniese instrument wat die hele orkes kon simuleer. Hy was dus natuurlik 'n fantastiese pianis en het 27 concerto's vir solo-klavier en orkes geskryf. Slim musiekmense wys gereeld op hoeveel opera sy ander werk beïnvloed het, met pragtige, liriese lyne en dramatiese, akrobatiese passasies, nes vir die soprane.
Die klavier (pianoforte), wat dinamies harder en sagter kon speel, eerder as sy voorganger, die klawesimbel wat dinamies beperk was, was eintlik 'n nuwerige instrument. Dit het Mozart in groot mate leiding laat neem in hoe 'n komponis vir die klavier kon skryf.
As jy CD's of DVD's koop en jy wil nie die hele boksstel koop nie, begin met die laaste volwasse werke – van nommer 19 tot 27. Soos met als het Mozart al op 11-jarige ouderdom concerto's begin skryf en die latere werke is dus veel komplekser.
Daar is drie pianiste wie se Mozart-concerto's ek sal aanbeveel. Die Amerikaanse pianis en dirigent Murray Perahia word allerweë as die koning van Mozart beskou, met sy pragtige helder en akkurate toon. Hy is intelligent, pragtig beheersd en sy uitvoerings is hoogs afgerond. Perahia is amper die perfekte pianis. Sy opname van al die concerto's saam met die Engelse Kamerorkes word as 'n bakenopname gesien.
Die Japannese pianis en dirigent Mitsuko Uchida is 'n bietjie meer na binne gekeer, bestudeerd en selfs meer korrek in frasering, as 'n mens dit enigsins kan glo, teenoor Perahia. Sy het 'n ongelooflike mooi klaviertoon en fraseer soos 'n engel. Anders as Perahia, wat self die orkes gedirigeer het, het Jeffrey Tate hier die Engelse Kamerorkes gedirigeer, wat beteken dat die orkes self meer van ’n karakter in die samespel is.

Die laaste pianis wat ek wil noem, staan eintlik bekend as die wêreld se voorste Bach-pianis. Maar toe het András Schiff, Hongaars-Britse pianis en dirigent, die klavierwêreld verras met Mozart-klavierkonsertopnames saam met die Salzburg Mozarteum onder Sándor Végh. Dié opnames is bekend vir die ongelooflike integrasie van klavier en orkes; wonderlike samespel. Dis van die wêreld se beste musici wat deur Mozart kommunikeer.
Warboel Goeters
Waarvoor ek nou bob spaar
Ons baas, sameroeper, kollega, supreme leader, Anneliese Burgess, stuur vir my dié twee cute-looking braaiertjies om na te kyk – die Weber Go Anywhere-braai. Ek het hulle nog nie self getoets nie, maar ek het waardering vir 'n Weber, want hy gee jou werklik baie meer opsies as net 'n plat braai – jy kan ook vleis in hom rook, jy kan stadig bak, jy kan vinnig bak, jy kan brood bak. Hy kan enigiets doen wat 'n oond kan doen, en meer. Weber gee jou die keuse tussen gas (R4 999) en gewone hout of houtskool (R2 399).

Anneliese reken ons moet ’n debat voer oor die pros en cons van gas teenoor gewone vuur, maar ek dink 'n mens mag gas net gebruik as die polisie jou dreig met arrestasie omdat jy nie op straat mag braai buite Loftus nie, volgens nuwe munisipale ordonnansies. Ek moet ook sê dat hierdie twee braaiertjies vir my bietjie tingerig lyk – ek weet nie of dit die opstoppers van 'n lang safari sal kan hanteer nie.
Die neiging die laaste paar jaar is in die rigting van stewige, lasergesnyde braaiertjies van kwaliteit- vlekvrye staal. Daar is 'n hele klomp in die mark, meestal van klein en plaaslike entrepreneurs. Ek noem net 'n paar.
The Braai Warehouse: Stainless Steel Camp Braai in a Bag. Jou braai-oppervlak is 40 cm x 31 cm en hy slaan op en pas in 'n klein drasak. Sy topkenmerk is dat hy 'n aspan het wat jy kan uittrek om elke dag maklik skoon te maak. As jy hom mooi oppas, gaan hy minstens 10 jaar hou, wat nie sleg is vir R2 499 nie.

