Goeiemôre
My oupa se weeklikse briewe, wat hy tot en met sy dood op 101 (met toenemend onleesbare spinnekop-handskrif) elke Sondagaand aan ons geskryf het, het altyd begin met 'n gedetailleerde beriggewing oor die week se weer. Hy het rekords gehou van die reënval. In 'n swart notaboekie. Geskryf met 'n potlood wat hy met sy sakmes skerpgemaak het. Gemeet in sentimeters, berig in duime. Boere, hier by ons in elk geval, praat steeds van reën in duime. Ek hou van hierdie eienaardigheid.
Ek het 'n reënmeter in my tuin. Daar het nou die dag byna vier duim oornag geval. As dit so swaar reën, loop daar 'n bruisende stroom deur my tuin. En raak ons reeds min of meer niebestaande toegangspad na Sunrise on Sea nóg slegter.
Ek maak 'n weggooi-stelling in verlede Sondag se brief oor my renons in small talk. "Moenie small talk onderskat nie, dis nie dieselfde as skinder nie," sê Carel Jooste in die kommentaar. "Dit gee soms 'n baie helder indruk van deelnemers se sienings en idees en kan verrassende nuwe insigte oplewer. Vir die oplettende genote."
Ek stem saam. Daar is leë small talk wat net stilte vul. En daar is kwaliteit- small talk wat verbinding en insig smee. Ek hou van small talk oor die weer. Daar is iets diep beskaafd aan weerpraatjies. Of die small talk in 'n plattelandse kroeg of gholfklub as jy as vreemdeling langs die locals inskuif vir 'n dop. Ek doen dit baie as ek op my padreise is. Dit bevredig my joernalistieke curiosity. Ek hou van mense se stories. Ek hou van vrae vra. En ek is ekspert-luistervink ook.
Ek het al meer oor die siel van Suid-Afrika geleer in klein geselsies van ware belangstelling as in die woorde van die slimste media Klugschnacker (die wonderlike platduitse woord vir iemand wat dink hulle weet als – in Hochdeutsch, bekend as 'n Klugscheisser). Daardie alledaagse gesprekke met mense in 'n bankry of by binnelandse sake, of by 'n vendusie of by die verkeerslig of die supermark, of petroljoggies en rylopers (ek maak ’n punt daarvan om mense hier in my agterplaas langs die pad op te laai, juis vir kwaliteit- small talk). Net gister sit ek in die vliegtuig langs 'n verpleegster van Butterworth. Sy vertel my van die bokke en skape wat sy aanhou by haar ouers se huis in Nqamakwe, die geldleenbesigheid wat sy bedryf (sy leen meestal aan ander verpleegsters en hef 20% rente) en haar eksman wat sy uitgegooi het oor sy girlfriends, én sê sy, omdat hy altyd die erf se hek oopgelos het. Sy vertel my ook, toe ek haar vra, oor die kwashiorkor-kinders wat gereeld in die hospitaal opgeneem word. Hongerte is 'n groot probleem op die platteland daar. Ek weet, ek het al daaroor geskryf.
In 'n land soos ons s'n waar daar steeds soveel strukturele verdeeldheid is, is doelbewuste small talk in die spasies wat ons wel deel, 'n waardevolle brug na ’n gedeelde medemenslikheid met ander landsburgers. En, Carel, ek is eintlik 'n spesialis in small talk. Maar nie in sinlose partytjie- small talk nie. Dit maak my moeg.
Wat my terugbring by slaggate.
Laslapkommando's
Vir jare al lap en las die gemeenskap die pad na ons woonbuurt. Eers het 'n boer dit semi-professioneel gedoen met geldelike steun van die gemeenskap. Toe gee hy op toe die bydraes opdroog. Daarna was daar vir ’n ruk 'n oom-en-tannie-span wat met hulle klein bakkie gruis aangery het – en toe nog 'n paar desperate DIY-gemeenskapspogings. Ek het in die vroeë dae van hierdie brief vertel van die geheimsinnige "wit pimpernel" wat jare lank, ná elke groot reën, in die nag rondgery en wit plastieksakke met sand in die ergste gate gegooi het sodat mens dit van ’n afstand kon sien.
Maar elke poging het die probleem eintlik net erger gemaak, want met die reën het die water dieper en dieper onder die teer gepenetreer en groter en groter gate gemaak – dit sou beter gewees het as dit gruispad was, dan kon dit ten minste geskraap word, want wat ons nou het, is 'n teerpad met gate op plekke só diep dat jy jou kar se suspensie stukkend ry.
