Waar wen mens deesdae 'n Mazda 323?

ALI VAN WYK se gedagtes loop weer vandag wyd – van Ouvrou Anna-voertuigvering tot lekker kykstof op TV, Rassie se nuwe podsending, die wêreld van Chopin én 'n wonderlike storiekompetisie.

Waar wen mens deesdae 'n Mazda 323?

Heita, lekker mense

'n Vrou van Spar bel om te laat weet ek het 'n R1 000-koopbewys van dié winkel in die Black Cat-grondboontjiebotterkompetisie gewen. Ek dog eers dis 'n simpel vriend met 'n poets, maar net daarna lewer 'n koerier die kaartjie af. Dieselfde aand eet ons gesin dodge-samoesas, generiese pizza en dag oue sushi.

Die enigste ander keer wat ek iets gewen het, was in die Neelsie-kafeteria in Stellenbosch toe Radio Matie se platejoggies twee kaartjies vir die fliek Sarafina! weggegee het. Nadat hulle drie keer die studente gesmeek het om die kaartjies te kom haal, het ek dit maar gedoen. Ek is geleer om nie te mors nie, maar ek het tot nou nog nie Sarafina! gesien nie.

Dis nie meer so maklik om 'n Mazda 323, kisvrieskas of 'n jaar se Johnson's-oorstokkies te wen nie. Met die aanlyn mediarevolusie het die hele bemarkingslandskap verander en kompetisies met groot pryse het gesneuwel.

Spyker was 'n wenner

Toe ek die redakteur was van 'n safari-tydskrif het ons 'n heerlike kompetisie aangebied waarin ons onsself uitgedaag het om 'n voertuig vir R120 000 te koop en dit volledig reg te maak en toe te rus om van Kaapstad tot in Kaïro te kan ry. Ons het ons hele jaar se bemarkingsbegroting net so daarin gestort. Teen die einde kon 'n gelukkige leser die bakkie wen.

Dit was 'n wonderlike kompetisie, want ons het vir mense al die kortpaaie en goedkoop maniere gewys hoe jy dinge kon doen waarop 'n hele gulsige bedryf gebou is om mense se beursies oop te ruk, om dit sagkens te stel. Die 4x4-bedryf is nes die baba- en fietsrybedryf propvol handelaars wat daarop ingestel is om jou te oortuig om duur wit olifante te koop.

'n Bakkie presies nes die een in die storie, Spyker, buite die Britstown-hotel.

Ons het 'n ligblou 1992 Toyota Hilux-dubbelkajuit-4x4 gekoop vir sowat R60 000 en hom Spyker gedoop. Toe't ons hom reggemaak en begin bos-pimp.

Die ooglopende probleem met dié benadering was dat dit die tydskrif se groot adverteerders warm onder die kraag gehad het, want skielik vertel die tydskrif vir sy lesers hulle het nie die adverteerders se duur, onnodige produkte nodig nie.

Die gort was behoorlik gaar toe ons vir mense 'n lekker Brackenfell-toertjie met nuwe vering aanbeveel het. Die ouens in Brackenfell, Kraaifontein en Kuilsrivier in die Kaap het lankal 'n manier uitgepluis hoe 'n mens vir jou bakkie peperduur ingevoerde Australiese vering van hoë gehalte (kom ons noem dit Ouvrou Anna-vering) kon installeer sonder om so baie te betaal.

Vering op 'n motor het twee elemente. Die veer, wat die harde skokke sagter maak, en die skokbreker, wat keer dat die veer nie hard terugskop en jou voertuig laat bons nie.

Die Brackenfell-ouens het uitgepluis jy kon die Ouvrou Anna-vering koop, maar sommer goedkoop plaaslike Gabriel-skokbrekers daarmee saam gebruik, wat net so goed werk teen 'n kwart van die prys. So kry Spyker, die blou bakkie, toe ook die Brackenfell special suspension.