KarooBraai: Stainless Steel Seaside Collapsible Braai. 'n Veelsydige produk van hoë gehalte – die vervaardigers beweer hy sal baie lank hou danksy die 3CR12- vlekvrye staal waarvan hy gemaak is. Die braai-oppervlak is 55 cm x 40 cm en die hele ding vou netjies op om in 'n hoek te pas. Duur, maar 'n goeie produk. Die prys, R5 920, reflekteer die kwaliteit van die materiaal en werk.

HotRods: Portable Stainless Steel Braai. Een van die voordele van dié braaiertjie is dat hy maklik heeltemal uitmekaar kan haal en selfs in 'n skottelgoedwasser pas. En hy's lekker uitgedink. Jy kan verskeie potte warm hou terwyl jy braai, hy’t megheftertjies vir staanrib en braaibroodjies, 'n verstelbare rooster en hy pas ook in 'n kleinerige drasak. Die prys, R2 500, is billik.

Warboel Laaste Woord
Die naampies van ons rubriekies
Ons besluit om ons platform en rubrieke met Afrikaanse natuurname te doop het taamlike debat ontlok. Breedweg kan ek sê die opinie van joernaliste met 'n hardenuus- en ondersoekende nuusagtergrond was oorwegend dat dit 'n bietjie te oulik en selfs studentikoos is, terwyl diegene van ons wat 'n draai gemaak het in die wêreld van tydskrifte (al het ons 'n nuusagtergrond), oorwegend ten gunste daarvan is.
Ek werk onder twee name – die platform Binne+Land, wat baie sterk met my resoneer aangesien ek in die eerste plek ’n binnelander is en geneig is om eers na binne te reis, in my eie binneste in, voordat ek na buite reis, die wêreld in. Hel, laat ons nou nie vreeslik diep raak voor die eerste koppie koffie nie. Ek bedoel eintlik maar net dat ek, soos baie ander joernaliste, bietjie van 'n dromer is, en dis nie altyd 'n goeie ding nie, want drome betaal nie water en ligte nie.
Ek is wel ook 'n ywerige reisiger in die ware wêreld. Dit was die laaste paar jaar bietjie moeilik om weg te kom, maar ek begin lewe die oomblik as my bakkie se voorwiele by Noordoewer oor die grens gaan en ek iewers oos kan swaai deur die golwende rooi Kalahari-duintjies. Ek wil nog vele male in Afrika se binneste indinges.
Die naam van my rubriek, Warboel, is ook sommer die naam van my klein mediabesigheid wat ek op die been gebring het: Warboel Media. Dit verwys na die soort intense energie wat betrokke is by my kreatiewe proses (😊), maar ook die relatiewe chaos waarmee dit gebeur. Verder beteken "war" in Engels "oorlog", iets waaroor ek baie lees en dokumentêre kyk, wat ook die konsep 'n harde randjie gee. En laastens "boel", wat ook kan verwys na 'n groot hond met 'n sekere temperament. Al twee hierdie laaste idees is eerder manlik as vroulik, wat aan jou die gedagte wil oordra dat ek graag oor die plek van mans in die wêreld wil skryf. Daar is niks cute daaraan nie, ek hou daarvan.
Die Einde.
Wag, wag, wag, hier's nog drie goed wat jy moet uitcheck:
- As jy verveeld is met als op televisie, kyk weer die twee seisoene van Fleabag op Amazon Prime Video. Dis kort episodes én seisoene, en onverbeterlike televisie. Mag Phoebe Waller-Bridge se naam bly hoog vlieg.
- Jon Stewart se onderhoud met Pete Buttigieg, voormalige vervoerminister onder pres. Joe Biden, is baie insiggewend, net omdat Buttigieg so 'n deeglike en ingeligte politikus is, wat werklik in die taak voor hom belangstel – 'n Hillary Clinton-tipe politikus.
- Doug Stanhope oor nasionalisme, 15 jaar gelede. So relevant soos vandag.
Regtig nou Die Einde. 🐕
Lid kommentare