Dagsê, dagsê
"Wie is my peetouers?" vra ek vandeesweek op my familie se WhatsApp-groep.
"Jong, jammer, ons kan nie onthou nie. Weet nie of daar iemand was nie," antwoord my ma.
Ek vermoed in die meeste Afrikaanse families is die idee van peetouers meer simbolies as funksioneel, spesifiek die peetpa (of godfather) in 'n seun se lewe. Dit lyk of Protestante dit minder ernstig opvat en dat die godfather-rol meer uit die ortodokse en Katolieke kulture kom, veral in die suidelike Europese en Suid-Amerikaanse lande.
Eerder as bloot die seremoniële rol wat die godfather by die doop speel, dink ek in die rigting van geestelike begeleiding later in die lewe, aan die rol van 'n wyse mentor en ook sielkundige begeleier op gebiede waar seuns huiwerig is om met hulle pa te praat.
'n Italianer het dit só aan my verduidelik: "Dis die oom na wie jy gaan as jou meisie op 16 swanger raak, en jy weet daar sal geen oordeel wees nie. Dis die ou wat jou help om die wêreld te navigeer wat skielik veel uitdagender vir jou gaan raak, en jou in die soort morele kollig gaan plaas waarop jy nie voorbereid is nie. Dit is iemand wat vir jou in die bres tree." Dit veronderstel natuurlik dat jy die geluk van 'n wyse godfather getref het.
Dink aan die duisende Afrikaanse (of enige) kinders wat deur die dekades met ongehude swangerskappe na veroordelende grootmense moes gaan, sonder enige wyse, ouer ondersteunende persoon wat nie oordeel nie. Ek krimp ineen as ek dink aan die pyn waardeur hierdie kinders moes gaan.
Baie Jakarandas, weinig hippies
Wat sou jy anders wou gehad het as jy die lewe kon oorhê? In my geval sou ek meer mentors wou gehad het in 'n wêreld wat ek soms nie eens verstaan het dat ek dit nie verstaan nie.
My ouers, soos baie gewone wit Afrikaners, het die hele kulturele revolusie van die 1960's misgeloop terwyl hulle met gewone studentepret en verskeidenheidskonserttoere in Pretoria, Potch of Bloemfontein besig was. Hulle het nie na The Beatles geluister nie, wat nog te sê van The Rolling Stones of The Who. Hulle het nie dagga gerook of LSD gevat nie, nie die poësie van Allen Ginsberg of die boeke van Ken Kesey gelees nie. Hulle het nooit na Bob Dylan geluister en nie 'n Viëtnam-oorlog gehad nie.
Hulle kon seker so 'n titseltjie meer nuuskierigheid openbaar het, maar ek blameer hulle nie daarvoor nie. My helder omgewingsbewussyn het rondom 1985 geboot, in ’n wêreld wat reeds met 'n generasie en 'n half aanbeweeg het en grondig deur hierdie kulturele revolusie verander is.
Ek het as tiener flieks gesien soos Adrian Lyne se Jacob’s Ladder oor moontlike Amerikaanse chemiese eksperimente op soldate, One Flew Over the Cuckoo’s Nest, oor die rowwe psigiatriese inrigtings in die 1960’s met die konteks van die skrywer, die einste Kesey, se gebruik van LSD, en ook Francis Ford Coppola se Apocalypse Now wat 'n Viëtnam-interpretasie van Joseph Conrad se Heart of Darkness is.
Ek was 'n skrander leser met goeie begrip van literêre tekste, maar het gesukkel met hierdie soort flieks en boeke, bloot omdat die konteks vir my onbekend was. Maar ek het instinktief aangevoel daar het iets belangriks in die wêreld gebeur wat óns opvoeders misgeloop het.
Ek het Cry Freedom by van alle plekke onwettig by 'n kerkselgroep gesien, en hoewel ek dit onmiddellik goed verstaan het, sou ek ook kon doen met gesprekke oor die temas met ouer en wyser mense.
[As jy hierdie op jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na heel onderaan aan hierdie brief en klik op die klein "speech bubble" wat sê "Comment". En as jy 404-moeilikheid het, laat weet.]
Soek daai anderste oom of tannie …
Die een hippie in die familie, my ma se veel jonger broer, het gesê Bruce Robinson se Withnail and I is 'n baie snaakse fliek. Dit was in die 1990’s, ek was 'n student, en ek het die video in die hande gekry vir my en my paar pelle, gewone rugby-sonskyn-en-mooi-meisies-tipe ouens. Hulle het met toenemende verwarring na die poespas op die skerm gestaar. Al wat hulle gesien het, was dronk en dom mense wat rondval. Hulle sou Die Hard veel meer waardeer het.