Brackenfell troef Australië

Die uitgawe van die tydskrif was skaars op die rakke toe ons 'n brander van 'n e-pos kry van die invoerder van die Ouvrou Anna-vering om te sê hierdie was uiters onverantwoordelike raad aan ons lesers. Hy't gesê sy produkte was ontwerp om eksklusief saam te werk en hierdie verbastering wat ons aanbeveel het, sou maak dat die bladveer omdop en 'n ongeluk veroorsaak – en dan word hy geblameer. Die man was kwaad.

Die Brackenfell-brigade sweer voor die heelal dat hulle in 10 jaar en oor miljoene kilometers nog geen teëspoed met dié kombinasie gehad het nie.

Hierdie entrepreneur, kom ons sê sy naam was Derrick, was aanvanklik 'n diesel-mechanic van Klerksdorp wat 'n landwye netwerk van winkels met 4x4-toebehore opgebou het danksy die verkope van Ouvrou Anna-vere, 'n hengse treffer onder boere, myne en safari-reisigers.

Die groot probleem was dat sy winkelgroep verreweg ons safari-tydskrif se grootste adverteerder was wat miljoene bestee het. En hy't geen twyfel gelaat dat hy al sy advertensies (meer as die helfte van ons inkomste) onmiddellik sou onttrek nie, tensy ons 'n volle verskoning plaas.

Ek het dadelik my uitgewer (besigheidsbestuurder) wat in daardie stadium in Brasilië was, in 'n e-pos laat weet dat ons grootste adverteerder onttrek het. "Mr Corleone insists on hearing bad news immediately."

Ná 'n paar uur het ek haar bondige, ondubbelsinnige, formele korporatiewe reaksie ontvang: "Fok hom. Stuur hom in sy moer."

Ek was 'n senuagtige nuwe redakteur met 'n jong tydskrif en het besluit om haar voorgestelde kragdadige aksieplan vir eers uit te stel. Ek het dadelik Gauteng toe gevlieg om die situasie te probeer beredder. Ek is op die stoep van die hooftak van die winkelgroep in Edenvale ontvang deur ons tydskrif se advertensie-verteenwoordiger, wat beduidende kommissie sou verloor weens hierdie insident – 'n lang, blonde vrou wat deesdae ook die hoofsanger van 'n stylvolle Afrikaanse band is. Kom ons noem haar Lynette.

Langs haar was die winkelgroep se bemarkingsman, wat in 'n ironie-koeksister 'n versoolde Vrystaatse countrysanger was – kort, joviaal en perserig op die wange. Kom ons noem hom Ernie. Saam is ons na 'n raadsaal agter in die winkel, sonder vensters, met 'n baie groot spoorweg-sleepertafel en sowat 12 stoele wat die vertrek volgelê het soos 'n seekoei in 'n jacuzzi.

Nie groot op briewe nie

Derrick, 'n seningrige kat met 'n kakiehemp vol handelsmerklogo’s vir motoronderdele verskyn toe skielik. En hy gebruik presies genoeg woorde om nie stil te bly nie.

"Dag, praat."

Ek probeer so bondig en eenvoudig moontlik die universeel geldende beginsels van die vrye media verduidelik. Ek verduidelik vir hom die reg wat hy het om vir ons 'n brief te skryf met sy reaksie, en nooi hom om dit te doen, en ek belowe hom om sy reaksie veel meer prominent in die tydskrif te plaas as die aanvanklike artikel wat die moeilikheid veroorsaak het. Ek verseker hom ook dat hy ons net so nodig het as wat ons hom nodig gehad het (hoewel ek geen idee gehad het of dit waar is nie).

Toe ek klaar gepraat het, staar Derrick steeds na 'n punt teen die muur agter my kop wat my kriewelrig maak en my laat voel of ek nou net mooi niks gesê het nie.

