Goeiemôre
Ek keer oor en oor terug na die skrywes en gedigte van May Sarton. Ek voel 'n baie, baie diep geneentheid vir dié Belgies-Amerikaanse skrywer. Ek lees die afgelope week weer haar Journal of a Solitude, 'n meditasie oor kreatiwiteit, ons eenheid met die natuur, die moed wat dit verg om alleen te wees, en die groot vraag van die lewe, waarmee ek ook die laaste jare stoei: Wat is die essensie van liefde, as jy die gemeenplasige betekenis daarvan wegkerf? En begeerte – hoekom soek een lyf 'n ander?
"Love remains a mystery. Even after all these years, I don't understand the heart's longing. Perhaps it's enough to accept it, this eternal dance between aloneness and connection."
Journal of a Solitude handel oor 'n jaar in Sarton se lewe, toe sy 60 word en haarself terugtrek om in afsondering in haar huis op die platteland van New Hampshire te gaan bly. Nie isolasie nie, sy sien mense, maar sy ondersoek doelbewus hoe alleen wees haar toelaat om dieper kreatiwiteit en selfkennis te bereik, terwyl sy ook die moeilike emosies en sielkundige stryd konfronteer wat na vore kom in die afwesigheid van gereelde menslike geselskap. Vir Sarton was haar "ware lewe" die proses van nadenke, ontdekking en skepping deur skryfwerk.
"I feel more alive when I'm writing than I do at any other time – except maybe when I'm making love."

Spanning in afsondering
Sy deel insigte in die alledaagse lewe – die klank van reën teen die venster, die kleur van die pienk rose op haar lessenaar, haar tuin, die seisoene, die daaglikse lewe in die dorpie Nelson, boeke, mense, idees en die gedagtes wat kom in alleen wees – soms onwelkom, soos wasem op 'n venster.
Sy ervaar altyd 'n spanning tussen haar behoefte aan geselskap en passievolle verbindings, en die noodsaaklikheid van afsondering, iets wat baie diep met my resoneer.
“There is no doubt that solitude is a challenge and to maintain balance within it a precarious business. But I must not forget that, for me, being with people or even with one beloved person for any length of time without solitude is even worse. I lose my center. I feel dispersed, scattered, in pieces."
Soos gereelde lesers weet, skryf ek nou al lank aan 'n boek – en dit het reeds genoeg vorm gekry om my te laat besef dis 'n memoir. Dit sukkel maar. Ek sê vir Erika, my lankmoedige uitgewer, dat ek nou by die punt gekom het waar ek wil opgee. Dit voel nie meer soos 'n vreugde nie, eerder soos 'n moeisame konfrontasie met myself. Maar met die dissipline van relatiewe afsondering hier op die plaas het ek myself die laaste paar dae weer op 'n spoor gedwing wat my soms na plekke neem waar ek nie eintlik wil wees nie. Sarton stel dit beter as wat ek kan:
"I hope to break through into the rough, rocky depths, to the matrix itself. There is violence there and anger never resolved. My need to be alone is balanced against my fear of what will happen when suddenly I enter the huge empty silence if I cannot find support there."
Eensaamheid as openbaring
Die Britse skrywer D.H. Lawrence se innerlike onrus het hom ook in afsondering toevlug laat soek. Nes die kunstenaar Georgia O'Keeffe was sy gekose landskap die gestroopte, sobere uitgestrektheid van Nieu-Mexiko, toe hy ná die Eerste Wêreldoorlog Amerika toe is.

Ek kom gister op 'n verwysing van hom af waar hy praat van "the petrol fumes of human conversation". (Dit het my laat glimlag. Hoe baie haat ek small talk???)
In dieselfde uittreksel is daar dié wonderlike beskrywing van maanlig as "white and busy and silent".
Ek het terstond sy versamelde gedigte op Kindle afgelaai. So baie van sy gedigte lê in die ruimte tussen eensaamheid as ballingskap en eensaamheid as openbaring. En soos met Sarton is 'n groot tema in sy skrywes die mens se verbintenis met die natuur, maar ook die misterie en krag van menslike begeerte. Lawrence het die nasleep van Victoriaanse preutsheid oor seks uitgedaag:
"Sex and beauty are inseparable, like life and consciousness. And the intelligence which goes with sex and beauty, and arises out of sex and beauty, is intuition."
Hy het die Victoriaanse neiging uitgedaag om verstand van liggaam te skei; intellek van fisieke passie. In 'n roman soos Lady Chatterley's Lover beeld hy seksuele vervulling eksplisiet as genesend en lewensbevestigend uit.
Krag van die erotiese
Die Amerikaanse digter Anne Sexton se digbundel Love Poems (1969) verbind seksuele begeerte met kreatiewe energie. Haar gedigte ondersoek hoe die vroulike liggaam begeerte ervaar, maar ook hoe hierdie ervarings deur die daad van skryf getransformeer word. Vir Sexton was die skryfproses self dikwels 'n erotiese daad – diep persoonlik, onthullend en transformerend.
"Your hands found me like an architect."
"Being kissed on the back
of the knee is a moth
at the windowscreen ..."
"Everyone in me is a bird
I am beating all my wings."
"My nerves are turned on. I hear them like
musical instruments. Where there was silence
the drums, the strings are incurably playing. You did this.
Pure genius at work. Darling, the composer has stepped
into fire."
Afsondering en begeerte