Ek het gedink dit was vaagweg prettig (en bietjie embarrassing), maar dit was eers 15 jaar later wat ek dit skielik skreeusnaaks gevind het. Ek moes eers die volle anargistiese kulturele konteks van die 1960’s verstaan en dit so 'n bietjie leef om meer van mense se dwaasheid en opportunisme te verstaan. Ek sou op vele sleuteloomblikke in my lewe betekenisvolle gesprekke met ouer en ervare mentors wou gehad het, maar dit was nie beskikbaar nie. Ons skoolvoorligting oor beroepe was in een woord pateties, bedryf deur 'n onderwyser wat veel meer in krieket en 'n getroude vrou in die dorp belang gestel het.
My ma se jonger broer, die hippie wat Withnail and I aanbeveel het, het uiteindelik my regte godfather geword, amper soos 'n wyse ouer broer. Ek was baie gelukkig en weet nie hoe ek sonder hom deur sekere lewensfases sou gekom het nie. Maar hy was ook sy lewe lank 'n anargis en detribalised Afrikaner. Hy was so 'n outsider dat hy nie veel raad kon gee oor goed soos konflik in 'n korporatiewe omgewing of sommige entrepreneuriese vrae nie, behalwe "fok hulle almal" (wat nooit onderskat moet word as goeie raad nie).
Sielkundig het ek egter by hom meer leiding gekry as die meeste mense by life coaches, sielkundiges en psigiaters, wat die afwesige godfathers en ghoeroes in ons families vervang het. Soms is die terapie bloot net dat 'n grootmens dáár is vir jou.
Ons was so pas vier dae in die afgeleë Moordenaarskaroo – ek, die éinste oom en 'n pel van hom, ook in sy sewentigs. Dié vriend het in Pretoria grootgeword en van die eerste kadette-periode af gesien Afrikaner-nasionalisme en Christelik-nasionale onderwys pas nie so lekker by sy toekomsplanne in nie.
Saam het hierdie twee toppies meer gesien en gedoen in die wêreld as enige oud-Broederbonder, Junior Rapportryer of serial-diaken wat ek ken. En hulle hol steeds soos kinders in die veld rond op soek na mooi klippe, San-tekeninge en lieflike vetplantjies.
Bemagtig en respekteer die ouer, wyse manne en vroue in jou familie. Die ghoeroes, godfathers en potensiële mentors, al is party van hulle nogal weird. Hulle wéét shit en kan lewens red.
Groetnis
Ali
E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
Warboel Wegbreek
Ons het 'n lieflike naweekwegbreekplek ontdek, 30 km anderkant Laingsburg in die Moordenaarskaroo. Die plaas se naam is Bloukrans, die Buffelsrivier vloei daardeur en dit het net drie gerestoureerde selfsorghuisies op 1 000 ha: 'n kliphuis, 'n sinkhuis en 'n modderhuis. Ons het in die modderhuis gebly, keurig met klei afgerond. Opvallend was die geweldige dik mure, wat die huisie koel hou in die somer en knus in die winter.

Die kombuis is uitstekend toegerus en die res is daarop gemik om jou van die netwerke af te kry. Hier’s geen Wi-Fi- (net vir noodgevalle by die hoofhuis) of selfoonsein nie; wel 'n kragprop net om ligte toebehore te laai. Die styl van die meubels en ander dekor getuig van fyn smaak en die beddens is luuks. Die plek is vir klippe kyk, vetplantjies en voëls uitken, swem, stap (selfs agter San-tekeninge aan), lees, braai en na die stilte luister. Kry inligting hier.
Warboel TV-reekse
Kerneels Breytenbach, Binne+Land-oudste, praat oor die TV-reeks waaroor almal praat, Adolescence:
Dit is 'n ou slenter waarmee die opsienbarende TV-reeks Adolescence ons betower het. Die reeks se regisseur, Philip Barantini, en sy kamerawiz Matthew Lewis het ons begogel met 'n TV-reeks waarvan die episodes elk in net een lang kamera-opname vasgevang is.
Die fisieke uitwerking hiervan is dat dit voel asof jou oë gevange is. Jy wag vergeefs dat die kameraman en regisseur hulle oë knip, by wyse van spreke, sodat jou oë kan voel hulle is momenteel verlos.

Vier kameraskote – en die hele reeks is geskep nadat daar 10 false starts en bedorwe pogings was. Anders gestel: Die akteurs en/of kameraman het die spoor byster geraak. Dat daar só min daarvan was, getuig van ure se kleedrepetisies vooraf.
Barantini en Lewis het die kuns afgekyk by die fameuse Griekse regisseur Theo Angelopoulos en sy kinematograaf, Giorgios Arvanitis, in The Travelling Players (1975) en The Hunters (1977).