Hy bly 'n oomblik stil en toe blaf hy: "As ek 'n fokken brief wil skryf, dan SMS ek my girlfriend." In hierdie stadium is ek onseker of ek wel kan lag, want ek moes toegee dat dit nogal snaaks was, so in 'n Klerksdorp-nichéregister van komedie.

'n Assistent kom op daai punt in met 'n skinkbord met koffie, wat die spanning verlig. 'n Kort tydjie van vriendeliker nonsiespraat volg en toe is dit terug na besigheid.

'Nie vir jou nie, tjom'

Derrick staar weer na die punt teen die muur agter my en sê toe ná 'n swanger stilte vir my: "Ten minste het jy die moeite gedoen om jou gesig te wys." Hy wys met sy vinger na Lynette, ons rep, wat langs hom sit en sê: "Ek sal die advertensies terugbring. Maar vir háár," en terwyl hy stadig sy wysende vinger in my rigting swaai, "en nie vir jóú nie."

Raait, goed, het ek gedink. Sukses is sukses, maak nie saak hoe 'n mens dit behaal nie. My vriend Chris sê altyd: "Niemand het gesê dit gaan maklik wees nie."

Ek is so vinnig as moontlik uit die winkel uit.

Laat dit juig, hierdie naweek!

Ali

Dié rubriek is suiwer fiksie. Enige ooreenkoms met ware persone is blote toeval.

E-pos: hallobinneland@gmail.com
Klik hier vir aanwysings om 'n Binne+Land-web-app op jou foon te skep.
[En, as jy hierdie in jou e-pos lees, en jy wil kommentaar lewer, gaan na onderaan hierdie brief en klik op die klein speech bubble wat sê "Comment".]


'Die hond het my huiswerk geëet'-kompetisie

Wen! Wen! Wen! ('n [Mis]-baksel beskuit)

Raait, Warboel se eerste kompetisie is op hande. Ek soek die beste "Die hond het my huiswerk geëet"-storie wat jy ken. Die beste en mees vermaaklike verskoning vir hoekom iemand nie sy huiswerk gedoen of enige ander opdrag uitgevoer het nie, wat jy al gehoor het.

Plaas asseblief jou storie hier onder in die Kommentaarseksie, maar e-pos dit ook asseblief na ali@huisraad.co.za, met 'n fisieke posadres en telefoonnommer by. As jy sukkel met die kommentaar, e-pos dit net. Die sluitingsdatum is 17 Mei 2025.

Die wenner kry 'n baksel beskuit wat ek met my eie hande gebak het. As dit flop, stuur ek dit ook, maar moenie worry nie, dit sal waarskynlik heel lekker wees.

Ter inspirasie, hier's my beste storie:

Daar was 'n lieplapper saam met my op skool, ou Casper. Hulle het nie werkers op die plaas gehad nie, so hulle het self al die werk probeer doen. Anyway, Casper het vir die Afrikaans-juffrou, mev. Labuschagne, vertel hy't nie tyd gehad om te leer en huiswerk te doen nie. Toe het hy sy boek saam met hom op die trekker gevat toe hy tef* moes gaan baal, en toe hop die trekker só dat sy boek val en toe in die baler ingaan en toe's dit gebaal saam met die tef en iewers in 'n baal en hulle kon nie weer al die bale uitmekaar ruk om die Afrikaanse skrifboek op te spoor nie.

'Jammer juffrou, my boek is gebaal.'

* Tef = Eragrostis tef, William's lovegrass, 'n jaarlikse polgras, kleinste graan in die wêreld, glutenvry en met hoë voedingswaarde, een van die eerste gekweekte plante in die geskiedenis, inheems in Eritrea en Ethiopië, aangeplant in Suid-Afrika as veevoer. 