Georgia O'Keeffe word beskou as 'n baanbreker van Amerikaanse modernisme. Haar kunstenaarsloopbaan het oor byna sewe dekades gestrek. Sy het getrou met Alfred Stieglitz, 23 jaar ouer as sy. Stieglitz was een van die mees invloedryke figure in Amerikaanse fotografie en ook 'n baanbreker in moderne kuns. Hulle was saam tot sy dood in 1946, maar het lang tye weg van mekaar gewoon – sy op 'n afgeleë hacienda in Nieu-Mexiko en hy in New York.
Hulle langafstand-huweliksreëling was ongewoon vir die tyd, maar dit het skynbaar vir albei gewerk. Sy het die afsondering (en lig) van die woestyn nodig gehad om kreatief te wees.
Vroeg in hulle verhouding skryf sy hierdie aangrypende brief aan hom:
"One day a hummingbird flew in –
It fluttered against the window til I got it down where I could reach it with an open umbrella –
– When I had it in my hand it was so small I couldn't believe I had it – but I could feel the intense life – so intense and so tiny –
... You were like the hummingbird to me ...
And I am rather inclined to feel that you and I know the best part of one another without spending much time together –
– It is not that I fear the knowing –
It is that I am at this moment willing to let you be what you are to me – it is beautiful and pure and very intensely alive."
Dit spreek so intens tot my. Afsondering en begeerte is soms hout en vuur.
Daarmee groet ek.
Mooi loop
Anneliese
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
[En, as jy hierdie in jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na heel onderaan hierdie brief en klik op die klein speech bubble wat sê "Comment".]
Ons betaalmuur kom nader!
Voordat ek by dié week se aanbevelings kom, wil ek net graag almal daaraan herinner dat ons teen die einde van April agter 'n betaalmuur ingaan. Vir die eerste ruk sal dit 'n vrywillige, oftewel "sagte" betaalmuur wees wat steeds 'n gratis opsie sal hê, maar ek vra solank dat julle julle beursies regskud sodat ons ons skrywers kan betaal. Van volgende maand af nooi ons gasskrywers om vir ons bydraes te lewer. (Daar kom 'n wonderlike kosrubriek van Johan Nel en Jacques Pauw werk aan 'n artikel oor sy onlangse reis in Pakistan.) Ons beoog ook 'n vierde nuusbrief wat wel net vir intekenare sal wees.😉
RANDOM GOETERS
Random song
Hierdie liedjie het die vermoë om my te ontspoor.
Random raad
Jim Harrison was nog 'n groot Amerikaanse digter en skrywer wat inspirasie gevind het in afgeleënheid – in sy geval die woestynlandskap van Arizona. Maar my gunstelingaanhaling van hom kom uit sy memoir:
"The simple act of opening a bottle of wine has brought more happiness to the human race than all the collective governments in the history of earth."
En dan dié uitstekende raad van die Amerikaanse sjef Anthony Bourdain:
"Eat at a local restaurant tonight. Get the cream sauce. Have a cold pint at 4 o'clock in a mostly empty bar. Go somewhere you've never been. Listen to someone you think may have nothing in common with you. Order the steak rare. Eat an oyster. Have a negroni. Have two. Be open to a world where you may not understand or agree with the person next to you, but have a drink with them anyways. Eat slowly. Tip your server. Check in on your friends. Check in on yourself. Enjoy the ride."
Random interessanthede
KI is reeds deel van ons lewe, maar dit is net die begin. AGI, wat soos 'n bomenslike KI is, gaan volgende kom, sê die voorspellers. Hier's 'n baie interessante leesstuk wat 'n soort scenario-voorspelling is van hoe dit die wêreld in net 'n paar jaar kan transformeer: AI 2027
'n Nuttige plek om 'n groot versameling webwerwe en tydskrifte oor verskeie onderwerpe te ontdek: All You Can Read
'n Wonderlike koskaart: Taste Atlas Map
'n Gratis TV-stroomwebwerf met inhoud van oor die wêreld heen: TV Garden
Random resepte
My kosvonds dié week is Jessie Jenkins by @adip_food op Instagram.
Hierdie Whole Roasted Cauliflower with White Miso Beurre Blanc is verruklik – soos alles wat hy kook. En ek wil onmiddellik sy kookboek, Cooking with Vegetables, hê!
En maak sommer ook dié Dirty Martini Spritz.
En kyk na hierdie heerlike resep vir Greek Lemon Chicken + Potatoes.
Random leesgoed




Die Einde. Ek moet nou in die pad val terug huis toe. Het net gou 'n hoenderpaai in Cathcart verslind.☘️
Lid kommentare