En die "owerhede"? Ek gebruik die woord doelbewus in aanhalingstekens, want dié van ons wat op die platteland van die Vrystaat, of Limpopo, of Noordwes, of Oos-Kaap woon (en julle in Jozi ook), weet iets wat hulle in die Wes-Kaap nie weet nie. Ons betaal ons belastings en heffings en dienstegelde (myne, sonder elektrisiteit, is by die R2 100 'n maand), en ons is net dankbaar vir enigiets wat ons in ruil kry, wat in ons geval darem vullisverwydering is. Maar dit is min of meer dit. Die gemeenskap hier doen die res self: van sekuriteit tot slaggate. Tien jaar nou al ignoreer "hulle" die verslegtende pad, en doen dit steeds. En in dié vakuum het 'n groepie township-entrepreneurs nou na vore getree. 'n Spannetjie bedrywige ouens (daar is ook 'n vrou met 'n baba in 'n stootwaentjie) van 'n plaaslike nedersetting werk nou elke dag aan die pad – gooi die gate toe met grond wat hulle langs die pad uitgrou – in ruil vir fooitjies wat motoriste sommer so in die verbygaan deur hulle vensters betaal (daar is ook 'n kollekteboksie by die slaghuis).
Verbinding
Die geluk by die ongeluk is small talk. En die gepaardgaande verbinding tussen mense wat andersins nooit met mekaar sou praat nie. Ek sien hoe mense stop om dankie te sê. Nou die dag sien ek iemand laai worsrolletjies en koeldrank vir die span af. Iemand het reflektorbaadjies en verkeerskegels geskenk sodat die ouens sigbaar kan wees. Op die gemeenskap se FB-groep spreek mense hulle dankbaarheid uit, noem hulle van die laslapkommando-lede by die naam, vertel hulle stories van waar hulle vandaan kom. Ek hoor die prêm vir die vrou se baba het iemand vir haar gegee sodat die baba nie in die gras hoef te lê terwyl die mamma werk nie.
Daar is iets so ongelooflik Suid-Afrikaans aan hierdie hele scenario. Die verdwyning van die funksies van 'n staat, die verval, die aanvaarding daarvan. En dan die boer-maak-'n-plan-oplossing wat intree. En die saamtrek. Ons pad is nie die enigste een wat nou hierdie kommando's het wat dit begaanbaar hou nie. Ek sien dit toenemend oral – die "agterste pad" lughawe toe hier van my af loop deur Mdantsane, en ons neem dit soms om spitsverkeer te omseil. Daar werk 'n groot span elke dag met grawe om daardie teerpad, wat nou plek-plek 'n grondpad is, te "patch".
En terwyl dit 'n praktiese vindingrykheid weerspieël, en 'n gods-water-oor-gods-akker aangetjommel waaraan ons almal maar gewoond raak, is dit ook ’n groot, vet simbool van wanfunksie. En natuurlik 'n leë staatskas – of dit nou as gevolg van korrupsie en wanbestuur is of eenvoudig omdat die inkomste van 'n krimpende belastingbasis al hoe breër gesmeer moet word. Die laslapkommando's is ’n organiese oplossing, maar dit is ook 'n probleem. Want so dankbaar as wat ons is, maak dit die slaggate met elke reënbui groter. En met die uitgrou langs die pad is daar nou al hoe dieper slote wat met water opvul wat van die kant af onder die teer inloop en die pad wegvreet. Die oplossing raak deel van die probleem. En Buffalo City-munisipaliteit is geheel en al afwesig.
Pniël se aster-show

Die klein nedersetting van Pniël, in die Dwarsriviervallei tussen Stellenbosch en Simondium, hou elke jaar 'n krisanteskou, en ek het my sake só gereël dat ek gister afgevlieg het Kaap toe en my direk van die lughawe soontoe gehaas het.
Pniël beteken uit "die aangesig van God" en kom uit die boek van Genesis. Die dorpie het in 1843 ontstaan toe 99 persele aan vrygestelde slawe van Boschendal toegeken is en hulle krisante –asters – gekweek het in Pniël. In baie van die historiese bruin gemeenskappe in hierdie geweste is dit 'n lang, trotse tradisie.

Gereelde lesers sal weet van my dahlia-obsessie, maar ek is nou amptelik verlief op krisante ook, die nasionale blom van Japan. Hierdie is nie die pieperige blomme wat jy in kwekerye sien nie, dit is blomme so dramaties en ongewoon dat dit my skoon emosioneel gemaak het.
Maar dit was nie net die asembenemende blomme nie, dit was die hele kleindorpse, plattelandse gees van die skou wat my so aanstaan. Die lieflike kerk met Simonsberg in die agtergrond, die kwekers (meestal ouer ooms in hulle baadjies en dasse), die wenblomme met sertifikate en rosette, die basaarkos.

Die Stellenbosch-tuinbou-en-nywerheidsvereniging is in 1962 gestig met die doel om die grootste, beste en mees perfekte krisante uit beskikbare kultivars te kweek. Pniël het sy eie vereniging in 1981 gestig, en een van die stigterslede, Bernard Mentoor, het hierdie jaar weer twee wenblomme gehad. Hy vertel my dit neem nege maande se werk om by dié dag uit te kom, wanneer net die beste en mooiste blomme in groen bottels op die lang tafels beland. Die kennis om uitstalblomme te kweek is oor die jare oorgedra van stigterslede na die huidige lede. Die lede het geen formele opleiding in tuinbou nie, maar hulle kennis oor hoe om hierdie unieke blom te kweek is aangeleer deur praktiese werksessies by te woon wat deur lede aangebied word. En ek het sommer twee telefoonnommers van kwekers wat vir my steggies gaan gee. Volgende jaar hierdie tyd het ek my eie krisante!