Warboel Beeldradio

Government Cheese

Apple TV+ | Skeppers: Aeysha Carr en Paul Hunter | Agt episodes

'n Mens kan nie jou opinie halfpad deur 'n reeks klaar vorm nie, maar Government Cheese is beslis die moeite werd om te kyk vir bespreking rondom die aandete-tafel. Dis die storie van Hampton Chambers (David Oyelowo) wat pas uit die tronk vrygelaat is en weer by sy middelklasgesin aansluit. Hy't 'n meesterplan om baie ryk te word uit ’n handboor wat hy ontwerp het – een wat die boorpunte vanself skerp maak. Dit speel in 1969 af en het 'n tikkie Wes Anderson en 'n skoot Coen brothers. Dis onkonvensioneel, onvoorspelbaar en surrealisties, soms geslaagd, soms nie. Rotten Tomatoes gee dit 73%.

David Oyelowo in Government Cheese.

Ibiza Narcos

Showmax | Regisseur: Luke Korzun Martin | Drie episodes

Ibiza Narcos is net vir dokumentêre junkies – moet dit nie verwar met die Narcos-reekse op Netflix nie. Dit vertel die storie van Ibiza, die Spaanse partytjie-eiland in die Middellandse See, vandat die hippies dit ontdek het in die 1960's tot vandag, 'n bestemming oorstroom deur hedoniste. Dit vertel van die aankoms eers van dagga en LSD, daarna Ecstasy en ander partytjiedwelms en uiteindelik kokaïen, en hoe dit die eiland verander het. Dit is 'n uitstekende gevallestudie van hoe 'n dwelm-ekonomie ontwikkel van relatief onskuldige ontspanningsdwelms wat deur hippies verkoop word tot hardekool-straatdwelms wat deur kartelle ingepomp word – en hoe georganiseerde misdaad die hele klubtoneel oorneem. Die dokkie het baie "talking heads", maar die onderhoude is met die regte rolspelers, tot met 'n ware baas van georganiseerde misdaad.

A Complete Unknown

Disney+ | Regisseur: James Mangold | 2 uur 21 minute

James Mangold se hoogs aangeskrewe biorolprent oor die jong Bob Dylan, met Timothée Chalamet, stroom uiteindelik op Disney+. 'n Moet vir rock-, folk- en countryliefhebbers. 

Timothée Chalamet as die jong Bob Dylan en Monica Barbaro as Joan Baez.

Warboel Skunnige Skakels

Rassie en Nick. Lekker, boys!

Rassie Erasmus, Springbok-afrigter, se nuwe podcast, Rassie+, blyk 'n groot sukses te wees, wat effens onverwags is aangesien dr. Erasmus self vroeër gesê het hy sukkel met die media en om voor mense te praat. Kyk na hierdie onderhoud met Nick Mallet. Die simpel strydbyltjies is begrawe en hier praat Suid-Afrika se twee suksesvolste breiers land en sand.

Nick Mallet praat met Rassie Erasmus.

Cheech & Chong … hoe's jou langtermyngeheue?

In my generasie van rokers, brekers, opdrifsels en rockers kan 'n mens skaars die name Cheech en Chong rondom ’n braai sê, dan moet jy wag dat 10 mense eers hulle gunsteling- snaakse stories uit hierdie twee ou daggarokers se flieks en vertonings vertel. Wel, hulle het nog 'n fliek uitgebring, met Chong al diep in sy tagtigs. Cheech & Chong’s Last Movie is 'n nuwe soort dokumentêr, wat tans net in Amerikaanse teaters wys. Sodra daar 'n stroom-opsie in Suid-Afrika is, sal Warboel jou inlig. As ligsinnige stoner-humor uit die eighties jou afsit, hou ver verby!

Intussen kan jy na die Howard Stern-studio se onderhoud met die twee karnallies kyk/luister, of na 'n baie langer, gerookte gesprek met Bill Maher (eindelose strontpratery).

Cheech Marin en Tommy Chong rook nog dat die blou wolke staan.