Angelopoulos en Arvanitis het hul benadering geskoei op die baanbrekerswerk van die Franse filmmakers Jean Rouch (Chronique d’un été, 1961) en Chris Marker (Le Joli Mai, 1963). Die twee Grieke het cinéma vérité aangepas vir die filmkuns. Dit behels baie lang skote, waarvoor die regisseur die akteurs se aksies haarfyn vooraf moet choreografeer. The Travelling Players duur meer as vier uur, en daarvoor is net 80 kamerskote benodig.
Die uiteindelike effek hiervan is dat die gehoor sterker betrek word by die emosionele lading van die fliek. En dit is presies wat Barantini en Lewis met Adolescence wou doen.
Uiteindelik dwing dié benadering die regisseur om alles soos 'n buitengewone verhoogproduksie te beplan. Baie tyd word aan repetisies bestee, maar die opnames self is omtrent in real time afgehandel.
Barantini se akteurskeuses was nie altyd sag op die oog nie, maar alles was ondergeskik aan realisme en toneelkuns. Vir die akteurs self was die proses 'n mengsel van vagevuur en uitmergelende ekstase.
En iewers in Barantini se gedagtes, is ek seker, was daar die motivering dat hy sou moes verbeter op Theo Angelopoulos se filmkuns. Ek sal The Travelling Players en Eternity and A Day nooit vergeet nie.
Soos absoluut die geval is met Adolescence. Dít is die nuwe benchmark.
Nog 'n lekker reeks
The Leopard (Ill Gatopardo): Dié reeks is 'n weergawe van die gewildste Italiaanse roman tot dusver, Ill Gattopardo (1958), deur Giuseppe Tomasi di Lampedusa, oor die Sisiliaanse prins van Salina wat deur die groot politieke veranderings van die Risorgimento in die gesig gestaar word. Italië is besig om een land te word, en die Koninkryk van Italië is in 1861 gestig deur mense soos genl. Giuseppi Garibaldi. Sisilië is deur hierdie maalkolk ingesuig, tot frustrasie van die meeste van die eilande se adelstand.
Die tegniese produksie is uitstekend, met baie wat mooi is in Sisilië en Italië op die skerm. Dis ook so verfrissend om soveel nuwe talent te sien, met veral die wonderlike Benedetta Porcaroli wat uitstaan as Concetta, die prins se dogter. Die reeks is nie sonder sy melodramatiese seepopera-elemente nie, maar dit is heerlike kykstof en het my geïnspireer om die oorspronklike roman in die hande te kry, asook Luchino Visconti se 1963-film met Burt Lancaster as die Luiperd.

Warboel Meubels
’n Besonderse art deco-drankkabinet
My ander lewe is in die meubelhandel. Saam met my vrou, Magriet, het ons 'n aanlyn meubelwinkel met meestal mid-eeuse moderne meubels (besoek gerus huisraad.co.za). Die meubels het sulke lekker stories dat ek soms 'n stuk met 'n bietjie inligting sal insluit.

Die wêreld word sedert omtrent 2007 oorheers deur mid-eeuse moderne meubels uit Denemarke en elders in Skandinawië. Daaroor sal ek later baie skryf.
Voor mid-eeuse moderniteit was daar 'n ander moderne styl – art deco, wat nie in almal se smaak val nie. Dis soos Led Zeppelin en Abba. Elke 20 jaar is daar 'n art deco-revolusie. Dit is veel swieriger as die minimalistiese mid-eeuse moderne ontwerpe. Die materiaal het dikwels sterk geometriese patrone, Egiptiese temas, moderne seevaarttemas, temas uit fabrieke om die industriële revolusie te vier, rondings en vertikaliteit. Die Voortrekkermonument in Pretoria en Empire State Building in New York is al twee art deco-ontwerpe.
Hierdie week het ons 'n drankkabinet, 'n meubelstuk wat in die middel van die eeu gewild was, selfs in kantore, waar elke belangrike vergadering destyds gepaard gegaan het met 'n trippelskoot skoon enkelmout wat elegant uit 'n pragtige kabinetjie geskink kon word.
Dié kabinet uit die 1930’s is van knoets-okkerneutfineer (burl walnut) gemaak en het nog die oorspronklike bakeliethandvatsels. Dit is in 'n styl wat "stripped down art deco" genoem is, omdat dit wegdoen met die versierings. Die meeste art deco in Suid-Afrika is in hierdie eenvoudige styl, veral ná die oorlog.