Voor ek groet, hierdie is die laaste Sondagbrief voor ons agter die betaalmuur inskuif. Maar, ek het 'n groot aankondiging. Willem Kempen sluit by ons aan! Hy sal van hierdie week die Vrydag-lugpos behartig (politiek, ekonomie, tegnologie en ander interessanthede). Ali van Wyk skuif na Saterdag. Lekker!
Daarmee is ek uit vir die week.
Mooi loop
Anneliese
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
[En, as jy hierdie in jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na heel onderaan hierdie brief en klik op die klein speech bubble wat sê "Comment".]
LOS GOETERS
Die gróót Sondagrokkie-migrasie
These Butterflies Fly 9,300 Miles to Survive – 'n wonderlike storie in The New York Times. Painted ladies se Afrikaanse naam is Sondagrokkies. Ons ken hulle – Vanessa cardui is een van die mees wydverspreide skoenlappers in die wêreld en kom op elke kontinent behalwe Antarktika voor. Hulle is volop in my tuin.
Een van die mees verstommende migrasies in die insekwêreld is die epiese reis wat die Sondagrokkies tussen Sentraal-Afrika en die Arktiese Sirkel aflê – en dan weer terug. Byna 15 000 km. Een volledige migrasiesiklus van die Arktiese Sirkel af en weer terug benodig tot 10 generasies – die skoenlappers wat Afrika verlaat, is nie dieselfde wat die volgende lente terugkeer nie, dit is 'n skoenlapper-afloswedren. In die lente paar hulle in die Middellandse See-streek en daardie generasie migreer na Noord-Europa in die vroeë somer.
Koningsvlinders (Danaus plexippus) – in Engels monarchs – met hul kenmerkende oranje vlerke met swart are en wit kolle, onderneem ook 'n merkwaardige reis. Die oostelike bevolking reis tot 4 800 km na die Oyamel-dennewoudreservate in Sentraal-Mexiko en die westelike bevolking na die Kaliforniese kus.
Die skoenlappers wat noord vlieg in die lente kan tot vier generasies voortbring voor die laaste generasie, bekend as die Methuselah-generasie, die lang reis suidwaarts aanpak. Hierdie laaste generasie leef ongeveer agt keer langer as voriges – omtrent agt maande in plaas van ses weke.
Koningsvlinders gebruik 'n ingewikkelde kombinasie van die son se posisie, die aarde se magneetveld, en waarskynlik genetiese "herinneringe" om hulle pad te vind.
Daar is ander amazing spesies. Die Bogong-mot van Australië migreer elke lente vanaf die droë vlaktes na die koeler Australiese Alpe, waar hulle in grotte skuil. Die inheemse Aborigines het tradisioneel hierdie motte geoes as 'n voedselbron. En die rooiwynskoenlapper (Vanessa atalanta) trek ook van Noord-Afrika en suidelike Europa na Noord-Europa en terug.
Die migrasies van skoenlappers is vir my so 'n kragtige herinnering aan die ekosisteme tussen kontinente, en die verstommende aanpassingsvermoë van selfs die kleinste wesens op ons planeet. Kyk hierdie video, en wees verstom.
Die filosoof Bertrand Russell se 10 gebooie
1. Do not feel absolutely certain of anything.
2. Do not think it worthwhile to proceed by concealing evidence, for the evidence is sure to come to light.
3. Never try to discourage thinking, for you are sure to succeed.
4. When you meet with opposition, even if it should be from your husband or your children, endeavour to overcome it by argument and not by authority, for a victory dependent upon authority is unreal and illusory.
5. Have no respect for the authority of others, for there are always contrary authorities to be found.
6. Do not use power to suppress opinions you think pernicious, for if you do the opinions will suppress you.
7. Do not fear to be eccentric in opinion, for every opinion now accepted was once eccentric.
8. Find more pleasure in intelligent dissent than in passive agreement, for, if you value intelligence as you should, the former implies a deeper agreement than the latter.
9. Be scrupulously truthful, even if the truth is inconvenient, for it is more inconvenient when you try to conceal it.
10. Do not feel envious of the happiness of those who live in a fool's paradise, for only a fool will think that it is happiness
Gedig
Grense
My naakte siel wil sonder skrome
in alle eenvoud tot jou gaan,
soos uit diepe slaap ons drome,
soos teen skemerlug die bome
opreik na die bloue maan;
gaan met al sy donker wense,
en die heilige, nooit-gehoorde
dinge sê, waarvoor die mense
huiwer, en wat om die grense
flikker van my duister woorde.
N.P. van Wyk Louw
Lees



Luister
Die Einde. 💐
Lid kommentare