Warboel Wysies

Frédéric Chopin, deur die gode gestuur vir die klavier

Ek wonder hoeveel kinders met hopelose musiektalent se lyding is verleng deur die vals hoop wat die wêreld ingedra is deur Sparky's Magic Piano (1947), 'n Amerikaanse kinderstorie op langspeelplaat. My ma het die plaat al as kind gekry en nadat ek op nege die eerste keer na die storie geluister het, was ek vasbeslote om binne weke die klavier veel beter te leer speel, met Chopin se pragtige wals in E mineur (op. posth., B. 56) eerste op my lys, en daarna ook sy Revolusionêre Étude (op. 10, no. 12), Beethoven se Maanligsonate (op. 27, no. 2) en sommer ook Rachmaninov se onverbiddelike Prelude in C-kruis mineur (op. 3, no. 2).

Die plaatomslag van Sparky's Magic Piano.

Jy sien, Sparky was 'n seuntjie wat klavierles moes neem en hy't gevoel hy vorder heeltemal te stadig ten spyte van al sy geoefen. Wat die klein wetter toe doen, is om 'n deal te maak met sy klavier, want dis eintlik 'n paranormale kinderstorie met 'n pratende klavier. Die deal was dat die klavier die wêreld se beroemdste klavierstukke baie goed sou uitvoer. En al wat Sparky moes doen, was om sy hande oor die klawers te beweeg en daai weird, melodramatiese goed met sy lyf en gesig doen wat pianiste mos doen. Die klavier het die een Chopin-étude, Hongaarse rapsodie van Liszt en Beethoven-sonate ná die ander uitgespoeg, en almal het gedink Sparky is nét die man.

Maar toe raak Sparky windgat en saam met sy Magic Piano was hy binne 'n week op 'n wêreldtoer. Hy't skoon vergeet hy het aan die Magic Piano belowe dat hy nederig sou bly. Geen spoilers nie, maar Faustus vir kleuters is basies die trant. Pragtig.

Dit gebeur als in Parys

Frédéric François Chopin, wat sedert 20 die meeste van sy tyd in Parys deurgebring het, is een van min komponiste wat byna eksklusief vir een instrument, die klavier, geskryf het, maar ook as een van die grootste komponiste in die geskiedenis gereken word. Ander virtuose wat ook vir hulle eie instrument geskryf het, soos Paganini en sy viool, was as komponiste nie op dieselfde vlak nie, en Liszt, wat 'n klavier-rockster van sy tyd was, het later ook vir ander instrumente geskryf, veral vir die orkes.

Soos omtrent alle groot komponiste was Chopin 'n wonderkind wat as tiener gekomponeer en sy volle musikale opleiding in Warskou voltooi het, voordat hy na Parys vertrek het op 20, waar hy byna die res van sy lewe deurgebring het. Hy was besonder klein van postuur (1,57 m; 45 kg) en volgens alle aanduidings (selfs 'n foto) 'n aantreklike, verfynde man.

Die Switserse fisikus Alain Kohler het gesê hy het hierdie daguerreotipe beeld van Chopin in die privaat versameling van 'n musikant gevind. Dit is glo in 1847 deur Louis-Auguste Bisson geneem. Foto: Institut Polonais de Paris

Al was Chopin 'n virtuoos as pianis, was hy ook 'n skaam introvert, en het hy net sowat 30 keer in sy lewe in die openbaar in groot sale opgetree. Die res van sy uitvoerings was voor groepe vriende in 'n huis, of in die intieme spasie van die salonbyeenkomste van die intellektuele en kunstenaars in Parys. Hy het gereeld gevra dat al die kerse in die kamer uitgedoof word, voordat hy in donkerte gespeel het.