Warboel Wysies
Ontembare Pyotr Ilyich Tchaikovsky
'n Vriendin wat skone kunste studeer het, het destyds gevra of ek van Tchaikovsky hou. Ons was studente en 'n mens het net erken as jy van cool en edgy goed gehou het. Ek dink sy’t gereken sy musiek is te soet klinkend, sentimenteel. Jy weet, balletterig. Dit is die indruk wat 'n mens kry as jy net na Pyotr Ilyich se bekende balletsuites soos Die Neutkraker, Die Slapende Skoonheid en Swanemeer se bekende dele luister en die bykans verspot klimaktiese 1812 Overture. Min komponiste gaan so ver as om 'n regte kanon te laat skiet wanneer dit by fyndraai kom.
Tchaikovsky het egter, nes Mozart, die soort onbevange talent gehad het wat die indruk laat dat hy soms 'n melodie uit 'n geestelike sfeer gaan verlos het waar dit eeue gelê en wag het vir ons gewone aardlinge om te ontdek. Wat Tchaikovsky verder wonderlik maak, is dat hy toegang gehad het tot die hele geskiedenis en tradisie van die Italiaanse, Franse en Duits-Oostenrykse komponiste, maar die ritmes en harmonie van Russiese volksmusiek in sy musiek ingebring het. Hy’t ook toegang gehad tot die wydstrekkende emosies en komplekse temas van die Russiese letterkunde wat juis in sy tyd 'n groot opbloei beleef het. Die "Russiese klank", wat vroeër al deur Glinka, Mussorgsky, Borodin en Rimsky-Korsakov aan die Westerse wêreld bekend gestel is, is deur Tchaikovsky aan meer mense bekend gestel as al die ander saam.
Nes Mozart is dit die toeganklikheid en gewildheid van sy mees komplekse werk wat so 'n groot prestasie is – in baie gevalle die blote skoonheid daarvan. 'n Goeie plek om te begin met sy meer komplekse werke is sy Vyfde Simfonie in E mineur, Op. 64, met sy rykdom van melodieë en temas. Luister ook na die geniale manier waarop hy instrumente kombineer.
Onthou dat Tchaikovsky 'n romantiese komponis was, en dat die uitstorting van groot emosies nou nie juis vir hom 'n probleem was nie – soms was dit selfs brutaal. Dit is dus nie besonder goeie agtergrondmusiek vir 'n gesinsvergadering waar keuses van ontbytpap bespreek word nie – kies dalk eerder 'n vroeë Haydn-simfonie. As dit te over the top vir jou is, moenie onttrek aan kunsmusiek nie. Wag tot ons by die klassieke en barokperiodes kom.
Tchaikovksy se Vyfde Simfonie – Andrew Litton dirigeer die Bergen Filharmoniese Orkes.
As dit egter tot jou spreek, luister sommer dadelik ook na die Sesde Simfonie in B mineur, Op. 74. Die premiere was letterlik dae voor sy dood, wat een van die mees bespiegelde afsterwes van 'n komponis was. Die amptelike weergawe wat deesdae aanvaar word, is dat hy weens cholera gesterf het. Sommige reken egter dat hy verlief was op sy nefie, Vladimir Davydov, dat die emosie in hierdie werk 'n uitdrukking van sy onvervulbare liefde was, en dat hy met opset 'n glas water besmet met cholera gedrink het om van sy lyding verlos te word.
'n Ander weergawe wat in 'n stadium taamlik algemeen as die waarheid aanvaar is ('n universiteitsdosent het dit selfs tydens my studies as die amptelike weergawe in die klas aangebied), is deur die Russiese musikoloog Alexandra Orlova aangehang. Dit is dat agt van Tchaikovsky se klasmaats by die Skool van Regsgeleerdheid 'n spesiale vergadering gehou het waarop die skandaal van sy homoseksualiteit bespreek is, en waar besluit is dat hy moes selfdood pleeg deur homself te vergiftig. Watter weergawe ook al waar is, ons kan aanvaar dat Tchaikovsky se dood op 53 met 'n bietjie empatie, verdraagsaamheid en moderne terapie verhoed kon gewees het.
Bernard Haitink en die Concertgebauw-orkes se weergawe van die Vyfde Simfonie word sterk aanbeveel: Spotify
'n Laaste paar dingetjies wat ek gesien het …
David Remnick se profiel van Leonard Cohen in The New Yorker in 2016. Gaan kyk spesifiek na Bob Dylan se ontleding van Cohen se musiek daar in die middel van die artikel. Verstommend.
En laastens, aan almal wat aan die Oos-Rand of in Vereeniging grootgeword het en al 02:00 in die oggend buite 'n klub rondgehang het, ek bied aan u Troy Sheperds.
Die Einde. En onthou, dis Vrydag. 🍳
Lid kommentare