Die musiek wat hy geskryf het, was ideaal vir hierdie soort ruimtes – in baie gevalle is dit delikaat en intiem. Dit het ook sterk Poolse volksmusiekinvloed, veral die danse. Daar is 'n versameling walse, 'n hele kaboedel mazurkas en daar's polonaises. Dan is daar 24 preludes, 24 études (vingeroefeninge vermom as pragtige stukke) en die magiese 21 nokturnes of nagliedere. Daar is 'n hele klomp groot konsertstukke soos die vier scherzo's, die vier ballades, die barcarolle, twee substansiële sonates (konsertstukke met vier bewegings), twee concerto's (konsertstukke met orkes as begeleiding) en nog veel meer.

Die meer bekende foto van Frédéric Chopin, in 1849 geneem deur Louis-Auguste Bisson, 'n paar maande voor Chopin se dood.

Die klavier was nooit weer dieselfde nie

Chopin was die eerste romantiese komponis wat die ekspressiewe moontlikhede van die instrument tot sulke uiterstes geneem het. Die hoeveelheid nuwe klaviertegnieke en speelpatrone en klanke wat van hom af gekom het, het die idees oor dié instrument in 'n nuwe rigting geswaai. As 'n romantiese komponis het hy ook die dinamiese omvang tot die uiterste gebruik, van die mees delikate pianissimo's tot die mees donderende fortissimo's. Hy het sy eie fantasie-klankwêreld geskep wat met geen ander komponis se werk verwar kan word nie.

'n Mens kan ook nie van Chopin praat sonder om van sy 10 jaar lange stormagtige verhouding met die skrywer George Sand (barones Amantine Lucile Aurore Dupin de Francueil) te praat nie. In die 1830's is sy as 'n skandalige vrou beskou omdat sy mansklere gedra het, onder 'n man se naam gepubliseer het (deels om gepubliseer te word) en 'n uitgesproke feminis was, onder meer gekant teen die huwelik. Chopin, aan die ander kant, was 'n fisiek brose man (chronies siek, met onder meer tuberkulose) en in sy musiek duidelik in sterk voeling met sy vroulike kant. Die spanning in sy musiek tussen die heroïes manlike en liries vroulike aspekte is fassinerend, hoewel hierdie soort binêre opposisie deesdae bevraagteken word.

Chopin en Sands het in die somers in haar somerhuis in Nohant gaan bly, waar sy ook probeer help het om hom van sy tuberkulose te genees. Sy het uiteindelik amper voltyds sy verpleër geword, maar die verhouding het in 1847 onder dié druk tot 'n einde gekom. Hy is twee jaar daarna op net 39 oorlede.

Chopin se eerste concerto, in e-mineur (Op. 11) is 'n jong werk - die komponis was 20 toe hy dit gekomponeer het. 'n Wonderlike liriese en ongekompliseerde werk.

Sparky sien sy swart noot

Ek kon uiteindelik al Sparky se stukke speel, meestal so-so. Chopin se wals in E mineur was my go-to stuk as mense by die skool my sover kon kry om op 'n verhoog te speel. My ma, byvoorbeeld.

Een Saterdagmiddag was daar in ons dorpie in die oostelike Hoëveld 'n groot saamtrek van iets soos die Vrouelandbou-unie se dames uit drie omliggende dorpe in ons skoolsaal. Hulle het saam skons, aarbeikonfyt en room by die houervrag verbruik en na 'n spreker of twee geluister, oor etiket, of so iets. Daar was ook 'n pragtige seun wat 'n Chopin-wals vir die tantes kom speel het. Die seun het die vorige dag nuwe klere gekry en 'n kakielangbroek gedra wat te lank was en opgerol moes word, bruin leerskoentjies soos daai wat ryk mans op seiljagte dra en 'n flambojante matrooshemp, so twee nommers te groot. Hy het effe ongemaklik en selfbewus gelyk, ten spyte van sy hare wat swierig geblowdry was.

Die openingsnote en eerste paar temas het glad verloop op die skool se moeë ou regop klavier. Dit was selfs nogal 'n skaflike uitvoering. Van die tantes se oë het toegegaan en 'n vinger het begin saamtik op die ritme. Toe die pianis die pragtige op- en aflopies bereik, die mooiste tema in die stuk, het hy aan die bopunt van die tweede lopie skielik gestop, sy regterhand omhoog gehou met 'n lang, swart houtblokkie daarin, en geproes: "Die B-mol het afgebreek." Dit was 'n los klawer.

Hy het die stuk met bewende hande klaar gespeel, sonder die hoë B-mol se klawer. Die gehoor het daarin gefaal om die humor van die situasie te ontgin en hoflik hande geklap teen die einde terwyl die pianis bewerig gebuig het.


Warboel Chowdown

Slag 'n peer, meneer

Ek beland so 'n paar jaar gelede op 'n perskonferensie van 'n appelmaatskappy waar hulle 'n nuwe variëteit wat hulle ontwikkel het aan wetenskaplikes bekend stel. Ek vra toe vir die chief-appel-induna of hulle nie dalk ook 'n paar nuwe peersoorte ontwikkel het nie. Nee, sê hy, pere is 'n slegte mark. Die mense koop nie pere nie.

Ek was oorbluf. Mense koop nie pere nie? Hoe kan dit wees? Dis een van my gunstelingvrugte. 'n Peer het net een of twee vennote nodig om iets fantasties te word: bloukaas in 'n slaai, kaneel, naeltjies en gemmer in 'n poeding, vanielje en heuning in 'n smoothie.

'n Peersmoothie

Iets wat vinnig en maklik vir middagete gemaak kan word;
die resep lewer 500 ml.

Wat jy nodig het

2 pere, geskil en in stukkies gesny (die lang, bruin pere, Beurré Bosc, werk die beste)
1 piesang, geskil en opgesny (opsioneel; dit gee sagte tekstuur)
3 e wit jogurt (ek verkies volroom eerder as dubbelroom)
½ t vanielje-essens
1 e heuning (of na smaak)
genoeg melk om 500 ml te maak

Nou maak jy só

Gebruik jou staanmenger of handversapper om al die bestanddele in 'n smoothie te verander.

Ekstras wat jy kan byvoeg

Proteïen
1 e grondboontjiebotter
enige proteïenpoeiers of kollageen wat jy in jou dieet gebruik

Vrugte
appels
bloubessies (gevries maak dit nog beter)
aarbeie

Speserye of geurmiddels
kaneel
kardamom
vars gemmer
fyn naeltjies
neutmuskaat
kakao (sjokolade en peer is 'n wenkombo)


Die Einde.🍐


Deel hierdie artikel
Die skakel is gekopieer!

Lid kommentare

Jy mag ook hiervan hou
Lugpos op 'n Saterdag Anneliese Burgess

Dobbel is net 'n jammerlike vermorsing van drinktyd

Dobbel is seker die mees verbeeldinglose manier om 'n bietjie pret te hê, reken ALI VAN WYK. Hy gee vyf lekker televisiekyk-opsies vir die vakansiedae, bak 'n Franse appeltert, maar met kwepers, en maak 'n denkbeeldige draai by 'n wonderlike Armeense komponis.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Woensdag. Piet Croucamp

Ons ambassadeur in Amerika en die Orde van die Skaapkop

'n Wit, Afrikaanse man as ambassadeur in Washington sal dalk net Donald Trump se primitiewe instinkte kalmeer, reken PIET CROUCAMP. En dan deel hy 'n tradisionele resep uit die Orde van die Skaapkop – met iets gepas om na te luister daarby.
Lees Meer →
Lugpos op 'n Sondag. Anneliese Burgess

In 'n papierboot op 'n stormsee, Nick Cave + Songezo Zibi oor SA

ANNELIESE BURGESS drink tee onder ’n doringboom, vertel oor die rocker Nick Cave se ‘spiritual renovation’ ná sy seun se dood, en deel insigte van 'n gesprek met Songezo Zibi oor die DA, ANC en die siel van Suid-Afrika.
Lees Meer →